Kuns

Portchie maak blokkettingkuns

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
’n Voorstelling van hoe een van Portchie se Cycling by the Riverside-nieverwisselbare item-kunswerk kan lyk.
’n Voorstelling van hoe een van Portchie se Cycling by the Riverside-nieverwisselbare item-kunswerk kan lyk.

Aanhangers van die Suid-Afrikaanse skilder Portchie kan nou ook een van sy kunswerke teen die mure van hul metaheelal-woonstel hang. Dis nou vandat hy 'n reeks kunswerke as non-fungible tokens (NFT's) of dan nieverwisselbare items beskikbaar gestel het.

Die kunsversameling onder die titel Cycling by the Riverside word gegenereer deur blokkettingtegnologie. Elke kunswerk is uniek en kos tussen R3 000 en R4 000. " 'n Jong vriend, Constand Spies, het vir my gevra of ek weet wat NFT's is," vertel Portchie oor waar die idee ontstaan het. "Ek sê nee en hy verduidelik vir my. Ek snap dit toe en besef my werk sal goed doen daarmee.

Jy weet jong mense woon deesdae in klein ruimtes en het baie min persoonlike spasie. Hulle koop (NFT's) en sit dit op hul TV wat dan rol tussen verskillende kunswerke.

"Jy weet jong mense woon deesdae in klein ruimtes en het baie min persoonlike spasie. Hulle koop (NFT's) en sit dit op hul TV wat dan rol tussen verskillende kunswerke. Of hulle koop 'n groter woonstel in die metaverse en hang NFT's teen die mure of maak selfs 'n kunsgalery daar oop."

Portchie het toe verskeie unieke elemente geskep wat deel kan wees van die skildery. Dis geskandeer en 'n programmeerder het die algoritmes geskryf waarvolgens die kunswerke saamgestel word.

Al die kunswerke speel af teen die agtergrond van 'n pad langs 'n rivier met bome in die agtergrond en blomme voor. 'n Groepie fietsryers ry op die pad verby en hoenders pik langs die rivier. Wat elke keer verander, is hoeveel fietsryers op die pad verby ry, of hulle mans of vroue is en watter kleur hul klere en hare is, hoeveel en watter bome agter staan, die soort en kleur blomme, ook hoeveel hoenders (henne of hane) daar is en daar's selfs 'n kans dat een of twee agterop 'n fiets ry.

Hoewel al die kunswerke uniek is, is sommige seldsamer as ander, vertel Portchie. "Dis 'n lucky packet, maar jy sal die kunswerke met seldsame elemente teen 'n baie hoër prys kan herverkoop."

"Ons het op Portchie se sosiale media 'n peiling gehou om die gunsteling-hoenderhaan te kies," vertel Constand. "Ernie het gewen en hy's gekroon as die skaars haan in die algoritme. Jy't dus nou 'n kleiner kans om vir Ernie te kry en dis nog skaarser dat hy agterop 'n fiets ry."

  • Om een van die kunswerke te koop, gaan na portchie-nft.com. Dis van 25 Augustus beskikbaar. Benewens die digitale bate sal NFT-eienaars 'n hoëdefinisie-afdruk van hul versamelstuk ontvang geteken deur Portchie.

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM