Kuns

Oos-Kapenaar deel in wenprys

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Sinethemba Twalo, ’n Oos-Kapenaar wie se projek in samewerking met Amy Watson, Nina Barnett en Dee Marco as een van die wenners van die Sosiale Impak-kunsprys 2022 aangewys is. Foto: Roelof van Wyk
Sinethemba Twalo, ’n Oos-Kapenaar wie se projek in samewerking met Amy Watson, Nina Barnett en Dee Marco as een van die wenners van die Sosiale Impak-kunsprys 2022 aangewys is. Foto: Roelof van Wyk

Een van die nege wenprojekte van die Sosiale Impak-kunsprys fokus op die Oranjerivier van die Gariepdam tot by Alexanderbaai.

Die wenners van die jaarlikse kunsprys kan nou by die Rupert-museum in Stellenbosch besigtig word.

Dié inisiatief is begin in 2020 deur die Rupert-kunsstigting en lewer 'n waardevolle bydrae tot die sosio-politieke geskiedenis van die land.

Daar is verlede jaar vir die eerste keer ook 'n kunsverblyf ingestel wat in Junie vanjaar in Graaff-Reinet in die Oos-Kaap 'n aanvang sal neem.

Sinethemba Twalo, 'n boorling van Umtata, se inskrywing The Orange River Project, wat hy saam met drie ander kunstenaars - Amy Watson, Nina Barnett en Dee Marco - aangepak het, is een van nege wenprojekte van die Sosiale Impak-kunsprys, wat deur Roelof van Wyk en Hanneli Rupert gelei is.

Sinethemba Twalo en sy span se projek The Orange River Project het onder meer film gebruik om hul reis al langs die rivier te dokumenteer. Foto: Roelof van Wyk
Sinethemba Twalo en sy span se projek The Orange River Project het onder meer film gebruik om hul reis al langs die rivier te dokumenteer. Foto: Roelof van Wyk

Twalo en sy mede-kunstenaars het 'n ekspedisie van die Gariepdam tot in Alexanderbaai voltooi om verhale, belangrike feite en gebeure langs die rivier op verskillende wyses te dokumenteer.

"Die moeilikste deel van die projek was sekerlik die tydsduur daarvan," sê Twalo. "Ek is gewoond daaraan om kunsprojekte in my eie tyd af te handel, maar die projek in 'n korter tydspan het my gedwing om anders te werk te gaan.

"Die hele trip langs die Oranjerivier was werklik 'n kosbare ondervinding; dit sluit nie net die omgewing in nie, maar ook die gesprekke en ontmoetings met soveel mense in."

Twalo, wat onder meer in Qonce (King William's Town) skoolgegaan het, het al in Pretoria, Johannesburg, Duitsland en Switserland gewoon en werk.

Die tema van die Sosiale Impak-kunsprys vir 2022 was klimaatsverandering en die impak daarvan op sosiale verhoudings tussen mense, tussen mense en hul omgewing en tussen mense en die geskiedenis van die omgewing waar hulle woon.

Twalo en sy span se projek het hulle al langs die loop van die Oranjerivier langs geneem waartydens hulle klanke in die natuur sowel as mensgemaakte klanke opgeneem het, poësie neergepen en filosofiese tekste geskryf het.

Hulle het ook rolprente en fotografie gebruik om die stories van die mense wat langs die rivier woon te dokumenteer.

Een van die foto's wat deur Sinethemba Twalo en sy span tydens hul reis al langs die Oranjerivier geneem is. Foto: Verskaf
Een van die foto's wat deur Sinethemba Twalo en sy span tydens hul reis al langs die Oranjerivier geneem is. Foto: Verskaf

Hoewel hulle reeds vooraf 'n roete bepaal het, is daar ook ruimte gelaat vir toeval, afdwaal en verdwaal en vir verrassings wat hulle langs die pad kon teekom.

Damme wat opgedroog het of tot oorlopens toe vol was, dramatiese hidrokrag-beton-infrastrukture, die kragtige samevloei van strome en riviere, vuil kanale, slikverstoppings en geslote sluise was alles deel van hul waarnemings op hul uitsonderlike reis.

Die rivier se naam het net soos die water wat deur die veranderde landskap gevloei het, verander. Dit staan as die Senqurivier in Lesotho bekend; Garieprivier, wat 'n groot rol in die Khoi-gemeenskappe speel; die "koloniale" Oranjerivier wat na die Hollandse prins Willem van Oranje genoem is.

Deur hierdie gedokumenteerde "stories" word die krag van die water se vloei, elektriese krag, ekonomiese krag, politiek gedrewe krag en historiese krag gereflekteer.

Daar is ook gefokus op die ontginning van krag: hidro-elektriese krag wat die nasionale struktuur moet aanvul, landbou- en industriële watervoorsiening, skoon drinkwater en visserye sowel as die geografiese skeidingslyn.

Politieke verhale van belang soos die bou van die Gariep-dam, destyds genoem na die eerste minister H.F. Verwoerd, bekend as die argitek van apartheid; stories van miljoene jaar se geologiese geskiedenis in die gebied; natuurverwante stories van indringerplante; en menslike stories van ou begraafplase wat nou onder water is dra by tot die dringende gesprek oor die krisis om water in klimaatsverandering.

Die kunsprys identifiseer jaarliks kunstenaars wat hul kunspraktyke in sosiaal bewuste omgewings posisioneer en die natuurlike omgewing, die impak van klimaatsverandering op die omgewing en daarom ook die asimmetriese druk op die sosiale verhoudings daarbinne ondersoek.

Dié kunsprojek se doel is om die publiek te laat dink oor die rol wat die mens in die planeet se verandering speel; hoe die mens sy gedrag moet aanpas om die verandering te vertraag; en ook hoe om opnuut binne in die nuwe omstandighede te funksioneer.

'n Borduurwerk van die Mapula Embroidery Project wat die verhaal van klimaatsverandering se druk op 'n groep van 41 vroue wat in Soshanguve woon visueel oordra. Foto: Roelof van Wyk
'n Borduurwerk van die Mapula Embroidery Project wat die verhaal van klimaatsverandering se druk op 'n groep van 41 vroue wat in Soshanguve woon visueel oordra. Foto: Roelof van Wyk

Agt ander projekte het ook toekennings ontvang: Die Mapula-borduurprojek van vroue van die Winterveld wys die invloed van klimaatsverandering op die Soshanguve-gemeenskap; die Listening Garden deur Io Makandal is 'n sogenaamde derde landskap in die middestad van Johannesburg wat die wal van die Jukskeirivier omgeskep het in 'n beeldhouwerk wat dieper denke by die luisteraar prikkel deur net te luister na die "stem" van die water in die kanaal; A Still Life, 'n groepprojek deur Taryn Millar, Sarah Cairns, Aarti Shah saam met Hannelie Coetzee, toon die verhouding tussen die stadslewe, die natuur en spesifieke plekke waar eeu oue bome deur die stompkopkewer (Polyphagous Shot Hole Borer Beetle, PSHB) uitgeroei is; Doba-Dash is 'n 3D-videospeletjie vir kinders van agt tot 12 jaar wat fokus op die straatlopers wat herbruikbare rommel vergader en verkoop. Die speletjie leer die jong mense oor die waarde van rommel wat daagliks deur hulle weggegooi word; E'Plazini is 'n dokumentêre fotoprojek deur Mpumelelo Buthelezi wat daarmee die lewe van 'n jong straatloper se ervarings weergee; Two Tempests deur Bettina Malcomess vertel meer van die Gariepdam se geskiedenis deur film, 'n beeldhouwerk en 'n toneelstuk; KammaKamma deur Abri de Swardt in samewerking met Sarah Jappie en Ronelda S. Kamfer vertel stories uit die omgewing van die Eersterivier by Stellenbosch; en laastens, Pollinator Pathway deur Doreen Gowans bestaan uit 'n tuin by die Rupert-museum wat geskep is om insekte, vlinders en voëls te lok.

Dié tuin dien ook as 'n kreatiewe omgewing vir leerders waar hulle kan teken en skilder.

Met 'n roete wat in Umtata begin, deur Soshanguve en Johannesburg in die noorde strek, al die pad af see toe loop tot aan die Weskus, en wat ná 'n draai in Stellenbosch in Graaff-Reinet tot 'n einde kom, neem 2022 se deelnemende kunstenaars die publiek op 'n waardevolle en kragtige kunsreis.

Die uitstalling kan tot 28 Februarie by die Rupert-museum in Stellenbosch besigtig word.

Stuur e-pos aan Roelof van Wyk by roelof@133arts.com.

Volg die groep op Instagram by @socialimpactartsprizeza vir meer inligting.

Willemien Green

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM