Buitelewe

Lugvering: Dít moet jy weet

Heelwat verwarring bestaan oor dit wat lugvering kan doen – en nie kan doen nie. Jaco Kirsten het gaan kers opsteek by ’n invoerder en verspreider van lugvering.’n Paar maande gelede het ons ’n brief geplaas van ’n leser wat vertel het dat die lugvering van sy Land Cruiser 60-reeks die veldryvermoë daarvan nadelig beïnvloed het. Volgens hom verminder lugvering ’n voertuig se wielartikulasie. Die gevolg was dat ’n agterwiel gereeld in die lug gehang het en hy sodoende waardevolle vastrapvermoë tydens ’n uitdagende stuk veldry verloor het.Aikona, het Andre Brink van die Air Spring Supply Company laat weet. Dit kon nie die lugvering se skuld gewees het nie. Die waarskynlike sondaar was die verkeerde spesifikasie lugvering. Ná hy die brief gelees het, het hulle self lugvering op ’n Cruiser 60-reeks getoets en gevind dat die korrekte lugvering 5mm verder kan rek as wat die voertuig se eie vering kan artikuleer. Ons het hom 'n paar vrae gevra.Verminder lugvering jou ryding se wielartikulasie?Een van die grootste mites is dat lugvering “bladvere se artikulasie verminder”. Wanneer lugvering ’n voertuig se artikulasie verminder, is dit omdat dit die verkeerde model lugvere is wat nie lank genoeg kan “rek” nie.Met lugvering in kronkelvere kán dit die artikulasie van ’n wiel na boontoe beïnvloed – maar nie na onder nie. Waar hierdie lugvering normaalweg teen tussen 2 en 2,5 bar gebruik word, beveel hy aan dat jy hulle druk verminder na 1 bar oor baie tegniese terrein.Hoekom in die eerste plek lugvering gebruik?Dit hou jou voertuig se ryhoogte normaal, al dra of sleep jy ’n swaar vrag. Die ander voordeel is dat dit bakrol baie verminder omdat die vering baie fermer is as wat andersins die geval is. Met ’n vrag sal hantering op hobbelrige grondpaaie ook verbeter.Gebruik ’n mens lugvering om jou voertuig te lig?Nee. Hoewel lugvering hoër vering komplimenteer, word dit nie per se gebruik om ’n voertuig se ryhoogte te vermeerder nie. Lugvering lig nie; dit help om vrag te dra. Daar is egter ’n uitsondering. Jy kan soms, waar grondvryhoogte ’n probleem is of jy byvoorbeeld ’n trekstang wil lig, jou lugvering tydelik harder pomp. Teen 6 bar word ’n Hilux se trekstang met sowat 110 mm gelig. Maar jy moet dit dadelik ná die hindernis weer afblaas.Waaruit bestaan lugvering en hoe pomp jy hulle op?Lugvering bestaan uit doelgemaakte lugkussings wat óf tussen ’n voertuig se onderstel en bladveer/as aangebring word óf binne-in ’n kronkelveer. Die heel goedkoopste manier om hulle op of af te blaas is met behulp van hulle lugkleppe, nes ’n motorband. Die volgende stap wat jy kan neem, is om die lugkussings met pype met mekaar te verbind sodat hulle artikulasie kan bevorder. Met ander woorde, as die een wiel opgedruk word oor ’n hindernis, word die lug via die verbinding oorgedruk na die wiel wat hang. Dit beteken ook dat die lugsak nie die wiel op die hindernis keer om op te druk nie – dit inhibeer nie artikulasie nie.Kan jy jou lugveerstelsel meer “outomaties” maak?Ja, natuurlik. Die volgende logiese stap is om ’n kompressor in te bou sodat jy sommer uit die kajuit die druk van die vering kan verander deur bloot ’n paar knoppies te druk. Jy kan die luglyne só laat aanbring dat jy die druk van die voorwiele, die agterwiele of individuele wiele kan verander. Die meeste mense bring gewoonlik net kajuitkontrole vir lugvering aan vir die agterste wiele – omdat verskillende vragte die grootste invloed agter het. Hoe moeilik is dit om lugvering in te bou?Dit vat gewoonlik nie langer as ses uur om vier lugvere, ’n kompressor, die luglyne en die kajuitkontrole in te bou nie. As jy egter net ’n basiese stel lugvere met gewone kleppe wil laat inbou, sal dit sowat twee uur neem. Agterna moet jy egter vir ’n uur of twee seker maak dat daar geen luglekkasies is nie.’n Mens hoef dus nie dadelik alles in te bou nie? Nee, jy kan byvoorbeeld eers ’n basiese stel lugvere inbou en later ’n kompressor en kajuitkontroles.Wat sal lugvering kos?Dit hang af van jou model en behoeftes. Om byvoorbeeld lugvering vir ’n Hilux se agterwiele in te bou, sal R4000 kos, plus R400 vir arbeid. Die Hilux het McPherson-stutte voor en dus kan lugvering nie voor aangebring word nie.Hoe lank sal die lugvering hou?Ons voer ook Firestone se produkte in en weens hulle ontwerp is dit al wat ek op voertuie se agteraste – waar dit die hardste werk – sal aanbring. Ons gee ’n tweejaarwaarborg op die lugvere, maar hulle hou gewoonlik tussen 10 en 12 jaar. Party eienaars het al meer as 400 000 km daarmee gery, maar dit hang alles af van hoe ’n voertuig gebruik word of hoe jy met die lugvering werk. As jy dit byvoorbeeld te hard pomp, kan ’n voertuig se kronkelvere dit “knyp” en beskadig. Hitte van ’n voertuig se enjin of uitlaatstelsel kan dit ook nadelig beïnvloed.Die produk se passing word só ontwerp dat daar altyd minstens 25mm is tussen onderdele wat moontlik kan skaaf. Indien dit wel skaaf, is dit slegs te wyde aan inkorrekte ïnstallering.

WegRy

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM