Buitelewe

Word ’n foonfotograaf!

Slimfoonkameras het fotografie behoorlik op sy kop gedraai, en nie net omdat dit altyd in jou broek- of handsak is nie. Nee, eerder omdat ’n selfoon ’n mini-rekenaar is en jy met die druk van ’n knoppie allerhande interessante spesiale effekte aan jou foto kan gee. En dan boonop blitsig jou meesterstuk deur middel van die internet aan vriende en familie reg oor die wêreld stuur.Ondanks vordering in sensor- en lenstegnologie sal ’n selfoon nie binnekort kan saamgesels met ’n regte kamera as dit by beeldgehalte kom nie. En die zoemvermoë van die meeste selfone is maar twyfelagtig – as jy dus op pad is Sossusvlei toe, pak ook jou kamera in.’n Slimfoon se kamera is wel goed genoeg vir vakansiefoto’s en daardie kere as jy ’n dubbele reënboog deur jou karvenster sien en jy nie jou Nikon byderhand naby het nie. Dis mos beter om ’n selfoonfoto van Wouter se eerste tree te hê as geen foto’s nie, of hoe?In hierdie artikel wys ons jou voorbeelde van wat jy alles met ’n slimfoon kan regkry, en hoe (en hoekom) jy dadelik die op jou foon moet laai. Daarsy, hou op SMS en BBM, en begin eerder foto’s neem!

Agterpad-dagboekAletta Gardner iPhone 4S ALETTA SKRYF: My eerste digitale lenskamera was ’n waterskeiding in my fotografieloopbaan. Sedertdien het ek reg oor die wêreld daarmee gereis – van Namibië tot Oman – en die kamera het hom uitstekend van sy taak gekwyt.Maar toe ek dit elke dag vir my werk moes gebruik, het iets verander: Nou was fotografie minder pret.Toe kry ek my eerste slimfoon – en nou is ek verslaaf aan apps soos Instagram. Op ’n manier voel ’n selfoonfoto wat gemanupileer is, meer na ’n juiste interpretasie van ’n “oomblik”.Dis soos ’n Impressionistiese skildery – Monet se “Waterlelies” beeld spikkellig op ’n dammetjie uitstekend uit sonder om realisties te wees soos ’n foto.Die grootte van ’n selfoon tel natuurlik in sy guns, plus die feit dat jy foto’s met vriende op Facebook en Twitter kan deel.Ek het dié foto deur die agterruit van ’n 4x4 geneem op pad na die Bakkransnatuurreservaat in die Sederberg, en toe ’n verwarmingsfilter op Instagram gebruik om die hitte en stof van die landskap te beklemtoon.BlommemeisieCyril Klopper iPhone 4S CYRIL SKRYF: Ek het hierdie foto van my dogter, Miri, naby die Lady Lochbrug buite Wellington in die Wes-Kaap geneem.Ons was vir ’n langnaweek op pad na die Karoo toe Miri dié plaat blomme langs die pad sien. En natuurlik moes ek stilhou sodat sy ’n bos vir haar ma kan pluk. (Sy was só opgewonde dat ek dit nie oor my hart kon kry om vir haar te sê dis bloudisseldoring, ’n nare onkruid, nie. Dis ’n indringerplant, en giftig vir perde en ander diere.)Hoewel ek my lenskamera in die kar gehad het, was dit makliker om my selfoon te gryp. Toe ek die skoot kry waarop ek gehoop het, het ek met Instagram ’n filter op die foto gebruik.Ek is gaande oor Instagram. Ja, ek weet dis vir hipsters wat voorgee hulle neem foto’s met ’n Polaroid-kamera of ’n outydse Lomo, maar ek glo ’n mens moenie selfoonfotografie so ernstig opneem nie. Jy kan net sowel pret hê met jou foto’s, en rondspeel met verstellings en beligting.Instagram gee jou baie filteropsies, maar ek gebruik byna altyd die Earlybird-filter. Ek hou van hoe dit die rande van die foto donkerder maak (dit word ’n “vignette” genoem), en hoe dit aan die foto ’n outydse gevoel gee.My selfoon is byna altyd in my broeksak. Ek hou daarvan om eerlike foto’s van mense te neem, want ’n selfoon maak nie mense sommer ongemaklik nie. ’n Groot kamera met ’n yslike lens laat die meeste mense die hasepad kies.PadlangsMagriet Theron Samsung Galaxy S2 MAGRIET SKRYF: Ek het dié foto iewers tussen Malmesbury en Hopefield in die Wes-Kaap geneem, sommer deur die voorruit. Ek het my Samsung Galaxy met sy gekraakte skerm gebruik!Ek het die oorspronklike foto met my selfoon geneem, en dit toe met Instagram geredigeer. Ek het die Earlybird-filter gebruik, wat aan die foto ’n speelse gevoel gee. Ek gebruik Instagram baie, want só kan ek foto’s op Facebook en my blog plaas. Dis ’n eenvoudige app, maar jou foto’s lyk altyd mooi as jy ’n filter gebruik het. En ek hou van die gedagte dat enigiemand ’n fotograaf kan wees.Selfoonfotografie is soos Polaroidfotografie op steroïede. Dis oombliklik, dit werk, en dit lyk altyd goed. Die klein foto’s wat van agter belig word, verdoesel fokus- en beligtingsfoute; en jy kan baie maklik jou foto met ander deel. Met my selfoon neem ek byna twee keer soveel foto’s as voorheen.Pragtig in pienkDylan Culhane Nokia 808 Pureview DYLAN SKRYF: Vreemdelinge is dikwels veel meer tegemoetkomend as jy vra om ’n selfoonfoto van hulle te neem – ’n groot kamera maak mense agterdogtig en daar is dikwels ongemaklike vrae rondom vergoeding.Doen jou navorsing as jy ernstig is oor fotografie – party van die minder gewilde slimfone van Nokia en Sony het die beste kameras.Stel dinge só dat jy jou kamera met die druk van ’n knoppie of ikoon kan aktiveer – dan is jy so rats soos ’n cowboy in ’n kroeggeveg.En onthou, dieselfde reëls geld: Die lig, kleur en komposisie van ’n toneel is baie belangriker as die grootte van jou sensor of lens.Ek het dié foto op Cato Ridge in KwaZulu-Natal geneem terwyl ek ’n nuwe voertuig toetsbestuur het.Die mis het gesorg vir ’n onheilspellende atmosfeer.Die twee vroue op die pad staan mooi uit met hulle helderpienk klere en sambrele. Ek kon die toneel oombliklik op my selfoon vasvang.Goue raadRiola Swart BlackBerry Bold RIOLA SKRYF: Ek neem dikwels dieselfde foto met my foon en Nikon – dis net soveel makliker om op vakansie ’n foto op jou foon met ander te deel.WEG SÊ: Ja, dis ’n geldige punt, Riola: Soms neem ’n mens ’n foto omdat jy jou ervaring met vriende en familie wil deel.Maar as hulle dit eers twee weke later kry – nadat jy by die huis gekom, die foto’s afgelaai, verklein en per e-pos aangestuur het – is dit ’n bietjie soos mosterd ná die maal.Maak soos Riola en neem ’n selfoonfoto wat jy dadelik kan deel. Hierdie is nie die mees dramatiese foto van Golden Gate se Brandwagberg nie, maar dis ’n “Ek was daar”-oomblik wat jou kollegas op kantoor groen van jaloesie sal maak.‘Kyk, daar’s ons huis...’Eben du Toit Samsung Galaxy S3 EBEN SKRYF: Ek het dié foto in die dorpie Zermatt in die Alpe geneem. Ek hou van die kontras tussen my vrou, Aldi, se rooi kappie en die sneeubedekte berge en groen heuwels.My foon is vroeër die vakansie gesteel, en ek het ’n nuwe Samsung gekry met ’n flink kamera van 8 megaspikkels.Gee jou foto’s meer oemf met filters, of, as die toneel werk (soos hier), los jy dit net so.WEG SÊ: Dis ’n klassieke vakansiefoto, en niemand gaan sommer raai dis ’n selfoonfoto nie.Die kleurskakering is puik – jy kan die detail in die helder dele van die foto (die sneeu) én die skaduwee (Aldi se Cheshirekat-glimlag) sien. Dis pret om filters te gebruik, maar soms moet ’n mens ’n foto los soos dit is, nè Eben. As die beligting goed is, die komposisie reg en die kleure helder, hoekom daaraan karring?Eben en Aldi het van die Gornergletser af teruggestap Zermatt toe. Daar lê nog sommer ’n hele entjie vir hulle voor...Hitchcock-nagmerrieMercia Nieuwenhuyse Nokia E71WEG SÊ: Mercia het hierdie vreesaanjaende seemeeufoto op die strand by Buffelsbaai geneem terwyl sy op wittebrood was.Hoekom het die voël so geduik, Mercia? Was daar ’n sardientjie in jou hoed?Die meeste selfoonkameras neem vanweë die sluitervertraging nie goeie aksiefoto’s nie – daai frustrerende halwe sekonde vandat jy die knoppie gedruk het tot wanneer die foto eintlik geneem word. Vir só ’n foto kort jy ’n ongelooflike skoot geluk, óf jy moet die aksie “verwag”.Of laai ’n app af wat jou in staat stel om ’n klomp foto’s ná mekaar te neem, soos Fast Camera (R20 vir iPhone). Maak die app oop, rig jou kamera op die aksie en laat waai.En kies ná die tyd die beste skoot.Lê laag...Pierre Rossouw BlackBerry TorchWEG SÊ: Pierre het dié foto op Amanzimtoti se strand geneem. Twee vliegtuie het verby gevlieg. Hy het die eerste een gemis, maar kon die tweede een afneem terwyl hy oor die see vlieg.’n Selfoonkamera is puik vir sulke onverwagse oomblikke. Aanvanklik dink jy dis net ’n strandkiekie, maar dan sien jy die vliegtuigvlerk wat die wateroppervlak rakelings mis, en die betekenis van die foto verander onmiddellik. Toegegee, die gehalte is nie fantasties nie, maar die foto bly bekoorlik.As jy fyn kyk, sien jy daar’s baie mense wat die vliegtuig dophou – hulle wens seker hulle het ook hulle selfoon byderhand gehad!Voor hanekraaiChristelle Botha iPhone WEG SÊ: Christelle het hierdie foto vroeg een oggend by die Ultra City op Kroonstad geneem. Sy het met Instagram alles binne die raam – buiten die haan – uit fokus geneem.Die eerste ding wat jou opval, is die kleurskema. Die voël se vere en kop eggo Shell se bekende geel en rooi kleure.Deur die agtergrond te vervaag staan die haan alleen in die raam, en dít verleen diepte aan die foto. Trouens, die hele toneel lyk effens dromerig.’n Vakansie het baie sulke oomblikke. Hou net heeltyd jou oë oop, jou foon gelaai, jou sin vir humor skerp... en jy kom huis toe met ’n geheuekaart propvol prettige herinneringe.

Weg

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM