Buitelewe

Compass se boswa: Stylvol op ’n begroting

Iemand wat vandag 'n boswoonwa oorweeg, het 'n groot verskeidenheid om van te kies.

Maar wanneer jy jou sente moet omdraai, is dit heelwat moeiliker om 'n nuwe wa uit te trek.

Compass bou een van die goedkoopste boswoonwaens op die mark - maar dit beteken allermins jy kry afskeepwerk.

Die Compass is netjies toegerus - daar's geriewe soos 'n buitekombuis met 'n glyraam vir die ys-vrieskas en gasstoof, uitslaanbeddens, die tamaai neuskas en selfs 'n gasgeiser - en hy's ruim binne.

Jy kan kies uit twee modelle: Die een het slaapplek vir twee mense en die ander model is ingerig vir vier. Ons haak die 4 Sleeper.

Kry jou staan

Die dubbele neuswiel kan heeltemal verwyder word, wat nuttig te pas kom wanneer jy op 'n pad sleep met slegte knikke.

Naby die neuswiel is ook 'n klein waterpas op die A-raam. Die Compass het vier los hoekstutte pleks van die gewilde afswaaisoort.

Dit is 'n regop domkrag met 'n arm wat in die romp steek - en 'n ingeboude slinger waarmee jy die wa laat sak of lig.

Die voorste twee hoef jy net te gebruik as jy die Compass nóg stewiger wil laat staan.

Met die stutte in plek is dit nou tyd om die dak te lig en die beddens uit te slaan.

Eers slaan jy die een bed uit die regterpaneel en dan die een oor die A-raam. (Die weergawe vir twee mense het nie die kantbed nie.)

Vóór jy die kantbed uitslaan, ryg eers die boseil in by die groef bo by die dak.

Die slot van dié bed se deur is van die koeltroksoort wat behoorlik stofdig is. Die deur slaan plat en die gaasvensters wat kan ooprits, is op die kant by jou.

Só kan jy die U-raam bykom wat platgeslaan binne lê. Dit slaan op na jou toe en span die hoeke van die tent.

Pas nou die drie veerlatte in op die rand van die deur om die boseil te span.

Omdat die voorste bed oor die neuskas vou, moet jy eers alles daar uithaal wat jy gaan nodig kry - daar is wel 'n deur aan albei kante ingeval jy iets kleins wil uithaal of wegsit.

Die een gassilinder staan hier, en jy kan die klep maklik bykom.

Soos jy die bed oor die A-raam oopswaai, sak die Y-voetstuk tot op die disselboom en die tent vou terselfdertyd oop.

Hierdie bed se boseil span ook met drie veerlatte.

Die tent se onderkant by die bedbasis is los en jy trek dit oor die rand sodat jy dit met die stroppe kan vastrek.

Laastens moet jy in die Compass klim om die beddens gereed te kry.

Vou die matras vir die kantbed, wat opgevou en regop op die vloer gestaan het, oop oor die bedbasis.

Nou moet jy die nok van die seil bo-oor die voorste bed span.

Drie verstelbare pale pas in op die kante en een in die middel tussen die U-raam en die opwipdak.

Laaste gebruik jy 'n los nokpaaltjie om die seilgedeelte spits te laat staan sodat water van die dak afloop.

Die groot pluspunt van die voorste bed is dat jy nie hoef in te kruip nie - daar's 'n ekstragroot ruimte tussen die middel van die wa en die bed.

Onder op die vloer langs die bed is 'n trappie met 'n los deksel wat byvoorbeeld as 'n skoenekas gebruik kan word.

Die voorste bed is min of meer dubbelbedgrootte en die ander een so groot soos 'n driekwartbed. Laasgenoemde is ook lekker laag van die grond af (40 cm) en dus ideaal vir kinders.

Waar's die kaste?

Die deur waar 'n mens inklim, is regs agter. Aan die stertkant binne is twee kaste met seildeurtjies wat kan wegrits.

Die een die naaste aan die deur is die grootste en het vier rakke, en langsaan is 'n kas met drie rakke.

Bo-in dié kas se blad is die gesigwasbak.

Links is twee plat kassies met metaaldeure wat na jou toe platslaan. Die twee kassies is ewe groot, maar die een nader aan die bed maak oop in die buitekombuis.

Hierbinne is 'n 220 V-prop met twee USB-sokke gemonteer.

Die bokant van dié twee kassies is 'n welkome blad wanneer die dak gelig is - ons het waaiers hier staangemaak.

Kombuis toe

Die vier deure links van die deur waar jy inklim, vorm saam die kombuis.

Die grootste een (113 x 62 cm) is bo die wiel en het ook 'n koeltrokslot.

Wanneer jy die deur platslaan, word dit danksy die slot 'n mooi oop werkblad sonder slotarms by die hoeke.

Agter die blad is daar verskillende kassies in die romp met sponsvorms waarin jy glase, bekers en borde kan bêre.

Die dubbele 220 V-prop is in die kas regs bo.

Nog 'n deur maak bo die onderste kas boontoe oop - dis dieselfde kas wat jy van binne af oopmaak om by die buitekombuis uit te kom.

Die regterkant is toe omdat dit die rugkant van die een binnekas vorm.

Die tweeplaatgasstoof word naby die neus uitgetrek en is op die punt van die glyraam gemonteer met die ys-vrieskas die naaste aan die romp (die ruimte is groot genoeg vir 'n ys-vrieskas van tot 90 l).

Die stoof self sit dwars en is effens versonke om die gasvlam teen wind te beskerm.

Die agterkant is met skarniere vas sodat jy dit kan opswaai en onder skoonmaak.

Onder die gasstoof trek twee laaie uit waarin potte en panne, maar ook eetgerei en braaigoed gehou word. In die romp bo die ys-vrieskas is 'n driehoekige kasdeur met 'n vlak rakkie of twee - net die plek vir vadoeke of selfs aanstekers.

Die battery staan in die ander kant van die wa, regoor die ys-vrieskasruimte. Die stroombrekers en 'n 220 V-prop is ook hier.

Bo die battery staan 'n ammokis op 'n glyraam - lekker pakplek vir jou kampgereedskap, toue en penne.

Die stert is ook die stortkant. Tussen die tweede gasslinder en die noodwiel is daar in die agterpaneel 'n kas met die inlyn-geiser waar jy die storthokkie kan opslaan.

(Desiree Hartney)

Met en sonder

Standaardtoerusting sluit in die 90 l-watertenk, 270°-stoeptent, die binnekaste en gesigwasbak, 5 l-inlyngasgeiser, tweeplaatgasstoof, 'n 3 kg- en 5 kg-gassilinder, Lumeno-binne- en -buiteligte, matras en die ys-vrieskas se glyraam.

Onder die lys van 24 opsionele ekstras tel 'n gaasdeur (R748), paalsak vir die neuskas (R345), skottelgoedraam (R863), drankkabinet (R978), 105 Ah- Deltec-battery (R2 508), stortkopstel (R575), storthokkie (R4 600), 150 W-sonpaneel (R4 370), los hoekstut (R811) en kassettoilet (R2 415).

Compass 4 Sleeper R227700* BVM 1800kg

Van die mededingers Boswoonwaens vir 4 in dieselfde prysklas

Jaguar Inkwe-4 R245000* BVM 1600kg

Die onderstel en romp word van vlekvrye staal gebou.

Imagine Trailvan 4 Sleeper R268000* BVM 1500kg

Die romp bestaan uit aluminium en veselglas, en die onderstel is ook gegalvaniseer.

Echo Chobe Legend R323000* BVM 1500kg

Het 'n veselglas-skulpromp bo-op 'n gegalvaniseerde onderstel.

* Standaardprys

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM