Die seksualisering en objektivering van vroue word deur Sarah Walmsley in haar solo-uitstalling By Women, For Women uitgelig.
Dié uitstalling, wat in Gqeberha besigtig kan word, is die eerste van 'n reisende uitstalling waarmee Walmsley "alle vroue deur vroue" wil verteenwoordig.
Vandaar ook die naam van die uitstalling.

"Chimamanda Ngozi Adichie, 'n bekende Nigeriese skrywer, het gesê ‘Show a people as one thing over and over again, and that is what they become'," verduidelik Walmsley.
"Dit is nou, meer as ooit tyd om te reageer op die talle onregmatige voorstellinge van die vroueliggaam wat openlik geseksualiseer en geobjektiveer word in visuele kuns, op sosiale media en ander digitale platforms.
"My doel met die uitstalling is om die oorversadiging van dié perspektief in die naam van voyeurisme reg te probeer stel deur 'n eerlike weergawe van die ware en diverse vrouvorm weer te gee," aldus die kunstenaar.
"Elke vrou het haar eie lewensverhaal en deur aanhoudend aan te dring dat daar net een weergawe is, word alle vroue se ware identiteit verwerp.
"Met die uitstalling fokus ek op portrette waarmee die individuele identiteite van vroue wat ek persoonlik ken, uitgebeeld word.
"Elke vrou op die portrette het self gekies hoe hulle graag ‘gesien' sou wou word. Elkeen het vir die portrette aangetrek of naak na eie wil geposeer sodat elkeen se ware identiteit weerspieël sou word.

"Adichie sê in haar boek Never a Single Story dat daar nie toegelaat mag word dat die identiteite van vroue tot 'n enkele voorstelling wat hoofsaaklik uit 'n mansperspektief ontstaan het, gereduseer word nie."
Die proses vir die werke vir dié besonderse uitstalling word ook deur sketse wat saam met verskeie beeldjies wat van die figure gemaak is, uitgestal.
Die liggaamstaal van elke beeldjie verteenwoordig ook verskeie emosies wat deur die vroue ervaar word, hetsy verlies, vreugde ensovoorts.

Walmsley gebruik brons, glas en hars as medium vir die beeldjies.
Walmsley, 'n gebore Oos-Kapenaar, het in 2018 haar meestersgraad in skone kunste voltooi, waarna sy ook 'n BTech in beeldhoukuns aan die Nelson Mandela-Universiteit verwerf het.
Sy was voorheen die hoof van die kunsdepartement van die Collegiate Girls High School en bied die afgelope paar jaar klas by die departement kuns en ontwerp aan die Nelson Mandela-Universiteit aan.
Sy het al aan meer as 60 groepuitstallings in Suid-Afrika deelgeneem, en haar werk is ook in private kunsversamelings wêreldwyd opgeneem.
Die uitstalling kan tot 18 Oktober in die week van 10:00 tot 16:00 en op 'n Saterdag van 10:00 tot 13:00 by die GFI-kunsgalery by Parklaan 30 in Sentraal, Gqeberha, besigtig word.
Skakel 041-586 3973 vir meer inligting oor die uitstalling.
Bel Sarah Walmsley by 062 179 2021, volg haar op Instagram by @artwithheart_za en @sarahs.sculptures of besoek haar webwerwe by www.sarahwalmsley.co of www.artwithheart.art of haar ateljee by WERK in die Baakensvallei in Gqeberha.





















