TV

Sit dié programme op jou kyk-lysie

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Noah Centineo vertolk die hoofkarakter in die Netflix reeks ‘The Recruit’. Foto: Verskaf
Noah Centineo vertolk die hoofkarakter in die Netflix reeks ‘The Recruit’. Foto: Verskaf

As jy nie seker is watter reekse, rolprente en dokumentêre films om te kyk nie, sal hierdie weeklikse kykgids deur Netwerk24 jou in die regte rigting stuur.

Dié kykgids het iets vir almal - van familie-plesier, aksie tot ware misdaaddramas en dokkies.

Nuut en opwindend

• The Recruit: Dié gewilde Netflix-reeks volg die storie van Owen Hendricks, 'n jong, onervare CIA-advokaat wat onverwags in die gevaarlike wêreld van internasionale spioenasie beland toe hy op 'n dreigende brief van 'n voormalige agent afkom. Wat begin as administratiewe werk, ontaard in 'n vinnige en onvoorspelbare avontuur vol spanning en aksie.

Die reeks bekoor met sy slim balans tussen intense politieke drama en humoristiese oomblikke. Noah Centineo se vertolking van die onbeholpe maar vasberade Owen maak dit maklik om met sy karakter saam te leef. Dis die ideale reeks vir kykers wat van slim draaiboeke en speelse karakterdinamiek hou, met net genoeg spanning om jou vasgenael te hou sonder om oordadig te raak. Die tweede seisoen van The Recruit is vandeesweek op Netflix uitgereik.

• You're Cordially Invited: Prime Video se nuutste romantiese komedie-fliek met Reese Witherspoon en Will Ferrell is op 30 Januarie uitgereik. Nicholas Stoller is die regisseur.

Chaos breek uit toe twee troues per ongeluk op dieselfde dag by dieselfde plek bespreek is en nou moet die bruidspaartjies baklei om hul plek te verseker. Die pa van een van die bruide, en die suster van die ander een, sal die stryd lei. Niks en niemand sal hulle keer om die beste dag vir hul geliefdes te skep nie. 'n Skrikwekkende krokodil word ook by die stryd ingesleep.

Hou maar verby

Baie kykers gaan nie baie gelukkig hieroor wees nie, maar die nuutste seisoen van die uiters gewilde Koreaanse reeks Squid Game is teleurstellend. Hoewel dit nie dieselfde trefkrag as die eerste seisoen het nie, is dit al sowat 68 miljoen keer gekyk sedert dit op 26 Desember uitgereik is. Dit het die rekord oortref van die eerste seisoen, wat sowat 50,1 miljoen keer gekyk is.

In Squid Game kry gewone Koreane die kans om kinderspeletjies te speel om 'n aansienlike kontantprys te wen. Seong Gi-Hun, gespeel deur Lee Jung-Jae, is die hoofkarakter en hy verteenwoordig die gewone Koreaan wat kasty word deur dreigende skuld.

Die nuwe seisoen het sewe episodes teenoor die eerste een se nege episodes. Hoewel die akteurs goeie toneelspel lewer, voel dit afgewater, die komedie is geforseer en die einde kan kykers teen die mure uitdryf, veral omdat die brandende vrae eers in die derde en finale seisoen van die reeks beantwoord sal word.

Keuse van die week

• Yellowstone: Die storie van Yellowstone is een van familiebande, maar veral ook van lojaliteit. Dit gaan oor 'n pa, sy kinders, kleinkind en hul erfenis wat hy met sy lewe sal beskerm en beskerm het. Dit leer mens dat bloed dikker as water is, maar dat selfs mense van verskillende kulturele diversiteit (die Yellowstone-familie en inheemse Amerikaners) die verskille sal en kan oorbrug wanneer dit daaroor gaan om hul "erfenis" te beskerm.

Die gevierde akteur Kevin Costner speel in die reeks. Saam met hom in die rolverdeling is Luke Grimes, Kelly Reilly, Wes Bentley, Cole Hauser, Kelsey Asbille, Jefferson White en Danny Huston.

Yellowstone se vierde seisoen is hierdie week op Netflix uitgereik.

Vir die gesin/familie

• Reënboogrant: Die reeks deur die bekroonde Desiré Gardner (Magda Louw) is gegrond op die skrywer Louise van Niekerk se topverkoper-tienerboekreeks, Reënboogrant.

Reënboogrant is tans beskikbaar op Showmax.

