Kuns

Kunstekaap-uitreikprogram besoek Mamre

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Jitsvinger is vanjaar deel van die Kunstekaap se uitreikprogram in Mamre.  Foto’s: Kunstekaap-teater
Jitsvinger is vanjaar deel van die Kunstekaap se uitreikprogram in Mamre. Foto’s: Kunstekaap-teater

Die Kunstekaap in Kaapstad bied weer vanjaar sy uitreikprogram aan en sal Mamre Primêr, naby Atlantis, op 31 Oktober en 1 November besoek.

Met hierdie jaarlikse konserte kry gemeenskappe blootstelling aan die uitvoerende kunste en dit bied 'n platform om plaaslike talent te vier en te bevorder.

Vanjaar se program sluit in optredes deur die Kaapstad Stadsballet, kontemporêre dans deur die Jazzart-dansteater, jazzmusiek met Ncedeka (N-The Queen) en die hip-hop-kunstenaar Jitsvinger (Quintin Goliath). Die operasangers Janel Speelman en Sipho Qabithole tree ook onder leiding van die musikale regisseur Stefan Lombard op.

Die Kaapstad Stadsballet gaan in Mamre optree as deel van die Kunstekaap se uitreikprogram.
Die Kaapstad Stadsballet gaan in Mamre optree as deel van die Kunstekaap se uitreikprogram.

Plaaslike talent uit Mamre en Atlantis kry ook die geleentheid om op die verhoog te skitter. Een van die hoogtepunte is die Smile Production Band, wie se lede al internasionaal opgetree het.

Nikita Scott, 'n sangeres wat in 'n rolstoel optree, bring ook haar unieke stem na die verhoog, en dien as bewys dat beperkings nooit die kunste kan stilmaak nie, volgens die organiseerders.

Dagvertonings is spesiaal vir skole in die omgewing gereël en bied leerlinge die kans om nie net te sien hoe beroepskunstenaars optree nie, maar om meer te leer van die tegniese kant van teater, beligting en klank.

Die operasangeres Janel Speelman tree in Mamre op as deel van die Kunstekaap se uitreikprogram.
Die operasangeres Janel Speelman tree in Mamre op as deel van die Kunstekaap se uitreikprogram.

Op 1 November om 20:00 is daar 'n vertoning vir die publiek. Die opbrengs van die kaartjieverkope gaan aan Lief en Leed, 'n organisasie wat deur mense met gestremdhede bestuur word en al langer as 20 jaar 'n noodsaaklike ondersteuningsrol in die Mamre-gemeenskap speel.

Marlene le Roux, uitvoerende hoof van die Kunstekaap, sê dat kuns ruimte skep vir samehorigheid en dialoog en gemeenskappe help om nader aan mekaar te leef. Sy voeg by dat dit telkens 'n hoogtepunt is om te sien hoe kinders en volwassenes die betowering van teater ervaar - dikwels vir die eerste keer.

Die kaartjies vir die aandvertoning is beskikbaar by Lief en Leed.

Vir kaartjiebesprekings of meer inligting besoek www.artscape.co.za.

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM