Jy kry twee soorte kampbakkies: dié waar die laaibak verwyder word en 'n slaapeenheid op 'n bakkieonderstel geplaas word, en dan dié waar die slaapeenheid bloot bo-op die laaibak pas en jy dus nie jou bakkie se laairuim perma- nent hoef prys te gee nie.
Voorbeelde van eersgenoemde is die Chobe RV van Echo, die Inkunzi van Infanta en die standaard-Bosluis van Bush Lapa.
Die Northstar 600ATV met sy soliede panele val in die tweede kategorie. Dié abbawa het, soos 'n klompie ander modelle op die mark, 'n verdere voordeel: Hy het pote, wat beteken jy kan hom in die kampplek van jou bakkie af tel.
En as jy dalk vinnig oorstaan, kan jy net die agterste twee pote laat sak en inkruip.
Die storie agter die storie Gregory Renault van St. Francisbaai voer sedert 2014 Palomino- en Northstar-modelle uit Amerika in.
Die Northstar 600ATV-model is die heel nuutste een.
Omdat die eenhede ingevoer word, word geringe veranderinge aangebring om by plaaslike standaarde te pas - een voorbeeld is die elektriese proppe.
'n Mens het geen spesiale rybewys nodig nie, want die eenheid pas bloot soos vrag agterop jou bakkie.
Dit beteken jou voertuig hoef nie weer geregistreer te word om die gewigte aan te pas nie en jou papiere is nog in orde. Die eenheid pas op enige bakkie - van enkel- tot dubbelkajuit.
Op 'n enkelkajuit kan jy die bakklap toemaak, maar die dubbelkajuit s'n moet oopstaan.
Hierdie eenheid kry ook sy eie agterligte want dit versper die bakkie s'n.

'n Bietjie bene rek
Die 600ATV word met vier stroppe aan die bakkie se ankerpunte geheg. Aflaai is so maklik soos val uit 'n boom: Maak die stroppe los en skuif hom van die laairuim af. By elke hoek is 'n poot wat tot op die grond verleng kan word.
Dit werk meganies met 'n slinger, maar jy kry ook 'n koppelstuk om jou boormasjien te gebruik.
Daar is selfs 'n derde keuse: elektriese pote. Dit werk met afstandbeheer en jy kan al vier pote gelyk óf elkeen op sy eie beheer.
Met die pote in plek trek jy bloot die bakkie onder die slaapeenheid uit en laat sak die abbawa sodat jy maklik kan inklim.

Kom gerus binne
Die panele is van skeepshout wat met veselglas afgewerk is, en die deur is in die agterkant met 'n breë trap onder dit.
Sommer met die intrapslag is die spoelkassettoilet links in sy eie hokkie, wat ook as die storthokkie gebruik word.
Dit is ongetwyfeld die 600ATV se grootste pluspunt. Langsaan is die dwarsgedraaide tweeplaatgasstoof en wasbak met 'n kraan wat soos 'n stortkop verleng kan word.
Teen die oorkantste paneel is 'n bank wat van die deur af teen die muur strek. Hier kan jy 'n blad opslaan vir etenstyd óf jy kan die bank verleng sodat 'n ekstra mens daarop kan slaap.
Jy klim op die bed met 'n trappie tussen die wasbak en die bank se punt.

Die watertenk is onder die trappie gemonteer en die staanyskassie is regs waar jy op die bed klim. Die bed strek bo-oor die bakkie se dak. Die bed self is 1,85 x 1,42 m groot - effens breër as 'n dubbelbed.
Die dakgedeelte bo jou kop is hoog genoeg sodat jy regop op die bed kan sit, en daar is 'n venster aan elke kant wat kan oopmaak.
Dit het ook gaas en blindings voor. Regs van die bed is 'n blad met 'n kasdeur in wat soos 'n deksel oplig. Jy kan dit as bedkassie gebruik, maar ook die deur oplig en van jou waardevolle items bêre waar dit buite sig is.
Die gassilinder staan in sy eie kas by die bakkie se linkeragterdeur. Net regs hiervan is nog 'n stortkop aan 'n verlengstuk, as jy hier 'n buitestorthokkie wil opslaan.
Die 600ATV kom met 'n 100 Ah-diepsiklusbattery - wanneer jy dus nie aan 220 V-krag gekoppel is nie, werk dinge soos die ligte, waterpomp en yskas met 12 V-krag. Die geiser gebruik gas.
Wat is standaard? Standaarditems sluit in die yskas, kassettoilet, gasstoof en omskakelaar. Items soos lugreëling, digitale 22"-TV (12 V), die elektriese hoekstutte, 'n 160 W-sonpaneel met sy beheerstelsel en die trukamera met skerm is van die opsionele ekstras.
SPESIFIKASIES
Model Northstar 600ATV
Slaapplek 2-3
Lengte 4 m
Breedte 1,98 m
Binnehoogte 1,95 m
Nat gewig 753 kg
Standaardprys R539 000
Kontak 072 227 9752; northstarsa.co.za; info@northstarsa.co.za

NORTHSTAR 600ATV (R539 000) Slaapplek vir 2-3.
VAN DIE PLAASLIKE MODELLE
(standaardpryse)
Nie een het 'n ingeboude storthokkie met 'n spoelkassettoilet nie.

Bush Lapa Slip-on Bosluis (R322 000). Slaapplek vir 2. Droë gewig is 651 kg, is 23 cm smaller (175 cm) en bestaan hoofsaaklik uit vlekvrye staal en aluminium.

Stealth Bakkie Mate (R189 700). Slaapplek vir 2-3. Droë gewig 480 kg, is 4 cm breër (202 cm) en gebou van veselglas.

Obiqua Slide- On/off Camper (R172 500). Slaapplek vir 4 Droë gewig 230 kg, is 18 cm smaller (180 cm) en ook gebou van veselglas