Die reeks speel af in Tshwane en wentel om die Brink-gesin. Minke Marais en Mila de Villiers vertolk die gr. 10-susters Shani en Sunette en Paul Strydom is te sien as hul broer, Dolf, wat in matriek is. Dan is daar ook die bekkige babasussie, Marietjie. Johan Scholtz speel die pa, Herman Brink, 'n sielkundige met 'n nugter kop. Hy luister geduldig na sy kinders se kwessies terwyl die ma, Maryna Brink (Juanita de Villiers), strenger is en haar kinders met 'n ysterhand wil grootmaak.

Reënboogrant is perfek vir die hele gesin, daar is 'n karakter in die reeks (van jonk tot ouer) met wie elke lid van die gesin hulle kan vereenselwig en dit is opvoedkundig.

Dokkie-tyd

• American Manhunt: O.J. Simpson: In dié dokumentêre reeks het 'n aantal mense wat by die berugte moordverhoor betrokke was en daardeur geraak is, nuwe onderhoude aan die regisseur Floyd Russ toegestaan. Die kyker kry meer insig oor wat op die tragiese aand gebeur het toe die bebloede en lyke van Nicole Brown Simpson en Ronald Goldman gevind is.

Dié dokkie-reeks met vier insiggewende episodes is tans vierde op die lys van die mees gekykte programme onder Suid-Afrikaners.

• The Only Girl in the Orchestra: Die kortdokkie op Netflix is in vanjaar se Oscar-resies in die kategorie vir dokumentêre kortprente. Dit is reeds bekroon met 'n Critics' Choice-prys.

Die kortdokkie (34 minute) volg die lewe van die kontrabasspeler Orin O'Brien, die eerste vrou wat in 1966 in die New Yorkse Filharmoniese orkes opgeneem is. Sy is deur niemand anders nie as die dirigent Leonard Bernstein aangewys - Bernstein sê op kamera hoe 'n vreugde dit vir hom is om O'Brien met absolute toewyding te sien speel elke keer wanneer hy op die podium staan.

O'Brien, wat op 87 afgetree het, leef vir haar musiek - haar kontrabas is soos 'n ledemaat. Saans staan haar drie kontrabasse in gelid veilig gebêre in die gang van haar New Yorkse woonstel - die drie is 'n teenwoordigheid en dit is nie net omdat dit reuse-instrumente is nie. O'Brien, 'n ruimhartige mens, word gesien saam met haar studente - wat sy ook met absolute toewyding oplei. 'n Stukkie van haar leef voort in elke student wat duidelik gedy onder haar aandag.

As die dogter van twee filmstêrre - George O'Brien en Marguerite Churchill - het Orin gekies om uit die kalklig te wees, om in die laaste ry van die orkes te speel en om amper ongesiens te verdwyn agter haar instrument. Die regisseur van die dokumentêr is Molly O'Brien. Orin is haar tannie en haar enigste oorblywende familielid. Die dokkie is eintlik gans te kort - 'n mens wil langer in die besonderse mens se teenwoordigheid wees. - Laetitia Pople

Die dramaturg en aktrise Miché van Wyk deel haar kykplesiere:

Waarna het jy onlangs gekyk (plaaslik en internasionaal)?

Plaaslik kyk ek gereeld na Kelders van Geheime. Dit is goeie televisie! Ek kan nie my opgeleide oog en oor verlaat nie. En Kelderstick net al die boksies van teks tot die toneelspel. Die landskap van die wynplaas is net vir my die kersie op die koek. Internasionaal het ek It ends with us by die Labia gaan kyk. Dit is nogal 'n heftige storie, maar ek het daarvan gehou dat Blake Lively se karakter, Lily, haar mag teruggeëis het aan die einde.

Wat is die een ou(erige) program waarna jy altyd teruggaan?

Jô, ek kyk tans weer Grey's Anatomy. Ek gaan ook gereeld terug na Friends of Glee, want dit is lig vir balans. Want Grey's is soms te veel; if you know, you know. Soms wil ek nie iets kyk om te kyk en te fokus nie, maar net vir ontspanning en geselskap, soos wanneer ek skottelgoed was of my kamer skoonmaak. Ek is ook mal oor romantiese flieks, so, Mamma Mia!, It's Complicated en Parent Trap is my gunstelinge. Dit troos my en dis nie omdat ek amper die hele fliek se woorde ken nie.

Wat is die programme waaroor daar 'n groot bohaai gemaak is, maar waarvan jy nie gehou het nie?

Ek is jammer, maar dit is The Office. Ek kan net nie in dit kom nie. Ek voel heeltemal ongemaklik wanneer my huismaat lag en ek nie. Ek het probeer verstaan. Ek belowe.

Die kunstenaar Miché van Wyk deel haar kykplesiere. Foto: Verskaf
Die kunstenaar Miché van Wyk deel haar kykplesiere. Foto: Verskaf

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM