
Die Volvo V40 Cross Country is die velskoenweergawe van sy netjiese padboetie, maar hardebaard is hy beslis nie.DEUR MARNUS HATTINGHTeen dié tyd het jy seker al die Volvo V40 op ons paaie gesien. ’n Beter voorbeeld van ’n moderne ryding sal jy kwalik kry. Hy is groter as ’n kompakte karretjie, maar kleiner as ’n stasiewa – ’n ryding net reg vir almal.Wel, jy kan hom ook met ’n stoppelbaard aanskaf. Stoppelbaard? Ja, dis mos hoogmode: ’n Motor wat tuis is in Midrand sowel as Middelpos.Die Cross Country is die velskoenweergawe van sy netjiese V40-boetie: Buitelangs het hy swart plastiekbeskerming by die neus, wielboë en stert. Onder die neus en stert is ook ’n blink metaalplaat wat die pens beskerm as jy wydsbeen oor ’n hoë klip ry.En moenie vergeet van die dakrelings wat smeek om ’n branderplank, kano of bergfiets nie – én dan het jy ’n lekker hoë ryposisie agter die stuur.Wat het ons hier? Die Cross Country is gemik op die jonges van gees wat Vrydagmiddag ’n fiets op die dak en ’n tent in die bagasiebak wil gooi, maar sonder om soos ’n Camel Man te lyk met ’n bosbreker en ’n graaf op die dak.Maar voor jy vir die naweek kan wegbreek, is daar eers baie besluite wat jy moet neem. Die rede? Die reeks bestaan uit 14 (!) modelle. Jy het ’n keuse van twee turbopetrolenjins (1,6 liter en 2,5 liter) en twee turbodiesels (1,6 liter en 2 liter).Boonop het elke model drie afwerkingsvlakke – Essential, Excel en Elite – plus jy het ’n keuse van ’n sesganghandrat- of twee soorte outomatiese ratkaste, én een model het heeltydse vierwielaandrywing. Sjoe!Hoe lyk hy binne? Hier is baie elektronika waarmee jy jou pêlle kan beïndruk: Die instrumente voor die bestuurder kan byvoorbeeld in “modusse” verstel word.In “Eco” raak die instrumente groen en wys ’n naald hoe suinig jy met die brandstof werk, en in “sport” verander alles weer na rooi met jou spoed in vet letters in die middel aangedui.Verder kan jy LED-lampies regdeur die binneruim van wit na geel na blou verander om die atmosfeer te verander, en selfs die ratkierie het ingeboude liggies om te wys in watter rat die kar is.Gelukkig is nie alles vir vertoon nie. Al die knoppies en skakelaars vir goed soos jou klankstelsel, lugreëling en dies meer is maklik om te verstaan en gebruik.(Europese model)Op die agtersitplek. Beenruimte is oorgenoeg, maar die klein vensters agter het my ná ’n ruk ’n bietjie benoud laat voel.Is daar genoeg pakplek? Jy het nie die pakruimte van ’n plaasbakkie nie, maar vir ’n naweekwegbreek is dit heeltemal voldoende.En nogal prakties: Die los deksel in die laairuimvloer kan byvoorbeeld omgedraai word as jy ’n harde plastiekoppervlak wil hê waarop jy nat klere (of ’n nat Snuffels, die malteser) kan neersit. Onder dié deksel is daar ook ’n geheime spasie waarin jy los goed kan bêre.Verder is daar tussen die voorsitplekke ’n bêrekissie waar CD’s en sleutels kan lê, en die paneelkissie kan verkoel word. En die voorste passasiersitplek kan heeltemal vorentoe vou.Onder die enjinkap? Die Cross Country het voorwaar ’n enjin, ratkas en afwerkingsvlak vir elke smaak en sak, maar ons het net die T5 en D4 onder hande geneem. Al twee gebruik ’n sesspoed- outomatiese ratkas.Die T5 gebruik ’n 2,5 liter-turbopetrolenjin (187 kW; 360 Nm) – daar’s hope krag as jy voet neersit, maar hy raak nogal swaar op die sous in die dorp. Ek het meer van die D4 se 2 literturbodieselenjin (130 kW; 400 Nm) gehou. Hy het emmers vol krag en werk mooi suinig met die brandstof.Hoe dors is hy? Met die T5 het ek gesukkel om 9 liter/100 km in gemengde gebruik te kry. Die D4 is strate beter, sonder om verrigting in te boet.In die dorp het ek net bo 6 liter/100 km gedraai, terwyl dit op die snelweg maklik na 5 liter/100 km kan daal – heel haalbaar.Hoe ry hy? As die dubbelkajuite oor klippe begin bokspring, is dit tyd dat die Cross Country terugdraai – hy’s vir teer- en grondpaaie bedoel; om jou met styl en gerief by jou kampeerplek te kry.Jy kan dalk dink jy ry in ’n dubbelkajuit, want die Cross Country se sitplekke is 4 cm hoër as die gewone V40 s’n en jy sit soos in ’n Kombi amper regop agter die stuur.Die stuurwiel voel ’n bietjie groot en die sig skuins agtertoe is beperk weens die klein vensters. Dis egter maar kleinighede.Die laaste woord. Van sy direkte mededingers (die Peugeot 3008, Nissan Livina X-Gear en Subaru XV) is dié meneer loshande die modernste en beste afgerond. Gewis nie die goedkoopste nie, maar ’n lekker naweekryding.Hiervan hou ons. Moderne voorkoms, en netjiese en slim binneruim.Maar hiervan nie. Voorwielaandrywing in meer modelle sou gaaf wees.
| DIE SYFERS | |
| ENJINS | T5: 2,5 liter-turbopetrol |
| D4: 2 liter-turbodiesel | |
| KRAG EN WRINGKRAG | T5: 187 kW; 360 Nm @ 1 800-4 200 r.p.m. |
| D4: 130 kW; 400 Nm @ 1 750-2 750 r.p.m. | |
| TENK | T5: 62 liter |
| D4: 60 liter | |
| BRANDSTOFVERBRUIK | T5: 7,8 liter/100 km |
| D4: 5,2 liter/100 km |












