Buitelewe

Ons gesels met Marius Coetzee

Marius Coetzee se foto, "The Karo" is die wenner in die kategorie African Culture in vanjaar se Nature's Best Photography-kompetisie. Annemie Lombard gesels met hom oor dáái foto.

1. Jy het meer as 15 jaar se ervaring in die safaribedryf - wat dryf jou ná al die jare?

My slagspreuk is "Bly honger, bly dwaas." Ek is baie gelukkig, want my werk is my groot liefde. Dit is my passie om ​ORYX-kliënte regoor die wêreld op fotografietoere te neem.

Die safaribedryf verander heeltyd en 'n mens word voortdurend uitgedaag om nuwe en opwindende toere te skep. Dié toere moet egter ook veilig en uitvoerbaar wees en fantastiese fotografiese geleenthede vir elke kliënt bied.

Dis lekker om wakker te word met die wete dat ek 'n verskil in iemand se lewe kan maak - hetsy ek iemand help om hulle kreatiwiteit te ontsluit of om 'n mooi wêreld met die toergroep te kan deel.

2. Is jy 'n Canon- of Nikonman? Wat is vir jou noodsaaklike fotografietoerusting?

Ek gebruik Canon omdat dit my eerste kamera was. Ek glo kameratoerusting is slegs 'n hulpmiddel. Vir my is dit beter om sonder fieterjasies foto's te neem. Ek is egter mal oor 'n visooglens, want mens kan daarmee rondspeel en as jy dit reg gebruik, is die foto's treffend.

3. "The Karo" was 'n kategorie-wenner in die ​Nature's Best Photography Africa-kompetisie. Wat is die storie agter die foto?

Die Omovallei is ongetwyfeld my gunstelingplek in Afrika om foto's te neem. Dis in Ethiopië en die landskap is rou en bied baie geleenthede vir fotografie.

Dit was my vierde besoek aan die Karo, 'n inheemse stam wat op die oosoewer van die Omorivier bly. Die mense hier boer hoofsaaklik met mielies en sorghum.

Net soos ander stamme in die Omovallei, versier hulle hulle gesigte en lywe met kalk vir seremonies. Volgens tradisie dra die Karo ook maskers en vere in hulle hare.

Ek wou graag die stam op 'n unieke wyse vanvang. Ek het my visooglens gebruik en met behulp van 'n tolk beduie wat ek wil doen. Die vroue het gelag toe hulle my op die grond sien lê en toe nuuskierig om my gestaan.

4. Jou maatskappy ​ORYX bied fotografietoere aan. Wat is die basiese dinge wat ywerige fotograwe moet weet voor hulle op so 'n toer gaan?

Daar is 'n paar belangrike faktore: Die gids, bestemming, ervaring, diens en begroting. Goeie diens is baie belangrik. Lees resensies en getuigskrifte van mense wat al op 'n toer was. Die meeste van ons nuwe kliënte het deur bestaande kliënte van ons te hore gekom.

Die toerleier maak of breek ‘n ekspedisie. Dit is hartseer as mense geld betaal vir 'n fotografietoer, maar die fotograaf is nie ingestel op hulle behoeftes nie. Die fotograaf moet die groep inspireer en individueel leer. Dit ook belangrik dat die toergroep klein is sodat die gids gehaltetyd met elke persoon kan deurbring. Laastens moet die toeroperateur die bestemming goed ken. Daar moet 'n werkende kar wag, en 'n plaaslike natuurkenner moet raad kan gee.

5. Wat is jou gunsteling-bestemming?

Ethiopië - hier ontmoet Afrika Arabië. Dié land het die beste koffie en besonderse endemiese diere en plante. Die Omovallei is 'n smeltkroes van kulture!

Kyk na Marius en die ander kategorie-wenners se foto's in die September-uitgawe van Weg.

Klik hier om ​ORYX se webtuiste te besoek.

Hooffoto: Steven Phillips

Nature's Best Photography Africa

​Nature's Best Photography Africa wil mense aan fotografie as 'n kunsvorm voorstel. Hulle wil ook die Afrika-kontent aan 'n globale gehoor bemark.

Die wenners van Nature's Best Photography Africa-kompetisie word vanaf 24 Junie tot 16 September by die Iziko Suid-Afrikaanse Museum uitgestal.

Besoek hul ​Facebook-bladsy en gaan loer gerus by die Iziko-museum.

Annemie Lombard

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM