Buitelewe

Is jou voertuig reg?

Wat is daai rooi liggie, Sybrand?Jou 4x4 werk natuurlik baie harder op ’n safari iewers in Afrika as wanneer jy net na die winkel op die hoek ry om brood en melk te koop.Nie net moet dit jou en jou passasiers oor rowwe terrein dra nie, maar dit is meestal tot barstens toe gelaai met kamptoerusting en bybehore (en bier).Die AA gaan jou nie in Brazzaville kom red nie, en daarom is dit baie belangrik (en logies) dat jy jou voertuig voor elke groot reis deeglik nagaan en voorberei.Om jou voertuig en bybehore voor die groot trek voor te berei hoef jou nie te laat voel of jy geboorte skenk nie.Vir ’n probleemvrye reis hoef jy net ’n bietjie moeite te doen, ’n paar goed na te gaan en heelwat gesonde verstand te gebruik.Afgesien daarvan dat jy jou voertuig gereeld moet laat versien, kan jy dikwels probleme soos olielekke en afgeloopte bande raaksien deur bloot die voertuig te ondersoek.Hier is ons aanbevelings vir die voorbereiding voor die groot uittog – van ’n basiese dog deeglike ondersoek van die voertuig tot voorstelle oor watter onderdele en by-behore jy moet pak, en voorbereidings vir ’n oorgrensvakansie.

Ondersoek met die oogSelfs al is jou naam nie Sybrand Spanner nie, kan jy steeds baie dinge agterkom deur net jou voertuig goed deur te kyk en ’n paar dinge te toets vóór jy vertrek. Rob Crawford van Go Lightly 4x4 het die volgende raad:

  1. ONDERLANGS. Trek jou 4x4 uit die garage en kyk of daar vars oliekolle op die vloer is. As meer olie as gewoonlik uit die enjin gedrup het, of olie uit ’n nuwe deel drup, vat hom na jou werktuigkundige
  2. VERING. Jy sal die ooglopende goed soos ’n lekkende skokbreker en stukkende busse sien deur eenvoudig die onderdele te ondersoek, maar dis omtrent al wat jy oor jou vering sal wys word deur bloot daarna te kyk. As die vering gaar is, sal jy dit waarskynlik agtergekom het terwyl jy ry. As jy enigsins bekommerd is oor die vering, laat ’n 4x4-werkwinkel dit ondersoek.
  3. BANDE. Kyk of die bande nog genoeg loopvlak het. Jy het nie ’n liniaal hiervoor nodig nie: Alle bande het ’n aanwyser van die loopvlakslytasie – ’n strokie rubber wat in die loopvlak ingebou is. As jy dit kan sien, is die loopvlak te min. Jy kan ook ’n vuurhoutjie in die lengte in ’n groef sit – as die hout uitsteek, is dit tyd vir nuwe bande. Kyk ook of die bande ongelyk afloop – dis ’n teken dat jou wielsporing nie reg is nie en verstel moet word voor jy vertrek – en of daar ooglopende tekens van skade op die wande is. En moenie van die noodwiel vergeet nie. Maak ook seker die domkrag en wielsleutel is ingepak.
  4. LIGTE EN FLIKKER-LIGTE. Dit behoort altyd te werk, maar as jy dit lank laas nagegaan het, doen dit nou. Gaan ook die rem- en truligte na, en kyk dat die kolligte behoorlik werk.
  5. ONDER DIE ENJINKAP. Kyk vir ooglopende goed soos pype wat bol staan, uitgerafelde of los drade, en olielekplekke. Gaan ook die olievlak na, asook die verkoeler-, rem- en kragstuurvloeistof.
  6. BO-OP. Kyk dat die dakrak se monteerarms stewig vas is; ook dié van ekstra bybehore soos ’n snorkel en houers vir gasbottels en jerrykanne. Onthou, as iets los is, sal dit nie twee weke van slegte paaie in Burkina Faso oorleef nie.
  7. LUGVERSORGING. Jy het dit dalk nie in die winter nodig nie, maar jy sal dit beslis nodig kry as jy die Sahara oorsteek. As dit “pap” voel, moet die gas hervul word.
  8. DIE 4X4-GOED. Omdat die laestrekratkas, sluitbare nawe en ewenaarslot dikwels lank nie gebruik word nie, maak seker dit werk voor jy vertrek. Veral handverstelbare nawe kan stram raak en vassit as dit ’n ruk lank nie gebruik is nie. Gaan ook jou sleepstang na en vervang dit indien nodig.

Moet jy jou voertuig laat diens of nie?As jy enige probleme – selfs net ’n lastige kleinigheid – teëgekom het, is die antwoord beslis ja.Maar wat as jou 4x4 hom mooi gedra en jy dit gereeld laat versien?“Ek stel voor jy maak ’n afspraak vir ’n ondersoek by ’n toegewyde 4x4-werkwinkel,” sê Loftus Viljoen van Ngonyama Camper Rentals.Rob Crawford stem saam: “Moenie aanneem die ouens by die handelaar kyk na alles as hulle jou voertuig diens nie.”As jy dit by ’n toegewyde 4x4-werkwinkel laat versien, kan jy seker wees dat belangrike goed soos die vering nagegaan word en gereed is vir die harde werk wat op die reis voorlê.Wees versigtig om nie jou volgende geskeduleerde diens tydens jou reis oor te slaan nie, waarsku Mike Porter van LR Service Centre.Dit kan maklik gebeur as jy ver ry, en as jou voertuig steeds onder waarborg is of ’n onderhoudsplan nog geld, behoort jy dit te vermy.“Die oplossing is om voor die vakansie ’n afspraak te maak, maar party vervaardigers is baie streng en dring daarop aan dat dit 1 500 km voor of na die bepaalde kilometer-lesing gediens word,” sê Mike. “As dit die geval is, moet jy slim begin dink.“Ek weet van ’n ou wat van Kaapstad gery en gereël het dat sy voertuig by ’n handelaar in Johannesburg gediens word sodat hy nie sy onderhoudsplan verbeur nie.”Of jou voertuig normaalweg gediens of by ’n 4x4-werkwinkel nagegaan word, die goue reël is dat jy dit lank voor jou vertrek laat doen.Soms is daar lastighede wat ná ’n diens opgevolg moet word, en as jy dit tot op die nippertjie uitstel, soek jy moeilikheid.Basiese kontrolelysBande

  • Gaan loopvlak na
  • Kyk of bande ongelyk afloop
  • Gaan bandwande na
  • Gaan noodwiel na
  • Kyk of domkrag en wielsleutel ingepak is

Vering

  • Gaan skokbrekers en busse na

Ligte

  • Gaan ligte na
  • Gaan remligte na
  • Gaan flikkerligte na
  • Gaan truligte na
  • Gaan kolligte na

Onder die enjinkap

  • Gaan remvloeistofvlak na
  • Gaan verkoelervlak na
  • Gaan olievlak na
  • Gaan kragstuurvloeistofvlak na
  • Kyk of daar ’n pyp is wat uitbol
  • Kyk of daar gerafelde of los drade is
  • Kyk of daar olielekplekke is

Bo-op

  • Gaan gassilinderhouers na
  • Gaan jerrykanhouers na
  • Gaan dakrak se monteerarms na
  • Gaan snorkel na

4x4-goeters

  • Toets ewenaarslot
  • Toets sluitbare nawe
  • Toets laestrekratkas

Binne

  • Toets lugversorging

Bybehore

  • Gaan batterylaaistelsel na
  • Laai batterye vol
  • Kyk of grondtent gate of skeure het
  • Gaan daktent na vir gate of skeure
  • Gaan daktentmeganisme na
  • Gaan sleepstang na
  • Gaan tweerigting-/handradio’s na
  • Gaan tweerigtingradiolisensie na
  • Maak yskas skoon
  • Sit yskas aan
  • Maak gassilinders vol
  • Onthou gassilindersleutel
  • Spoel jerrykanne uit
  • Toets kompressor
  • Toets GPS en laai kaarte en roetepunte

Veiligheid

  • Gaan brandblusser na

Herwinning

  • Toets hoogligdomkragmeganisme
  • Toets wen-as

Oorgrens

  • Stel by die AA vas watter oorgrensdokumente en plakkers nodig is (sien www.aa.co.za)

Gereedskap en onderdeleGereedskap en onderdeleParty mense sê jy moet voorbereid wees op elke denkbare gebeurtenis, en dat jy alles van ewenaarolie tot ekstra skokbrekers moet inpak.Ander glo weer jy moet so lig as moontlik reis, en sê as jy te veel goed inpak, sal jy jou voertuig oorlaai en die kans vergroot dat iets kan verkeerd gaan.Die meeste mense kies die middeweg.’n Man wat sy paklys al verfyn het, is Loftus Viljoen van Ngonyama Camper Rentals. Dit het hom al uit heelwat verknorsings gered – van gekraakte bladvere tot ’n gebreekte onderstel.Buiten ’n groot tas gesonde verstand, stel hy voor jy pak minstens die volgende:’n Volledige gereedskapstel. Kry ’n gereedskapstel met ’n standaardstel sokke en skroefsleutels, ’n hamer, staalsaag, tang en skroewedraaiers.Ek het een met sowat 100 stukke in ’n gerieflike aktetasgrootte houer by ’n kettingwinkel gekoop. Die skarniere en knippies van plastiek het gebreek, maar ek het dit met metaalskarniere en Velcro-stroke vervang. Bandonderdele. Buiten ’n ordentlike bandherstelstel (met proppe vir gate in binnebandlose bande), pak ook ekstra klepdoppe. Dit moet verkieslik van metaal wees (eerder as plastiek) omdat hulle sterker is en langer hou. Klepdoppe verloor altyd of breek, en as jy nie die klep beskerm nie, kan dit vol stof en onklaar raak. Om die klep te vervang is eenvoudig, mits jy ’n ekstra klep en klepgereedskap saamvat. Dan hoef jy bloot die ou klep te verwyder, ’n nuwe een in te skroef en die band met ’n kompressor op te blaas. Elektriese onderdele. Neem altyd die regte ekstra sekerings (fuses) vir jou voertuig. As jy onseker is daaroor, vra jou handelaar of ’n voertuigonderdelewinkel soos Midas. Ek pak ook ekstra gloeilampe vir my voertuig se ligte en flikkerligte, en 5 m elektriese dubbelkerndraad om beskadigde of uitgebrande elektriese bedrading te vervang. Algemene onderdele. Ek steur my nie aan ekstra waaierbande nie. Deesdae is hulle soveel sterker, en in tien jaar van veldry het nog nie een gebreek nie. Ek neem ook nie ’n ekstra verkoelerpyp (radiator hose) saam nie, omdat dit in die veld herstel kan word. Maar ek pak altyd die volgende:

  • Duct tape. Dis eenvoudig onverbeterlik. Ek het eenkeer ’n stukkende bladveer herstel met duct tape en pypklampe. Dis ook hittewerend, dus kan jy dit gebruik om ’n verkoelerpyp te herstel.
  • Sperratbande (ratchet straps). Ek neem vyf of ses hiervan saam in plaas van bloudraad. Hulle is geweldig sterk en baie meer gebruikersvriendelik as draad. Ek het eenkeer ’n gebreekte onderstel van ’n karavaan herstel met ’n mopanietak en sperratbande.
  • Skroewe en boute. Op ’n langer reis pak ek altyd ’n groot verskeidenheid skroewe en boute in.
  • Enjinolie. Hou ’n tweeliterbottel byderhand ingeval die oliebak lek.
  • Pratley Putty. Dit is uitstekend om ’n stukkende verkoeler te herstel. Steel Putty kan gebruik word vir ’n brandstoftenk wat lek.

