Inside Out 2 *****
Hierdie animasiefliek oor 'n tiener wat puberteit bereik en sin daaruit probeer maak, moet by skole voorgeskryf word. Ouers en tieners is dit aan hulself verskuldig. Dit verduidelik verbeeldingryk en insiggewend hoe tieners se koppe werk.
Die fliek, wat drie jaar se sielkundige navorsing en animasiewerk gekos het, gee aan elke tienerhormoon 'n gesig. Dit verduidelik 'n swak selfbeeld, woede, vreugde, angs, frustrasie, oë rol en paniek met begrip. Maar dit vier ook vreugde en ondersoek neurose briljant. Dit maak sin uit tiener-wanorde en ouerlike frustrasies.
Inside Out 2 is so genotvol en vol kennis dat almal hulle gate uit sal geniet en op gemaklike wyse inligting oor hulself sal kry. Dit is eers terugskouend dat dit duidelik word dat die storie 'n broodnodige opvoedingstaak verrig sonder om te preek.
Hierdie fenomenale ervaring oor tienerbuie is veelvlakkig en vol skitterblink karakters. Dit verbeeld selfs breinstorms en 'n gedagtestroom soos selde tevore. Oud en jonk sal met 'n gevoel van hoop en deernis uitstap. Hierdie fliek is beter as tientalle preke.
In teaters.















