Kuns

Uitstalling vier wyle Marius Lourens

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Die ontslape Marius Lourens by van sy staalbeelde in die Swanlake Gardens se tuin.Foto: Verskaf
Die ontslape Marius Lourens by van sy staalbeelde in die Swanlake Gardens se tuin.Foto: Verskaf (Werner Hills)

Celebrating Life is 'n groep-uitstalling wat nie net die lewe van die ontslape kunstenaar Marius Lourens vier nie, maar ook die diverse diere- en plantlewe wat in Suid-Afrika voorkom.

Mariana Lourens, eggenote van Marius en die eienaar van Swanlake Gardens, het die uitstalling gereël met die doel om hulde te bring aan sy lewe as kunstenaar.

Dit was ook die rede waarom sy vir Elschen Jansen en Wehrner Lemmer, wat goed met hom bevriend was, uitgenooi het om aan dié uitstalling deel te neem.

Anneman se perd deur Werhner Lemmer. Foto: Basil Brady
Anneman se perd deur Werhner Lemmer. Foto: Basil Brady

"Marius het dié werke vir die uitstalling geskep op die versoek van Ellen Christiaen-Vaesen, die eienaar van die Boutique Gallery in Franschhoek in die Wes-Kaap," sê Mariana.

"Die idee was dat die uitstalling ook by Christiaen-Vaesen se Boutique Gallery in België uitgestal sou word. Die werke is ongeveer twee weke voor die Covid-inperking die wêreld getref het in Franschhoek afgelewer en het België dus nooit bereik nie.

"Ná Marius se dood op 4 Desember 2020 weens Covid-komplikasies, het ek besluit om die uitstalling te laat terugkom Baai toe en sy vreugde wat hy in sy werke uitgebeeld het met kunsliefhebbers aan te hou deel."

Die ontslape Marius Lourens by van sy staalbeelde in die Swanlake Gardens se tuin.Foto: Verskaf
Die ontslape Marius Lourens by van sy staalbeelde in die Swanlake Gardens se tuin.Foto: Verskaf

"Iemand het eendag gesê: 'n Kreatiewe grootmens is 'n gefrustreerde kind wat survive het," het Marius voor sy afsterwe in 'n onderhoud gesê.

"Ek dink dis nogal waar van my lewe. The world is too serious! Kreatiwiteit is vir my 'n toevlug . . . en die skeppingsprosesse vervullend. Dis lekker om tussen die verf, kwashale, staal en die plante weg te kruip en my te verlustig in die harmonie van kleur, vorms, klank en groei . . . en uitdrukking te gee aan my gewaarwordinge . . . op 'n speelse manier. ‘Speels' is vir my 'n reis na binne."

By die uitstalling is ook 'n paar kunswerke ingesluit wat Marius net voor sy dood in die inperking geskep het.

"Marius het in dié aaklige tydperk gesê hy voel of die vryheid van die verfhale verdwyn het - so asof hy die gevoel van die tyd in sy kuns gereflekteer het - vasgevang in 'n beperkte ruimte, 'n herhalende roetine om ons te laat oorleef asook 'n gebrek aan kontak met ons vriende en geliefdes," sê Mariana.

Marius en Mariana Lourens. Foto: Verskaf
Marius en Mariana Lourens. Foto: Verskaf

Lemmer is 'n welbekende beeldhoukunstenaar en sy staal- en houtbeelde is nasionaal en internasionaal gesog. "Ek het Marius in 1994 ontmoet toe ek pas my werkswinkel onder in Niel Bosstraat in die Baai begin het," sê Wehrner. "Hy wou graag iets uit staal gemaak hê en so het ons vriendskap begin. Later het ons gereeld saam by die Nasionale Kunstefees in Grahamstad (nou Makhanda) en die Klein Karoo Nasionale Kunstefees uitgestal.

"Die werk wat ek vir die spesiale uitstalling aangebied het, is hoofsaaklik uit hout wat my gunsteling-medium is. As beeldhoustudent het ek hoofsaaklik net met hout gewerk en eers baie later begin om hout, staal, koper en found objects in my beeldhoukuns te kombineer."

Jansen was ook vir meer as 20 jaar met Marius bevriend. Sy is nie net 'n bekwame kunstenaar nie, maar het ook haar eie raam-onderneming in die Baai. "Toe ek my besigheid moes sluit in Covid, het ek vir die eerste keer met houtskool-potlode begin werk," sê Elschen.

Sebastian deur Marius Lourens. Foto: Basil Brady
Sebastian deur Marius Lourens. Foto: Basil Brady

Dit het aanvanklik heel goed gewerk, maar later wou ek begin om kleur by te sit. Voorheen het ek ook graag abstrakte kuns en fyn figuratiewe werk geskep.

"Toe Mariana my vra om saam uit te stal het ek die twee style gekombineer en nou teken ek met houtskool bo-oor gekleurde abstrakte kuns op papier."

Verskeie portrette deur Elschen word uitgestal.

"Die idee was om Mandela se gesig tussen gesigte van verskillende rasse te sit en so Suid Afrika se diverse rasse-kultuur te vier. Ek het inheemse plante en diere bygesit, dus is die naam van die uitstalling Celebrating Life ook op my werk van toepassing en aanvullend tot die viering van Marius se lewe as 'n besonderse kunstenaar."

Die uitstalling kan tot 31 Oktober by Swanlake Gardens, Plot 266 in Kraggakammaweg in Theescombe in Gqeberha daagliks van 09:00 tot 18:00 besigtig word. Skakel 072 202 7652 of 072 735 2952 of stuur 'n e-pos aan venue@swanlakegardens.co.za vir meer inligting oor Marius se kuns of oor Swanlake Gardens.

Bel Lemmer by 083 609 8490 of stuur 'n e-pos aan wehrnerlemmer@gmail.com.

Bel Jansen by 067 107 5213 of stuur 'n e-pos aan elschenspic­tureframers@gmail.com.

Willemien Green

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM