Buitelewe

Goed genoeg vir Weg!

Ons Canon-voorbladfotokompetisie het ten einde geloop, en die wenner se werk pryk op die voorblad van die September-uitgawe. Veels geluk Esmari Wium van Kaapstad - ons hoop jy span daai Canonprys goed in!

(Picasa)

​Esmari het die wenvoorbladfoto geneem op Noordhoek se strand, aan die westekant van die Kaappunt-skiereiland. Sy het 'n Canon 350D met 'n 75-300 mm-lens gebruik.

Dit was net voor sonsondergang - die sogenaamde goue uur. Die strand was vol mense, honde en perde wat die laatmiddagsonnetjie geniet, en oral was fotogeleenthede. Sy't haar rug effens op die ondergaande son gedraai, Chapmanspiek in die agtergrond ingepas, met die woelinge op die strand in die voorgrond.

'n Mistigheid - of dalk is dit seesproei - hang oor die strand en dra by tot die gevoel van dié toneel: 'n Kalm dageinde, met die belofte van somer in die lug.

Wat dié foto laat uitstaan, is die gevoel wat dit by die kyker ontlok dat jy daar wil wees, sommer nóú. Met jou branderplank of jou brakkie. Jy voel lus om onmiddellik jou tone in die klam sand in te woel.

Al is dit 'n taamlik besige foto met al die mense en beweging in die agtergrond, staan die twee manne met hulle branderplanke tog uit. Die honde voor hulle en die sterk lyne van die rotse en berghang na agter speel ook 'n belangrike rol: Dit verskaf diepte, kleur en komposisie - alles elemente wat 'n uitstekende voorbladfoto maak!

Klik op die video hieronder om Esmari se reaksie te sien toe ons haar werkplek besoek het.

Knap gedaan, Esmari! Geniet jou nuwe Canon-fototoerusting en moenie ophou om foto's vir "Mense se lense" in te stuur nie.

NAASWENNER

Padloper

Hannes Lochner

Nikon D3s Nikon 600 mm-lens

HANNES SKRYF: Ek neem al baie jare luiperds af in die Kgalagadi-oorgrenspark, en het 'n databasis van hulle begin opbou in sekere gebiede. 'n Gunsteling is Milo, 'n jong mannetjie wat hou rondom Rooiputs en Leeudril in die suide van die park. Een oggend voor sonsopkoms gewaar ek Milo. Hy het die voer-tuig speels bekruip, soos hy baie-keer doen. My sluiterspoed was stadig (1/80 van 'n sekonde), en ek moes die kamera baie stil hou. Met 'n swaar, ongemonteerde 600 mm-lens sukkel dit maar! Dié foto was een van min wat wel in fokus was. Die relatiewe hoë ISO van 1 600 het my egter gehelp. Milo was gereeld onder die voertuig in - dis 'n Land Rover, en hy het seker maar gekyk of daar ietsie fout was!

TOAST Sê: Hiermee skort net mooi niks nie. Ja, Hannes kon dalk sy sluiterspoed effens vinniger gemaak het (byvoorbeeld 1/125 van 'n sekonde) deur sy ISO na 3 200 op te stoot, maar dan sou die foto greinerigheid (noise) begin wys het. Soms moet jy daai kans vat deur 'n stadige sluiterspoed te gebruik en dan soveel as moontlik foto's te kiek. Een uit tien is dalk in fokus (of skerp op die regte plekke); dus moet jy veertig foto's neem sodat jy vier mooies kry. Luiperds is deel van die Groot Vyf, en altyd iets wat die aandag trek - daarom sal hierdie gebalanseerde, karaktervolle luiperdportret ook die aandag kon trek op 'n voorblad. 'n Puik foto wat bewys dat jare se toewyding vrugte afwerp.

LESERSKEUSE

Leeuknoop

Pieter Botha

Canon EOS 7D Canon 70-200 mm-lens

PIETER SKRYF: Ek en my vriend Johannes Breedt was in die Krugerwildtuin vir 'n fotonaweek. Hierdie foto is in 'n droë rivierloop geneem langs die N'watimhiri-grondpad (S21) - min of meer tussen Skukuza en Onder-Sabie. Dit was omstreeks 9.45 vm. My kamera was op die "aperture priority"-modus gestel, wat beteken ek het net beheer oor die f-stop gehad (f4.5) - die res van die verstellings het ek aan die kamera oorgelaat (ISO 200, sluiterspoed 1/1 000 van 'n sekonde). Later op die rekenaar het ek die foto effens gesny sodat die raam beter lyk, en dit met Picasa 'n bietjie ligter gemaak.

TOAST Sê: Almal hou van leeus - dis 'n groot rede hoekom mense die Wildtuin besoek. En dié soort familiefoto is die boerpot vir leeumalles - g'n wonder dié een was ons Facebook-vriende se gunstelingkeuse nie! Dit sou wraggies groot trefkrag gehad het op Weg se voorblad. 'n Mens sou egter nie al die leeus kon inpas nie omdat die foto vertikaal gesny sou moes word om by die voorbladdimensies te pas. Vat my volgende keer saam!

Weg

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM