
PIET VAN HEERDEHet jy al voor die rak met penflitsbatterye in Checkers gestaan en kopkrap oor die beste keuse? En het jy al gewonder hoeveel water die woorde “up to six times longer lasting” op batteryverpakking dra? Ons het die bekendste batterytjies getoets om te sien waar die waarde vir geld lê.Sonder batterytjies sal die meeste van ons deesdae nie eens ’n naweek kan gaan kamp nie. Kopflitse en LED-ligte het oorgeneem en word met batterye aangedryf. En dan praat ons nie eens van kameras en elektroniese speletjies wat jou kannetjies gewoonlik saamsmokkel nie.Ons het onderskei tussen herlaaibare en nie-herlaaibare (of weggooibare) batterytjies. Ons het ook slegs die groter AA-penflitsbatterye getoets, in die veronderstelling dat die gehalte konsekwent sal wees tussen AA- en AAA-batterye.In herlaaibare batterytjies kan die elektrochemiese reaksie omgekeer word sodat jy die battery kan herlaai. Die veronderstelling is dat dit meer omgewingsvriendelik is en goedkoper as weggooibare batterye uitwerk, maar dis ’n veronderstelling wat nog nie bewys is nie. Herlaaibare batterye het ook ’n leeftyd en word uiteindelik weggegooi en gehaltehandelsmerke is tot dusver baie duur.Kry jy dieselfde? ’n Probleem van herlaaibare batterye is dat die spanning nie dieselfde is as dié van weggooibare batterye nie. Die spanning van herlaaibare batterye is gewoonlik rondom 1,2 V en dié van weggooibare batterye rondom 1,5 V.In die praktyk beteken dit dat jy 9 m ver met jou kopflits sal sien as dit herlaaibare batterye inhet en 11 m as dit weggooibare batterye inhet, wat vir die meeste kampeerders piekfyn is.’n Slimlaaier is jou maat. Die herlaaibare-batterybedryf doen homself geen guns deur die goedkoop herlaaiers (quick chargers) wat hy in supermarkte verkoop nie. Net soos met motorbatterye moet herlaaibare batterye (nikkelmetaalhidried- of nikkelkadmiumbatterye) ook behoorlik herlaai en onderhou word met ’n sogenaamde slimlaaier.Voordat ’n battery effektief herlaai kan word, moet dit eers heeltemal ontlaai word, en die goedkoop herlaaiers doen dit nie. As jy ’n battery herlaai wat nog steeds ’n sekere lading het, bou dit ’n soort “geheue” op, wat beteken dat dit nie volgende keer heeltemal herlaai kan word nie en uiteindelik onbruikbaar word.’n Slimlaaier maak die batterye eers heeltemal pap voor dit teen die regte stroom gelaai word. Dié proses kan tot 24 uur duur.Daarna behoort jy dit teen die regte stroomsterkte te laai, wat omtrent 20% is van die batterytjies se stroomkapasiteit. As die batterytjie dus ’n stroomkapasiteit van 2 500 mAh (milliampère-uur) het, word aanbeveel jy laai dit teen 500 mAh. Jy kan die laaistroom van die slimlaaiers verstel.Slimlaaiers toets ook. Behalwe dat ’n slimlaaier jou batterye onderhou, sê dit ook vir jou wat die gehalte van jou batterye is.’n Goeie slimlaaier is die Maha Powerex C9000. Dit kan vier AA- of AAA-batterye op ’n slag herlaai. Jy hoef nie, soos met ’n quick charger, batterye met dieselfde lading saam te laai nie, want elke laaivakkie se stroom word afsonderlik gestel.Jy kan dit op ses verskillende modusse stel, afhangende van of dit ’n nuwe battery is, ’n ou battery wat gebêre is of ’n battery wat gereeld gebruik is: Herlaai, Verfris, Analiseer, Inbreek, Ontlaai en Siklus. Die herlaaier is beskikbaar by Outdoorphoto.co.za teen R970 ( info@outdoorphoto.co.za).Weggooibare batteryeDaar’s ’n legio batteryhandelsmerke op die mark met pryse wat wissel van spotgoedkoop tot buitensporig duur. Jy kan enigiets koop van ’n bondel batterye by groot kleinhandelaars tot kleiner verpakkings by jou naaste supermark en ’n enkele Chinese battery by die Somaliër onder in Voortrekkerweg.Ons het ’n eenvoudige toets opgestel om vas te stel watter battery kos die minste sent per minuut.Ons het eenvoudig ’n houertjie, wat vier AA-batterye vat, aan ’n 6 V-liggie gekoppel en gemeet hoe lank die liggie bly brand. Die uitslag is teen die prys van die battery gestel en só het ons ’n sent-per-minuut-waarde gekry.Die uitslag wys dat duurder batterye langer hou. Van die goedkoper batterye hou nie so lank nie, maar dit kos minder sent per minuut en is dus meer ekonomies.Ons gee toe dat party batterye nie bedoel is om aangewend te word om ’n liggie te laat brand nie. Ons gee ook toe dat daar ’n foutiewe battery in die verpakking kan wees, wat die uitslag kon beïnvloed, maar dit gee tog ’n aanduiding van die gehalte daarvan.Die WegRy-batterytoets: weggooibare batterye1. Led LenserTyd gebrand: 4 uur 55 min.Koste vir een battery: R6,88Wat beweer die verpakking? Up to 4x longer lastingSent per minuut: 2,332. Great ValueTyd gebrand: 3 uur 25 min.Koste vir een battery: R4,98Sent per minuut: 2,433. GP (Gold Peak) UlttraTyd gebrand: 4 uur 45 min.Koste vir een battery: R7,43Wat beweer die verpakking? High PerformanceSent per minuut: 2,604. Varta SuperlifeTy gebrand: 1 uur 58 min.Koste vir een battery: R3,13Sent per minuut: 2,655. Ellies Ultra AlkalineTyd gebrand: 3 uur 45 min.Koste vir een battery: R6,55Sent per minuut: 2,916. Varta High EnergyTyd gebrand: 5 uur 22 min.Koste vir een battery: R10,78Sent per minuut: 3,357. Energizer MaxTyd gebrand: 4 uur 55 min.Koste vir een battery: R12,49Wat beweer die verpakking? Power Seal TechnologySent per minuut: 4,238. Duracell PlusTyd gebrand: 5 uur 20 min.Koste vir een battery: R14,99Sent per minuut: 4,689. Eveready Powerplus GoldTyd gebrand: 1 uur 55 min.Koste vir een battery: R5,46Sent per minuut: 4,7510. Duracell UltraTyd gebrand: 5 uur 35 min.Koste vir een battery: R16,25Sent per minuut: 4,8511. EvereadyPowerplus SilverTyd gebrand: 1 uur 45 min.Koste vir een battery: R5,65Sent per minuut: 5,3812. Eveready Platinum PlusTyd gebrand: 3 uur 8 min.Koste vir een battery: R11,73Wat beweer die verpakking? Up to 5x longer lastingSent per minuut: 6,2413. Energizer Ultimate LithiumTyd gebrand: 7 uur 35 min.Koste vir een battery: R28,49Wat beweer die verpakking? Up to 9x longer lasting & less wasteSent per minuut: 6,2614. Energizer AdvancedTyd gebrand: 4 uur 24 min.Koste vir een battery: R16,99Wat beweer die verpakking? Up to 50% longer lastingSent per minuut: 6,44












