In 'n nuwe program op kykNET het die sangeres Leah van Beaufort-Wes na Philippolis in die Vrystaat en nog 11 ander dorpies gereis om te help om drome te verwesentlik.
Lottoland help 'n dorp is 'n sustersprogram van die gewilde Dankie, Lottoland en in die nuwe reeks, wat op 11 Oktober begin, gaan Leah en Lottoland dorpe oor die land heen besoek en mense ontmoet wat 'n plan of 'n droom het om hul gemeenskap te verbeter.
Wanneer Leah, wat ook 'n voormalige aanbieder van Boer soek 'n vrou is, die gekose dorpe besoek, lei sy hulle aanvanklik om die bos: Terwyl die betrokke organiseerders dink hulle is deel van die oudisierondes, is hulle eintlik reeds gekies om deel van Lottoland help 'n dorp te wees.
Leah leer die dorp en sy mense ken en vind meer uit oor watter projek hulle graag sal wil aanpak tot voordeel van die dorp.

In 'n verklaring van kykNET sê sy haar besoeke aan die kleiner dorpies was 'n openbaring.
"Ons kuier by elke dorp, ontmoet die mense wat aangebied het om die dorp te verteenwoordig en bereid is om binne 'n maand hul droomprojek aan te pak en verras hulle dan met 'n koevert van Lottoland."
Daarna besoek Leah weer later die dorp om die vordering te sien. As dit nog nie klaar is nie, spring sy sommer self in om saam met die gemeenskap die projek af te handel.
"Dit is moontlik een van die heel beste produksies waaraan ek al gewerk het. Die span is fantasties, die dorpe is lieflik en dít wat die program doen, is regtig uitsonderlik. My hart loop oor van hoop en my siel is verryk. Ek geniet elke oomblik!"
Leah sê sy het tydens die verfilming van dié reeks geleer dat hierdie mense soveel hart het en onbaatsugtig bereid is om hul eie dorp te help.
"Jy kan staatmaak op klein dorpies en daar is baie trots. Dit vat regtig net een klein gebaar om 'n groot verandering teweeg te kan bring. Mense is steeds bereid om uit te styg bo hul omstandighede in hul dorp," sê sy.
"Dis regtig sielsverrykend. Dit wys net weer watter bitter mooi land ons het en hoe ons mense regtig kan saamstaan en saamwerk. Kykers sal elke episode verras wees met die veranderinge! Hierdie program sal vir jou hoop gee."
Volgens Wilmer Müller, publisiteitsbestuurder van kykNET, is die doel van Lottoland help 'n dorp nie net om geld te gee nie.
"Dit is ook om teenprestasie vanuit die gemeenskap te ontlok. Daarom word die inwoners vier weke grasie gegun om hul kant te bring met die geld wat beskikbaar gestel is."
Lottoland help 'n dorp begin op 11 Oktober om 21:00 op kykNET (DStv-kanaal 144) of stroom dit op DStv Stream.




















