Buitelewe

Koplampe | ’n Blink idee

As jy ’n lig op jou voorkop het, is albei jou hande los om allerlei belangrike goed te doen – soos om die vleis om te draai. Dís miskien die rede waarom die koplamp deesdae ’n onontbeerlike stuk kamptoerusting is. Hier’s ’n paar van ons gunstelinge.

Wat het die volgende in gemeen: Tent opslaan. ’n Band omruil. Vuurmaak met ’n bier in die hand. Ja, dis dinge wat jy waarskynlik op ’n 4x4-vakansie sal doen. Maar meer spesifiek, jy’t albei jou hande daarvoor nodig.

Dis natuurlik nie ’n probleem as die son nog skyn nie, maar ’n bietjie lastiger as dit donker raak en jy ’n flitslig in een hand moet vashou.

Dis hiér waar ’n koplamp so handig is, want as jy ’n ligbron aan jou voorkop vasmaak, dan is albei hande mos los om te werk. En omdat die ligstraal van direk bokant jou oë skyn, is daar altyd lig in die rigting waarheen jy kyk.

Wil jy ook een hê? Kies dan een van dié koplampe wat die beste by jou behoeftes pas.

ENERGIZER THREE LED HEADLAMP

Dit kos nie ’n plaas se geld nie

Hierdie Energizer-model is die Toyota Tazz van koplampe: Nie die vinnigste nie. Nie die oulikste nie. Maar dis bekostigbaar en betroubaar, en as jy een koop, weet jy presies wat jy kry.

Maar wat presies kry jy? Wel, dit het drie klein liggies (LED’s) – twee wittes en ’n rooie – wat vir meeste omstandighede voldoende behoort te wees (die rooi lig bederf nie jou nagvisie nie, nes die rooi lampe in ’n duikboot).

Met drie AAA-batterye kan dit tot 50 uur lank brand, wat beteken jy hoef nie ’n ekstra stel batterye in te pak vir jou twee week lange vakansie na Namibië nie.

Prys? R120

Kontak? Cape Union Mart

0860 034 000;

www.capeunionmart.co.za

WegRy sê: Dis baie goeie waarde vir geld.

PETZL E+LITE

’n Kleintjie vir noodgevalle

Het jy al ooit die batterye te lank in ’n flitslig gelos en as jy jou weer kom kry, dan werk die flits nie meer nie omdat die batterye gelek het? Petzl het die e+LITE spesifiek vir noodgevalle ontwerp, en een van sy uitstaande eienskappe is dat dit ná 10 jaar nog steeds sal werk.

Ander noodtoepassings is die twee stroboskopiese verstellings (rooi of wit) wat jou posisie aan ’n reddingspan kan sein, en ’n plastiekomhulsel om dit te beskerm teen stampe of as jy dit dalk laat val.

Dis ook waterbestand tot op een meter diep.

Prys? R299

Kontak? Outdoor Warehouse

0800 003 051;

www.outdoorwarehouse.co.za

WegRy sê: Koop een en los dit in jou paneelkissie.

PETZL TIKKA

Nie spoggerig nie, maar goed

Die Tikka het Petzl wêreldwyd bekend gemaak, en koplampe aan die massas bekendgestel. Dis nie meer die spoggerigste koplamp op die mark nie, maar verkoop steeds goed weens sy beproefde en betroubare werkverrigting.

Met sy drie klein LED’s gee hierdie koplamp nie vir jou ’n soeklig nie; dit straal eerder ’n stroom sagte lig uit wat net reg is vir bedrywighede in die kamp, soos om te lees of vleis te braai.

Miskien is die Tikka se beste eienskap dat dit kompak en lig is. Met ’n gewig van net 78 g (’n bietjie meer as ’n groot Bar One), batterye ingesluit, sal jy gou vergeet dat daar een aan jou voorkop vasgemaak is.

Prys? R299

Kontak? Trappers Trading

011 793 4502;

www.trapperstrading.co.za

WegRy sê: Vir die meeste dinge is dit al wat jy nodig het.

PRINCETON TEC TACTICAL EOS

Mooi stewig en taai

Een van die groot pluspunte van die Tactical Eos is dat dit ontwerp is om meer hardhandige hantering as gewone koplampe te weerstaan (Princeton Tec self noem dit “weermagtaai”).

Nie net het dit uitstekende werkverrigting nie, maar jy kan dit ook vir ’n halfuur tot op ’n diepte van een meter in die water dompel (en dit werk nog).

Die Tactical Eos het ook ’n versameling spesiale filters wat jou toelaat om die kleur van die lig te verander, afhangende van die situasie: rooi om jou nagvisie te behou, groen vir veiligheid terwyl jy jag, en blou om bloedspore te volg …

Prys? R585

Kontak? Mountain Mail Order

021 683 6026;

www.mountainmailorder.co.za

WegRy sê: Chuck Norris was heel waarskynlik deel van die ontwerpspan.

BLACK DIAMOND ICON

Keuses, keuses, keuses

Black Diamond het ’n goeie reputasie vir betroubaarheid en uitstekende werkverrigting – g’n wonder hul koplampe word deur bergklimmers op van die wêreld se hoogste bergpieke gebruik nie.

Terug op Moeder Aarde sal jy egter ook in jou noppies wees as jy ene gebruik. Die Icon is Black Diamond se vlagskipmodel en het ’n groot en kragtige drie-watt gloeilamp vir wanneer jy ’n deurtastende soekligstraal wil hê (Black Diamond beweer dit kan tot 80 meter ver skyn), omring deur vier kleiner liggies vir algemene gebruik.

Altesaam is daar ’n keuse van sewe ligverstellings, wat jou ongeëwenaarde beheer oor die straalsterkte en kragverbruik gee.

Prys? R699

Kontak? Mammoth Outdoor

021 511 6006;

www.mammothoutdoor.co.za

WegRy sê: Dis aan die duur kant, maar as jy die koning van koplampe wil hê, dan is dít die een.

Oorspronklik gepubliseer in WegRy #11 | Feb-Mrt 2009

227.3 KB
Nadine Thomson

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM