Kuns

Skildery van Alexis Preller op veiling

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister

Aspire Art bied 'n skildery getiteld Adam, 1972, deur die bekroonde Suid-Afrikaanse kunstenaar Alexis Preller.

As hoofkunswerk in die reeks wat eersdaags in persoon op veiling kom, sal hierdie stuk kunsliefhebbers in vervoering hê op 7 Junie in Johannesburg.

Alexis Preller, Adam, 1972, gaan na raming R5,5 miljoen tot 7,5 miljoen haal.Foto:Aspire Art
Alexis Preller, Adam, 1972, gaan na raming R5,5 miljoen tot 7,5 miljoen haal.Foto:Aspire Art

Hierdie werk is nog nooit voorheen gesien nie en is 'n vergestalting van Preller se ikoniese Adam-portrette. Dit is 'n groot vonds en 'n waardevolle toevoeging tot die kunstenaar se gedokumenteerde oeuvre.

Die skildery vorm deel van Preller se reeks adamiese tema­-werke uit die laat 1960's en vroeë 1970's, wat verskeie weergawes en variasies van die onderwerp bevat.

Die skildery het eers aan 'n bekende mediese dokter in Johannesburg behoort. Vermoedelik het hy dit in die vroeë 1970's direk by die kunstenaar gekoop. Die werk is later in die middel 1980's uit sy bestorwe boedel gekoop deur 'n kunsversamelaar en was sedertdien in 'n private familieversameling uit die openbare oog.

Na raming is die waarde van die werk tussen R5,5 miljoen en R7,5 miljoen as dit per veiling verkoop word. Hierdie Adam in goud hou verband met die bekende Icon Barbare (Adam), wat in Preller se bekroonde retrospektiewe uitstalling in die Pretoria Kunsmuseum in 1972 uitgestal is, asook met die groot Adam, wat in 1973 te sien was by die São Paulo Biënnale en in 2018 deur Aspire Art vir net meer as R9,1 miljoen verkoop is.

Hierdie delikate uitbeelding in olieverf en blaargoud gee "die eerste mens" kenmerkend argaïes weer as 'n god-agtige wese - dit straal 'n sterk en gebiedende teenwoordigheid uit. Die kop, wat afgewend is, se gelaatstrekke is skynbaar soortgelyk aan dié in antieke Babiloniese kuns met fyn omlyning wat 'n gevoel van introspeksie, selfbesinning en diep oordenking vasvang. Die leë oë in sterk kontrasterende kleur verwys na klassieke beeldhouwerk, terwyl die struktuur van die bors direk sinspeel op die geïdealiseerde liggaamsoort van die antieke Griekse kouros-figure.

Preller word beskou as een van die belangrikste en mees erkende moderne kunstenaars uit Afrika. Hierdie Adam is van historiese belang en sal jou verbeelding aangryp.

Dit weerspieël die kunstenaar se diep ondersoek na mitologie, spiritualiteit, en die menslike vorm en toestand. Dit is 'n bewys van Preller se meesterlike tegniek en vermoë om diepgaande en komplekse idees deur sy kuns oor te dra.

Die skildery is tot 7 Junie by Aspire Art se vertoonlokaal in Johannesburg te sien.

Ander klassieke kunswerke wat op hierdie veiling op die blok kom, is skilderye deur Maggie Laubser, Walter Battiss­, Cecil Skotnes en Edoardo­ Villa. Daar sal ook 'n indrukwekkende verskeidenheid van kontemporêre stukke, deur onder andere William Kentridge, wees.

  • Die veiling vind in persoon plaas by 20th Century & Contemporary Art in Johannesburg op Woensdag 7 Junie en word ook gestroom vanaf 32 Bolton Road, Parkwood. Vir meer inligting, besoek aspireart­.net, stuur e-pos na jhb@aspireart.net of skakel 010 109 7989.

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM