Ja, met ’n kragomsetter kan die gesin 7de Laan in die Kgalagadi kyk terwyl Pa die angle grinder aan die gang kry vir noodherstelwerk, maar dis nie eintlik waarvoor jy een koop nie …
Party mense glo ’n kragomsetter is ’n wondertoestel waarmee jy ’n wasmasjien, kisvrieskas en broodrooster van ’n 4x4 se battery kan laat loop.
Ander beweer ’n kragomsetter is oorskat en onbetroubaar, en dat dit “opblaas” wanneer jy dit die minste verwag (en dit die meeste nodig het).
Almal sit die pot mis.
Hoewel ’n omsetter geneig is om uit te sny, en selfs soms “opblaas”, is dit meestal die gevolg van ’n menslike fout.
Daar is inderdaad heelwat wanopvattings oor omsetters, maar een ding is seker, dis nie towertoestel nie: ’n Omsetter skakel eenvoudig gelykstroomkrag (DC) van ’n battery om na wisselstroom (AC – dieselfde krag wat jy by die huis gebruik).
En ja, dit het baie beperkings en kan meestal net klein elektriese toestelle van krag voorsien.
As jy ’n omsetter met respek behandel en dit nie oorlaai nie, is dit eintlik baie betroubaar en kan dit jou bosvakansie aansienlik vergemaklik.
Hier is drie omsetters om uit te kies: een om ’n skootrekenaar aan te dryf,
een waarmee jy selfs jou sepie-onttrekking-simptome in die Kgalagadi kan dokter, en ’n swaargewig waarmee jy tot ’n hoekslyper kan aandryf (en jouself in die proses die gewildste ou in die kamp kan maak).
1 OMNIPOWER 150 WATT-OMSETTER | Die kapokgewig
’n Omsetter van 150 W is omtrent die kleinste een wat jy kan koop.
Jy hoef ook nie Stephen Hawking te wees om te weet dis nie ontwerp vir kraghongertoestelle soos ’n haardroër of broodrooster nie.
Die meeste mense wat die boendoe invaar, wil net iets hê om die batterye vir hul kamera, selfoon of GPS te herlaai, en hierdie outjie is heel knap daarmee.
Jy kan dit ook gebruik om ’n skootrekenaar krag te gee sodat jy foto’s of roetepunte kan aflaai.
Gebruike: Herlaai batterye vir ’n kamera, selfoon of GPS; dryf ’n skootrekenaar aan.
Krag in: Sigaretaansteker
Krag uit: Algemene sok (universal socket)
Prys: R299
Kontak: Plan My Power
Tel 011 678 5101;
Web
WegRy sê: Suid-Afrikaanse tweepuntproppe pas in die algemene sok, maar nie die driepunt-15 A-proppe nie. Hiervoor sal jy ’n algemene aansluitprop (universal adapter) moet koop – dis algemeen beskikbaar by reis- en buitelugwinkels.
2 MOTOQUIP 350 WATT-OMSETTER | Die middelgewig
Ons hou van dié model omdat jy dit direk aan die battery kan koppel met krokodilklemme (dit is raadsaam as jy beplan om ’n hele paar goed aan te dryf en jy bekommerd is dat die sigaretaansteker se sekering sal uitbrand).
Teen 350 W kan dit groter toestelle van krag voorsien (soos ’n TV of faksmasjien, volgens MotoQuip) of meer laekraggoed as die 150 W-model hierbo.
Maar dis steeds nie ’n swaargewig nie; moet dus nie alles waarop jy jou hande kan lê, daaraan koppel nie.
Gebruike: Al bogenoemde, sowel as ’n TV, faksmasjien en voedselverwerker (dis nou as jy dit in die bos wil gebruik).
Krag in: Sigaretaansteker of krokodilklemme
Krag uit: Tweepuntprop
Prys: R589
Kontak:
4x4 MegaWorld
Tel 011 454 2875;
Web
WegRy sê: 4x4 MegaWorld gee ’n beperkte waarborg vir dié model omdat ’n paar al probleme gegee het. Maar dit was meestal weens ’n menslike fout – lees eerder die handleiding deeglik.
3 MOBILE POWER 1 000 WATT-OMSETTER | Die swaargewig
Hierdie kragomsetter-en-battery-in-een is soos ’n ononderbroke kragtoevoer (UPS) vir rekenaars, en dis nie skaam om hard te werk nie.
Teen 1 000 W is dit net die meneer vir toestelle en gereedskap wat baie krag trek, soos ’n boor, hoekslyper en klein mikrogolfoond.
Party kleiner haardroërs kan selfs hiervan werk.
Die ingeboude 10 A-batterylaaier is nog ’n pluspunt omdat jy dit by die huis kan gebruik as ’n UPS as die Eskom-krag af is.
Prop dit eenvoudig by die muurprop in met die kabel wat jy saamkry, en vergeet daarvan.
Dit laai die battery as Eskom mooi saamspeel, en skakel outomaties na die omsetter-verstelling oor as die krag afgesny word.
Gebruike: Al bogenoemde, sowel as ’n boor, hoekslyper en klein mikrogolfoond.
Krag in: Kabels gekoppel aan batterypoolklemme
Krag uit: Algemene sok (universal socket)
Prys: Sowat R2 000
Kontak: Safari Centre
Tel 021 595 3910;
Web
WegRy sê: Dit kom saam met ’n driepunt-aansluitprop om sake te vergemaklik.
bl 2 | Kies die regte model vir jou behoeftes
Kies die regte model vir jou behoeftes
1. Die somme klop mooi.
Die algemene reël as jy ’n om-setter kies, is om die watt-gebruik van al die goed wat jy gelyk van krag wil voorsien, op te tel en 20% by die totaal te voeg.
Omdat net ’n handjie vol omsettergroottes beskikbaar is (150 W, 350 W, 500 W, 800 W en 1 000 W is die algemeenste in 4x4-winkels), is die eenvoudigste om die wattgebruik op te tel en bloot die volgende grootte te koop.
As jy byvoorbeeld ’n skootrekenaar (75 W), inkstraaldrukker (75 W) en twee 60 W-ligte wil aandryf, is die totaal 270 W, wat beteken jy behoort ’n 350 W-omsetter te koop.
2. Wat is die wattgebruik?
’n Toestel se wattgebruik word gewoonlik op ’n silwer plaatjie gedruk.
Soms word dié syfer in ampère eerder as watt aangegee.
Om ampère in watt om te skakel, vermenigvuldig dit met die volt wat dit gebruik (bv. 3 ampère x 220 volt = 660 watt).
3. Honger vir krag.
Sommige gereedskap en toestelle het meer watt nodig om aan die gang te kom as hul aangeduide wattgebruik.
Die meeste omsetters kan ’n kort tydjie tot dubbel hul watt-spesifikasie hanteer, maar dit is nie altyd genoeg nie.
Gereedskap met ’n induksiemasjien (’n slyper, elektriese saag en pomp) vreet veral baie krag as dit aan die gang gesit word, en het tot sewe keer hul watt-spesifikasie nodig. Doen dus jou huiswerk voor jy koop.
Sorg vir jou kragomsetter
1. Kom ons druk net nóg iets in …
Oorlading is die grootste oorsaak van ’n stukkende om-setter.
Die meeste omsetters word teen oorlading beskerm, en sal dus eerder uitsny voor dit uitbrand, maar ’n grootstuwing kan dit beskadig. Hou by die watt-spesifikasie.
2. Kyk in die boek.
Daar is baie maniere om ’n omsetter te beskadig: los drade, ’n verkeerde poolverbinding, om dit aan jou voertuig of sleepwa te aard, of om dit aan huiskrag te koppel (met die uitsondering van die Mobile Power 1 000 Womsetter). Jy kan die toets-en-tref-metode volg – of die handleiding lees.
3. Hanteer versigtig.
Omsetters hou nie daarvan om rof behandel te word nie.
Om die waarheid te sê, hulle breek redelik maklik.
Om dit los agterin jou bakkie rond te ry is ’n resep vir skade. As jy die omsetter moet gebruik terwyl jy ry, maak seker dis stewig aan die vloer vasgebout. Of as dit nie gebruik word nie, pak dit tussen die beddegoed of ander sagte goed.
4. ’n Vars briesie.
n Omsetter word warm as hy werk, en het dus deurlopend lugsirkulasie nodig. Maak seker daar is altyd ’n paar sentimeter oop rondom die omsetter as dit werk.
Oorweeg ook dié vervaardigers en verskaffers:
C-Tek
012 653 8849;
DC/AC Inverters
011 678 7520;
Flexo Power
011 465 0022;
KG Electric
011 708 3530;
LA Sport
012 335 5598;
Motoquip/Leisurequip
011 822 4150;
PBE
083 749 0445;
Sinetech
011 886 7874
| 236.6 KB |