Gaan die bybehore naDeel van die voorbereiding voor ’n reis is om seker te maak al jou 4x4- en kampbybehore werk nog. Die meeste van dié goed word lank weggebêre en kan roes, vasbrand of muf raak. Moenie tot die eerste aand van jou vakansie wag om agter te kom die gassilinders is leeg of dat ’n gesin muise jou tent met jou deel nie.Let op die volgende voor jy vertrek: 1. KAMPTOERUSTING

  • Yskas. ’n Kampeer-yskas is redelik robuus en jy kan dit lank wegpak. Maar as dit maande lank in die garage was (bêre altyd die yskas met die deksel effens oop om te keer dat dit muf raak), moet jy dit binne deeglik skoonmaak.Ons stel voor jy laat loop die yskas ’n dag of twee voor jou vertrek op huiskrag sodat dit lekker koud word – jou dubbelbatterystelsel sal dan nie so hard hoef te werk nie, en boonop is jou kos en drinkgoed koud van die begin af.
  • Batterye. Batterye behoort nie te lank nie gebruik te word nie. Om die lewensduur van ’n battery te verleng, moet dit altyd ná ’n vakansie volgelaai en ontkoppel word as dit nie gebruik word nie. Koppel dit weer voor jou vakansie, kyk dat die herlaaistelsel werk, en laai dit voor jou vertrek sodat jy die vakansie met ’n volgelaaide battery kan begin.
  • Gassilinders. Het jy dit laat volmaak? As dit buite jou 4x4 gehou word, het dit ’n prop vir die uitlaat om te keer dat dit met stof verstop word? Pak die sleutel in as jy ’n ou soort bottel het, en sommer ook ’n ekstra sleutel.
  • Daktent. Maak dit oop voor jy vertrek. Jaag die muise uit en kyk dat die meganisme goed werk en dat daar nie gate of skeure in die seil is nie. As jy ’n gewone grondtent het, slaan dit op voor die vakansie.

2. HERWINNINGSTOERUSTING

  • Herwinningstel. Kyk dat die belangrikste goed daar is: hand-skoene, ’n sleeptou, kinetiese tou of strop en minstens twee boog-skakels. Stroppe, veral kinetiese stroppe, moet vervang word nadat dit baie gebruik is. As jy hierdie winter elke naweek jou nefie se Unimog uit moddergate moes sleep, koop ’n nuwe kinetiese strop voor die vakansie.
  • Wen-as. ’n Wen-as roes grootliks sy lewe deur op die voorste buffer. En dan eendag, as jy dit nodig kry, wonder jy waarom dit nie wil werk nie. Toets die wen-as af en toe, en as dit nie wil begin werk nie, of nie glad werk nie, laat dit versien.
  • Hoogligdomkrag. Kyk dat die meganisme glad werk. Maak dit deeglik skoon en spuit Q20 daarop.

3. VEILIGHEIDSTOERUSTING

  • Brandblusser. Elke 4x4 behoort ’n werkende brandblusser te hê. Kyk dat die druknaald in die groen is – dit beteken die inhoud is nog goed onder druk. Brandblussers behoort af en toe versien te word. Die volgende diensdatum behoort duidelik op ’n plakker aangedui te wees (met die kontakbesonderhede van die maatskappy).

Kyk ook hierna

  • Kompressor. Sit dit aan om te kyk of dit werk.
  • Jerrykanne. Spoel dit uit voor jy dit met brandstof volmaak.
  • GPS. Maak seker dit werk en dat jy die kaarte en roetepunte wat nodig is vir jou vakansie daarop gelaai het.
  • Tweerigting-/handradio’s. Kyk dat dit werk, en of jou lisensie nog geldig is.
  • Ekstra sleutels. Voertuigsleutels raak weg, word toegesluit of breek. In ’n dorp of stad kan dit ongemaklik wees, maar in die middel van die bos kan dit die einde van jou vakansie beteken. Speel eerder veilig en gee ’n ekstra stel sleutels vir een van die ander voertuie in jou konvooi. As jou kar net met ’n afstandsleutel oop- en toemaak, pak ’n ekstra battery in.

Oor grense heenAs jy oor ’n landsgrens moet ry, behoort jou voertuig en dokumente te voldoen aan die vereistes van die land(e) wat jy gaan besoek.Zambië is byvoorbeeld baie streng dat voertuie die regte weerkaatsers (wit voor en rooi agter) moet hê.In Mosambiek sal hulle jou beboet as jy sonder nooddriehoeke ry.Maak voor jou vakansie seker by die AA dat jy die nodige dokumente, plakkers en bybehore het vir ’n vakansie oor die grens.

Nadine Thomson

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM