Van glad-nie-kampeerders tot woonwakampeerders, Bernard en Elize Harley van Hartbeespoort se vakansies het handomkeer verander.
Teks Leon Botha Foto's Bernard Harley
"Ons het op 'n kol 'n toer aangepak die boendoes in, maar het nie die regte kamptoerusting gehad nie. Ek het besluit om 'n tipe slaapplek met twee enkelbeddens agterop 'n dubbelkajuitbakkiete prakseer. Só is ons Toerwa gebore. Die probleem is dat jou slaapplek en voertuig een is, en as jy kamp opgeslaan het en weer wil ry, moet die hele storie saam.
Hierna het ek besluit om eerder wiele vir die patent aan te sit en dit so as't ware te omskep in 'n selfgeboude woonwa. Hy het omtrent 'n jaar gevat om gestalte te neem.
Elize, my vrou, is nie baie lief vir ablusieblokke by kampplekke nie, so die Toerwa het sy eie badkamer in. Wanneer ek by 'n kampplek stop, koppel ek eenvoudig die waterkraan aan die wa en ek het water binne-in. 'n Gasgeiser sorg vir die warmwater en die stort is 'n gemaklike 70 x 70 cm groot. Uniek aan die wa is hoe die dak oplig - amper soos die ou opslaan Slipstream-woonwaens. Ek gebruik 'n elektriese motortjie wat vier kabeltjies oprol met 'n katrolstelsel. Dit neem net 'n halwe minuut om oop of toe te maak.
Die wa is verder toegerus met 'n dubbelbed en twee 50 ℓ-watertenks en hy kan met 12V- of 220V-krag werk. Die wa is 4,6 m lank, 2,25 m breed en 1,7 hoog wanneer hy afgeslaan is - oopgeslaan is hy 2,6 m hoog. Hy weeg 1 400 kg - ten volle toegerus maar sonder ons kos en klere - en het my R110 000 gekos om te bou.
Ek sleep die Toerwa met my Volkswagen Tiguan 2.0 Tdi Tiptronic. Teen teen 110 km/h gee die aanboordrekenaar die brandstofverbruik as 9,2ℓ/100km.
Ons ry binnekort op ons eerste vakansie met hom na Tshipise en dan Mapungubwe."
Het jy iewers 'n rare sleepsel gesien? Vertel ons daarvan en stuur vir ons 'n foto na * wegsleep@weg.co.za óf WegSleep, Posbus 1802, Kaapstad 8000.
http://weg.co.za/wp-content/uploads/2014/07/Toerwa-3.jpg













