Ons het gaan kers opsteek by Ryan Visagie, die kommunikasiebestuurder van Continental Bande Suid-Afrika, vir raad oor hoe jy na jou bande moet kyk.
Hoe belangrik is dit om die buitetemperatuur in ag te neem wanneer jy jou bande se druk meet, veral aan die uiterste kante van die spektrum?
Saamgeperste lug bevat waterdampe. Dit het daarom 'n groter variasie in lugdruk danksy die toename in volume wanneer die temperatuur styg. Daarom word dit aanbeveel dat jy jou banddruk neem wanneer dit nog koud is, voordat dit beïnvloed kan word deur die son en hitte wat ontstaan weens die wrywing met die pad. Dit raak nóg belangriker teen hoë banddrukvlakke.
Dis daarom dat vervaardigers 'n maksimum banddruk op die sywand van die band aanbring, en dit moet nooit oorskry word nie.
Hoe gebeur dit dat bande vanself lugdruk verloor en hoe gereeld moet 'n mens jou voertuie se banddruk nagaan?
Bande kan druk op verskeie maniere verloor: lekkende kleppe, gaatjies wat stadig lek, slegte installasie op die vellings, impakskade aan die karkas en osmose - wanneer lugmolekules mettertyd deur die band se vering en rubber ontsnap.
Dis daarom moontlik om tussen 1 en 3 psi per maand te verloor, na gelang van die soort of gehalte van die band se vering en die dikte.
Gaan die banddruk elke week na en moet liefs nie twee weke laat verbygaan sedert jy daarna gekyk het nie.
Onthou, hoe vinniger die voertuig begin ry, hoe vinniger styg die bande se temperatuur en begin dit verhoogde slytasie toon, of selfs onklaar raak.
Hoekom is dit nodig om jou bande te roteer? En as jy dit wil doen, hoe moet jy te werk gaan?
Die rotasie van bande help om meer egalige slytasie op al vier bande te kry.
Die voorste bande se skouers slyt gouer af (veral in voorwielaangedrewe voertuie) en rotasie sal dus hulle lewens verleng.
Die ideaal is om bande van voor na agter, en andersom, te roteer. As dit 'n sogenoemde eenrigting (one directional)-band is, kan jy hom net vorentoe of agtertoe skuif - en nie aan die anderkant van dieselfde as nie.
Enige ander voorstelle oor hoe om 'n band se lewe te verleng?
Sorg dat die wielsporing reg is. Dit sal onnodige slytasie voorkom van bande waarvan die sporing te veel ‘tone in' of ‘tone uit' is.
Dít, saam met die regte banddruk en gereelde rotasie, sal sorg dat jou bande die maksimum moontlike afstand kan aflê.
Kan 'n mens afwyk van die aanbevole drukvlakke? Indien wel, vir hoe lank en teen watter snelhede kan 'n mens dit doen voordat die bande probleme begin gee? Lesers wat byvoorbeeld week lange reise na die Namib onderneem, reis teen drukvlakke van tussen 0,7 en 1,0 bar. Is dit veilig?
Die aanbevole druk word gegee om 'n voertuig se maksimum vragdravermoë in ag te neem. Bande moet daarom net afgeblaas word vir die tydperk wat dit in 'n gegewe terrein moet werk, hetsy dit nou sand, klippe of modder is en 'n groter kontakarea nodig is.
So gou as wat die verlaagde druk nie meer nodig is nie en daar op harder oppervlakke soos grondpaaie of teer begin ry word, moet die bande so gou as moontlik harder gepomp word om skade te vermy.
Onthou, hoe vinniger die voertuig begin ry, hoe vinniger styg die bande se temperatuur en begin dit verhoogde slytasie toon, of selfs onklaar raak.
Indien jy bande vir jou 4x4 wil koop wat meer geskik is vir veldry as sy standaard-HT-bande, hoe sal jy kies tussen veelterrein- (AT) of modderbande (MT)?
- Kom ons kyk na die voor- en nadele en sekere spesifieke verrigtingsvereistes:
- AT-bande se blokke is nader aan mekaar en daar is meer rubber in kontak met die padoppervlak.
- Die AT-band het meer fyn gleuwe in die blokke (die Engelse woord is sipes) wat kan vervorm om meer greep te verskaf.
- Die AT-band sal beter op die pad vaar danksy sy (teoretiese) 50:50-ontwerp, teenoor 'n MT-band, wat gewoonlik 80:20 in die guns van veldry ontwerp is.
- 'n MT-band het groter gapings tussen sy blokke. Dit beteken dat hy op los oppervlakke beter greep het omdat die blokke beter vastrapplek kan kry.
- Die ontwerp van 'n MT-band, wat in baie gevalle 3-laagsye het, veroorsaak 'n harder rit en dit raak veral opmerklik teen hoë banddrukvlakke op teer.
Is een spaarwiel genoeg wanneer jy op 'n avontuurreis gaan? Watter voorstelle het jy vir bandhersteltoerusting om dinge reg te maak voordat jy weer by "die beskawing" uitkom? Afgesien van proppe, wat van binnesole (gaiters)? En laastens, wat moet jy in gedagte hou vir herstelwerk?
Vir kort avontuurreise is een spaarwiel gewoonlik genoeg, veral wanneer jy dit gebruik saam met 'n goeie bandherstelstel en 'n kompressor. Maar indien jy vermoed dat die terrein uitdagend en afgeleë gaan wees, is dit wus om 'n ekstra spaarwiel saam te vat.
Wat ekstra toerusting betref, is proppe en binnesole soms nodig vir noodherstelwerk, maar ons beveel dit nie aan vir lang tydperke nie. As die sny of gat in die band se skouer of sywand geleë is, raai ons jou aan om die band so gou as moontlik te vervang.
As jou ryding met AT's toegerus is (om nie eers van MT's te praat nie), in hoe 'n mate sal jy jou bestuurstyl moet aanpas en wat moet jy in gedagte hou as jy op teer bestuur, veral op nat paaie?
'n Sportnutsvoertuig of bakkie met padbande (HT, of Highway Terrain) bied die beste oplossing vir goeie teerpadhantering. Wanneer jy dus van HT-bande na AT- of MT-bande verander het, moet jy in gedagte hou dat jou ryding se teerpadhantering nadelig beïnvloed is. Om seker te maak dat jy steeds so veilig as moontlik bestuur, hou die volgende in gedagte:
- Verhoog jou volgafstande - jou remafstande sal toeneem op droë teer, maar selfs nóg meer in nat toestande.
- Maak seker dat die snelheidsindeks gelyk aan of hoër is as dié van die oorspronklike band en dat die nuwe band gepas is vir jou voertuig se vragdravermoë.
- Verminder spoed - jou voertuig se padhouvermoë sal nie meer so goed of voorspelbaar wees as met die HT-bande nie.
Hierdie artikel het oorspronklik in WegRy # 94 (Junie 2017) verskyn. Ons probeer nuwe inligting bywerk, maar feite en geite kon intussen verander het - laat weet gerus as jy so iets raaksien.














