Buitelewe

Kampligte (Deel 4 van 4)

Jy hoef nie meer die donker Kaokoland-nagte te pak met 'n pak kerse en 'n gaslamp wat soos 'n gans blaas nie. Batterylig-tegnologie is deesdae puik en goedkoop. Ons help jou sin maak uit die groot verskeidenheid.

​Jy't seker agtergekom jou gaslamp bly al meer op die rak staan as jy deesdae die trokkie pak om te gaan kamp. Om nie te praat van die paraffienlantern nie…

Buisligte en veral LED's (light-emitting diode) is aansienlik veiliger en goedkoper om te gebruik. Al twee soorte gee ewe veel lig teen baie laer kragverbruik as gewone wolfram- (tungsten) gloeilampe. Die strooktipe LED's se kragverbruik is nóg laer.

Die verskeidenheid is groot: jy kry van groot buisligte wat jy regstreeks aan jou bakkie se battery verbind tot piepklein liggies waarin jy 'n paar AA-batterye insit. Selfs die ou konvensionele stormlantern wat lig maak, muskiete weghou en atmosfeer skep, kan nie by die nuwe tegnologie kers vashou nie.

Die WegRy-toets

24 ligte: Hoe goed werk hulle?

Die WegRy-ligtetoets is nie 'n vergelykende toets nie. Ons het bloot al die ligte in 'n kampomgewing aangeskakel en die lig wat hy gooi, afgeneem met 'n kamera waarop die verstellings dieselfde gebly het. Die oogmerk is nie om die helderste lig te kry nie, maar om jou 'n aanduiding te gee van die gehalte en verspreiding van die ligstrale sodat jy self kan kies wat vir jou gaan werk.

Lumen (lm). Ons het die lumen-waarde gegee as die vervaardiger dit aangedui het, maar onthou dat dit nie vir jou alles oor die lig vertel nie. Die lumen-eenheid meet die algehele hoeveelheid lig wat 'n lamp afgee. Dis dus 'n aanduiding van die sterkte van die lamp, maar dit meet nie die sterkte of intensiteit van die straal van die flits presies daar waar jy hom op die aanstormende leeumannetjie skyn nie - daarvoor word die lux-eenheid gebruik. 'n Penflitsie met 'n deurdringende straal kan dus dieselfde lumen hê as 'n dowwerige atmosfeerliggie. Standaardmotorligte skyn teen sowat 1800 lm.

Wat moet ek oorweeg voor ek ligte koop?

Die doel. Waarvoor het ek dit nodig? Wil jy atmosfeer om die braaiplek skep of 'n ander voertuig in die donker herwin?

Kragbron. Watter krag wil ek gebruik? Motorbattery, permanente herlaaibare battery of los batterytjies?

Verpakking. Hoe gaan ek die lig vervoer? Is dit nie dalk 'n moeilike ding om te pak nie?

Bedrading. Kan ek dit maklik koppel of het ek spesiale proppe en sokke nodig wat ook geïnstalleer moet word?

Kleur. Rooi en geel ligte lok nie goggas nie, maar is jy bereid om so in die skemer te kuier?

Wenke met ligte:

Werk spaarsaam. Moenie 'n lig onnodig laat brand nie, al het jy 'n sonpaneel en ligte wat 'n baie lae kragverbruik het.

Kyk na jou draad. Rol enige elektriese koord op in 'n oorkruis syfer 8 om te keer dat dit in 'n spiraal opwen en uiteindelik beskadig.

Pasop! Verbind altyd die rooi draad (positief) met die rooi draad of pool en die swart draad (negatief) met die swart draad of pool.

Haal die batterye uit! Verwyder die batterye uit ligte as jy dit vir 'n lang tyd nie gaan gebruik nie om suurlekkasies te keer wat jou lig kan beskadig.

Wyk, mot. As jy jou ligte eers aanskakel nadat dit goed donker is, lok dit baie minder goggas. Jy kan ook 'n geel plastieksak oor die lig trek as die goggas jou baie pla.

Staanlanterns (Deel 1)

Buisligte en LED-ligte in buisvorm (Deel 2)

Gemonteerde ligte (Deel 3)

LED-strookligte en regte lanterns

Lumeno magnetic

Klein maar gespierd

http://weg.co.za/wp-content/uploads/2014/08/IMG_4275.jpg

Hierdie is 'n gewone rigiede LED-strokie, met die lekker verskil dat dit 'n magneet agterop het waarmee jy dit teen jou bakkie of enige ander stuk metaal kan plak.

Jy kry selfs 'n metaalplaatjie wat jy permanent iewers kan monteer waarteen jy die lig kan opsit. Die liggie is lekker kompak en hy maak ordentlik lig.

http://weg.co.za/wp-content/uploads/2014/08/Lumeno-Square-Magnetic.jpg

Kontak: LA Sport 012 329 4515 (Gauteng); www.lasport.co.za

WegRy sê: Daar is verskeie opsies waarmee jy krag by so 'n soort liggie kan uitkry, maar die maklikste is om die standaardbedrading te gebruik vanaf jou sigaretsok. Jy kan ook die Lumeno-batteryboksstelsel aanskaf (sien kassie).

ALVA LED BBQ LIG

Klamp hom vas

http://weg.co.za/wp-content/uploads/2014/08/IMG_4162.jpg

Alva verkoop hierdie lig as 'n braailig, maar dis ideaal as 'n kamplig, want jy kan dit op enige plek vasklamp en in die rondte draai. Dit gebruik drie AA-batterye en ons dink die prys is een van sy sterk punte.

http://weg.co.za/wp-content/uploads/2014/08/ALVA-LED-bbq-lig.jpg

Kontak: Campworld 021 948 4425 (Wes-Kaap) en 012 329 2259 (Gauteng); www.campworld.co.za

WegRy sê: Jy kan natuurlik enige LED-strokie, die rigiede soort of die buigbare soort, maklik ronddra en aan bome hang. Die probleem is net dat die fyn elektriese draadjies teenoor die strokie uiteindelik afbreek as dit te veel gehanteer word.

Lumeno LED strip light (wit en rooi)

Die Hilux van LED's

http://weg.co.za/wp-content/uploads/2014/08/IMG_4256.jpg

Almal ken Lumeno se strookligte - dis beskikbaar in omtrent elke buitelugwinkel. Hierdie is 'n strook met agt LED's wat 'n ordentlike kol lig gooi. Hy't ook rooi LED-liggies, wat jy kan laat brand as die goggas met mening op jou kamp toesak.

Jy kry natuurlik ook groter stroke - soos Lumeno se 18 LED-strooklig wat 270 lm lewer teen 'n baie klein 360 mA (dis maar 4,5W).

http://weg.co.za/wp-content/uploads/2014/08/Lumeno-LED-strip.jpg

Kontak: LA Sport 012329 4515 (Gauteng); www.lasport.co.za

WegRy sê: As jy 'n kappie het met flappe wat na die kant en agter oopmaak, maak dit sin om 'n Lumeno-strokie by elke flap te installeer.

Lion Match-lampie

Die muskietjaer

http://weg.co.za/wp-content/uploads/2014/08/IMG_4053.jpg

Dis 'n goeie plan om so 'n klein lampie saam te ry waarin jy sitronella-olie kan brand om die muskiete en vlieë weg te hou. Sitronella-olie is duur (R65 vir twee liter), maar jy gaan 'n jaar of wat brand om dit op te gebruik.

Die lampie gee boonop 'n baie lekker en sagte atmosfeer.

http://weg.co.za/wp-content/uploads/2014/08/Lion-Match-Lampie.jpg

Kontak: Safari Centre 021 595 3910 (Wes-Kaap) en 012 348 3253 (Gauteng); www.safaricentre.co.za

WegRy sê: Dankie Lion-vuurhoutjies, vir die mooi en goedkoop lampie. Gaan julle die gehalte van julle swak vuurhoutjies ook weer opknap?

Dietz Lantern

Nag, ou Grote

http://weg.co.za/wp-content/uploads/2014/08/IMG_4075.jpg

Omtrent die hele aarde is eens belig met paraffienlampe van die een of ander aard. Dis glad nie meer prakties om mee te reis nie, maar daar's geen ander lig wat sê kamp en Afrika soos 'n regte ou lantern nie.

As jy een wil gebruik, koop tog net die regte soort: Dietz. Die namaaksels werk net nie so goed nie.

http://weg.co.za/wp-content/uploads/2014/08/DIETZ-Lantern.jpg

Kontak: Safari Centre 021 595 3910 (Wes-Kaap) en 012 348 3253 (Gauteng); www.safaricentre.co.za

WegRy sê: Dis raadsaam om die lampolie uit te tap as jy dit vervoer en om die glas stewig te verpak.

WegRy

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM