Buitelewe

Laai jou stoof só

Dis nié net in Springs, Gezina en Despatch waar ouens in die motorhuis met hulle rygoed vroetel nie. Frikkie Lambrechts, stigterslid van die SA 4x4-klub in Engeland, het dié slim plan vir sy gasstoof bedink.In Engeland kan jy nie altyd net ’n vuurtjie in die kampeerplek aanslaan en braai nie. Dit sous te veel. Selfs met ’n gewone gasstoof sukkel jy maar.Dis hoekom Frikkie, wat by ’n sekuriteitsmaatskappy as rekeningbestuurder werk, sy gasstoof binne-in ’n laai van sy pakstelsel ingebou het, sommer met ’n ingeboude windskerm. As hy binnekort vir hom ’n afdakkie (“awning”) op die bakkie sit, is die hele spulletjie ook onderdak.Toe hy onlangs ’n pakstelsel met laaie in sy silwer 2010 Hilux-dubbelkajuitbakkie laat inbou het, het hy dadelik gesien een van die laaie is ’n ideale plek vir sy tweeplaatgasstofie.Toe moes hy net ’n stofie in die hande kry wat pas en seker maak hy bemors nie sy klere terwyl hy die ding installeer nie…Hoe werk dit?Die stofie is in die laai gemonteer op ’n houtrak wat met aluminium oorgetrek is. Die laai is diep genoeg sodat daar nog pakplek onder die stofie is. Ek het toe ’n aluminiumdeksel gemaak wat met skarniere aan die laai geheg is, wat ook as windskerm dien as jy dit oopklap.Watter materiaal het jy gebruik?’n Mens het nie baie materiaal hiervoor nodig nie – ek het net afvalmateriaal gebruik. Die grootste stukke materiaal wat gebruik is, is die aluminium waarmee ek die houtblad van die rakkie oorgetrek en waarvan ek die windskerm gemaak het.’n Vriend het aan sy bakkie gewerk, en ek het saam met hom in sy werkswinkel die rakkie vir die stofie aanmekaargesit. Al wat ek moes koop, was die klinknaels vir die skarniere. Maar as jy die res moet koop, sal jy nie jou bankbestuurder ontstel nie.En gereedskap?’n Hoekslyper (grinder), ystersaag, klinknaelmasjien (rivet gun), G-klampe om goed vas te knyp en ’n boor vir gaatjies vir die klinknaels.Wat sal jy verander aan jou ontwerp?Ek sal die skarnier van die windskerm met ’n sterker een vervang. Verder is ek baie tevrede.Hoe ervare is jy met selfdoenprojekte?Ek het op ’n plaas grootgeword en van kleins af geleer om dinge te bou met min geld. Ek het houtwerk op skool gehad en is ook mal oor metaalwerk.Wenke vir iemand wat dit self wil doen?As jy wil, dan kan jy. ’n Mens hoef nie altyd alles met nuwe materiaal te bou nie en jy het nie die beste gereedskap nodig nie.En die reaksie wat jy kry?My vriende en my vrou is baie beïndruk. Ek is reeds opgekommandeer om met ons klub se volgende byeenkoms koffie en sop op die stofie warm te maak.

Stap-vir-stap-foto’sOorspronklik gepubliseer in WR #24 | Jan-Feb 2011

Marilize Nel

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM