Buitelewe

Daktent? Nee... ’n “baktent”

"Met kampuitstappies het ons dogter van kleins af verkies om in haar eie tentjie te slaap. Die 1990 Caravette 4 was dus al die jare heel voldoende en ruim genoeg vir ons twee.

"Toe ons twee egter alleen begin kamp, het ons gejeuk vir 'n daktent sodat ons darem vinniger kon beweeg. Maar ons al twee reeds was afgetree en ons het nie geweet nie hoe lank dit prakties gaan wees nie - dis darem maar 'n gesukkel om met daardie smal leertjie te op en te af! Boonop wou ons nie te veel onnodige koste aangaan nie. Daarom het ons toe pleks van 'n daktent 'n baktent bedink - een wat op ons Nissan 3 liter-dubbelkajuit se bak pas."

SAMSUNG DIGITAL CAMERA

Hy gaan nêrens nie

"Ons het vir ons 'n klein nylontent met 'n basis van 1,5 x 2 m gekoop, plus 'n stuk laaghout met presies dieselfde afmetings wat as 'n platform vir die tent kan dien. Ons het die plank middeldeur gesaag sodat 'n mens dit makliker kan dra.

"Die twee stukke hout pas knus teen mekaar wanneer ons dit bo-oor die laaibak neersit, maar dié is net 1,5 x 1,5 m groot. Gelukkig mag 'n vrag 50 cm agter oorsteek, dus kon ons met 'n rein gewete die twee planke aan die buiterande van die laaibak (die raam waarop die kappie gewoonlik rus) vasbout.

"Onder die planke is 'n stutpoot vasgeskroef. Wanneer ons die platform inskuif, rus dit dus stewig op die bak self. Nog 'n stut loop met 'n hoek van die sleepstang af tot onder die oorhangdeel van die platform. Die bakkie se agterflap kan steeds maklik oop en toe maak, al is die platform bo-oor."

Op, af en weer op

"Om die laaghout teen reën, voëlmis en versplintering te beskerm het ons 'n paar van daai groot, blink seilsakke gekry waarin CI Caravans kussings vervoer. Ná 'n bietjie dinkwerk en 'n paar uur agter die naaimasjien het ons 'n oortrekseil geprakseer wat die hele platform netjies bedek en aan die onderkant met Velcro vasgemaak word.

"Ons het die tent bo-op opgeslaan - waar jy dan gewoonlik die tentpenne in die gras sou inslaan op die hoeke, het ons gate deur die hout geboor. Nou kan ons die tent maklik op die platform vasskroef.

"Daarna het ons 'n dubbelbedmatras aangeskaf wat presies in die tentjie pas. Wanneer ons dus nou regmaak vir 'n kamp, word die tent opgeslaan, die matras ingeskuif, die tent weer bo-op toegevou en die hele toetie met 'n seil toegemaak en vasgemaak. Wanneer ons by die staanplek kom, neem dit letterlik 'n paar minute om die tent op te slaan.

" 'n Kort houtleertjie - ons skuif dit sommer onder die platform in as ons ry - maak dit maklik om in die tent te klim. Soggens is dit letterlik net twee treë tot op die grond; dis soveel geriefliker as om voetjie vir voetjie agteruit van die bakkie se dak af te klim."

SAMSUNG DIGITAL CAMERA

En vir 'n bietjie gerief...

"Ons het 'n gewone plastiek-gazebo waarvan ons die pote 15 cm langer gemaak het sodat dit net-net hoër as die tent staan - dan skuif ons dit bo-oor die baktent ingeval dit dalk reën.

"Aanvanklik het ons gedink ons sal die gazebo bedags afskuif sodat ons 'n lekker skadudak het waaronder ons kan kuier, maar dis gans te veel moeite. Daarom anker ons nou die gazebo se pote met gewone kort tentpenne (onthou, ons karavaanmense het altyd genoeg voorraad) en daar staan hy dan tot ons weer huiswaarts keer. Vir 'n bietjie koelte vat ons sommer 'n strandsambreel saam.

"Ons hét 'n 12 V-yskassie van 26 liter gehad. Wanneer ons met die baktent gaan kamp, sit ons dit sommer op die Nissan se agtersitplek en koppel dit aan 'n kragpunt.

"Verder het ons drie trommels aangeskaf waarin kos, klere en handdoeke gepak word. Ons het ook 'n pieknieksak met die nodige borde, bekers en glase wat áltyd saamry. Dan laai ons'n opslaantafeltjie, twee kampstoele en 'n wasskottel in.

"Wanneer ons vir 'n paar dae met die baktent weggaan, ‘leen' ons 'n elektriese tweeplaatstoof, 'n elektriese ketel en 'n braaier uit die Caravette. Daar's oorgenoeg plek onder die platform om al die toerusting en los goed in te skuif."

Hy werk soos 'n bom!

"Kyk, tentkamp op so 'n klein skaal kan nooit met die gerief van woonwakamp vergelyk word nie. Hierdie is bloot 'n ekonomiese oplossing vir 'n vinnige naweek weg, of om vir 'n paar dae by vriende in 'n kampterrein te gaan kuier.

"Ons het die baktent een naweek by Buffelspoort uitgetoets, en dit het soos 'n droom gewerk! Ons het min genoeg saamgeneem sodat dit nie 'n beslommernis raak nie, maar genoeg sodat ons twee dae lank gerieflik kon kamp."

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM