Buitelewe

Draagbare Dubbelbatterystelsel

'n Dubbele battery kry voeteAl het Dinant Zwemstra ’n plastiekbatteryboks afgeskryf in sy poging om ’n draagbare dubbelbatterystelsel te maak, is hy nou hoogs in sy skik. Dis presies wat hy in gedagte gehad het – vir ’n baie kleiner gat in sy sak.Dinant Zwemstra, ’n predikant van Bloemfontein, glo dis altyd goedkoper om dinge self te doen. Hy het lank rondgekyk met die oog om ’n ekstra battery in sy bakkie in te bou, maar het een gesoek wat draagbaar is. Op dié manier kan hy hom insit en uithaal soos hy dit nodig het.Met beperkte selfdoenkennis, ’n broer in Zambië met ’n bietjie ingenieurskennis en Skype kon hy dit regkry om sy eie draagbare stelsel vir ’n appel en ’n ei te prakseer.Sy kampyskas loop gemaklik drie dae lank voor hy die battery weer moet laai. Hy laai ook klein goed soos ligte en selfone van dié battery af. Hoekom het jy dit self gedoen? Al die plekke wat ek gebel het, sit die battery vas aan die enjinruim. Jy kan wel die draagbare bokse koop, maar ’n draagbare stelsel is aansienlik duurder as wat my stelsel uiteindelik gekos het. Ek hou ook daarvan om nou en dan iets met my hande te doen en aan die bakkie te werk.

Hoe verskil dit van stelsels wat te koop is?As jy self iets maak, kan jy dit aanpas volgens jou behoefte. Ek kon nie ’n plek opspoor wat die battery maak dat hy maklik ingesit en uitgehaal kan word nie. Die batterystelsel het meer as een soort prop, dus kan jy amper enigiets van hom laat loop.

Is jy handvaardig of was dit ’n eerste probeerslag?Ek is nie naastenby so vaardig soos wat ek graag sou wou wees nie, en moes maar ’n keer of wat van voor af begin. In my poging het ek ’n plastiekbatteryboks onherstelbaar beskadig en moes nog een kry. ’n Mens leer maar deur jou foute.

Het jy hulp gehad?Nee, bitter min. My vrou raak nie juis opgewonde oor sulke dinge nie, en my kinders is nog skaars uit die doeke uit. My broer het darem ’n bietjie ingenieurskennis, maar hy bly in Zambië. Met Skype het hy raad gegee oor waar en hoe die drade gekoppel moet word sodat ek darem nie my bakkie se elektriese harnas die harnas injaag nie.

Watter materiaal en gereedskap het jy gebruik?’n Doodgewone batteryboks (of twee) sonder enige konneksies, 16 m-kabel wat 16 mm dik is, ’n 105Ah-diepsiklusbattery, Hella- en Brad Harrison-proppe en ’n 12V-sok, kabelstroppe, ’n boor, skroewedraaiers en ’n soldeerbout.

Wat sê jou 4x4-vriende?Hulle is baie beïndruk. My broer het intussen ook een vir hom gebou, en ek het een vir my skoonpa se Triton ingesit.

Hoe maak jy hom agter in die bakkie vas? Ek het twee stukkie yster met klinknaels agterin die bak vasgemaak. Daardeur trek ek ’n strop wat die battery teen die bak vastrek.

Wat trek krag van hom af?As ons nie weggaan met die boswa nie (hy het sy eie battery), laai ek die yskas daarmee. Ek gebruik dit ook om die ligte in die aand te laat brand en laai klein toerusting en batterye vir flitse. Ek het dit selfs eenkeer gebruik om die bakkie aan te skakel toe die enjin se battery nie wou werk nie. Die solenoïed kan jy self oop- en toemaak, juis vir sulke gevalle.

As jy dit weer sou aanpak, wat sal jy anders doen?Ek sal vooraf meer beplan en iemand kry om te help, al is dit net om gereedskap aan te gee. Ek sal ook twee Hella- en twee gewone 12V-proppe in die batteryboks insit (die stelsel het drie Hella-proppe en ’n gewone 12V-prop).

Wat het die komponente gekos? Die duurste is die kabel wat van voor uit die enjinruim uit loop, onderdeur die bakkie tot in die laaibak. Ek het ’n 16 m lange kabel teen R40 per meter gekoop.Die National Luna-solenoïed het sowat R1000 gekos. Die boks, proppe en dies meer was nagenoeg R300, en die battery R1000. Die hele stelsel het omtrent R3000 gekos.

Stap vir stap:Dinant het ’n National Luna Intelligent-solenoïed gekoop wat hy voor in die enjinruim gemonteer het. Hy het dit volgens die aanwysings aangesit. Die drade wat na die ekstra battery loop, is gewoonlik kort omdat die tweede battery in die meeste gevalle voor vasgemaak word. Hy het dit verleng en deurgetrek tot agter in die laairuim.Aan die punt van die drade wat van die solenoïed af kom, het hy ’n Harrison-prop vasgemaak en dit in die hoek van die laairuim, net onder die kappie, gemonteer.Die kabel is onder die bakkie met kabelstroppe vasgemaak om seker te maak dit haak aan niks nie.Dinant het ’n verlengingskoord gemaak met Harrison-proppe aan albei punte wat by enige plek in die laairuim kan bykom. Die battery kan nou enige plek in die laairuim staan en werk, maar word vasgemaak as hy ry.Hy het ’n batteryboks by Midas gekoop en vier gate in die deksel geboor vir 12V-proppe (3 Hella en 1 gewoon). Op die deksel het hy ook ’n Harrison-prop gemonteer wat aan die battery gekoppel is en aan die verlengingskoord gekoppel word. Aan die binnekant van die boks word al die proppe se positiewe drade na ’n middelpunt toe gelei, en dan, deur ’n sekering, tot by die pole van die battery. Die negatiewe drade is aan die negatiewe pool verbind.Die battery word aan die laairuim vasgebind met ’n strop aan twee yster-stawe wat hy met klinknaels vasgesit het. Daar kan dit laai terwyl jy ry en as jy kamp opslaan, kan jy dit uitlaai en sit waar dit nodig is.

WegRy

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM