Buitelewe

Die ABC van beligting: Lensopening

Jou kamera se "Auto"-modus is soos 'n veiligheidsnet- 'n maklike uitweg. Maar jy is waarskynlik al uitgekuier met dié funksie, of hoe? Dit is wat fotografie juis so opwindend maak: Hoe meer jy leer, hoe meer foto's wil jy neem.

Enigiets tussen f1.4 -f5.6 gee só 'n effek. Perfek vir voëls of portrette.

Kom ons kyk eers na "beligting". Dis die lig waaraan jou kamera se sensor blootgestel word om 'n foto te neem. Dit word bepaal deur drie hooffaktore:

1. Lensopening. Die grootte van die opening in die lens wat die lig deurlaat.

2. Sluiterspoed. Die tyd wat dié opening oop is en die sensor blootgestel word aan lig.

3. ISO. Hoe sensitief die kamera se sensor vir lig is.

(Kliek gerus op ISO en sluiterspoed hierbo vir artikels wat meer daaroor vertel).

Dié drie faktore werk saam: As jy byvoorbeeld die een hoër stel, sal die ander twee beïnvloed word. In hierdie artikel kyk ons na lensopening.

Lensopening

Die lensopening verwys na die verstelbare, ronde opening van 'n kamera se lens. Dit werk amper soos jou pupil - wanneer jy na 'n skerp lig kyk, verklein jou pupil om minder lig deur te laat. Die teenoorgestelde gebeur wanneer dit donker is.

Op dieselfde wyse laat die opening in 'n lens jou toe om die hoeveelheid lig te beheer wat deur die lens na die kamera se sensor beweeg. As jy dus die lensopening verstel, beheer jy die hoeveelheid lig wat na die sensor deurgelaat word.

Wat beteken dit in die praktyk?

Die lensopening beheer die fokusdiepte van 'n foto − die deel van die foto wat in fokus is.

Jou oog verstel vanself die fokus, maar nie jou kamera se lens nie. Wanneer jy op iets fokus, sal die voorwerpe voor (in die voorgrond) en agter (in die agtergrond) die voorwerp op verskillende vlakke van skerpheid vertoon met betrekking tot jou fokuspunt.

Deur die grootte van die lensopening te verstel, kan jy die graad van fokus bepaal vir jou voor- en agtergrond.

Onthou, hoe kleiner die f-nommer, hoe groter die lensopening!

PROBEER DíT

1. Wanneer jy 'n portretfoto neem (f1.4-f5.6)

Wanneer jy met dié reeks f-stoppe werk, gaan jou agtergrond baie uit fokus wees.

Maar dit is wat jy wil hê, want dan word meer aandag op jou voorwerp (die persoon wie jy afneem) gevestig.

Dit werk veral goed wanneer jy 'n nabyskoot van iemand se gesig, 'n insek, blom of dier neem. Fotograwe praat van 'n "vlak" of "nou" velddiepte wanneer jouvoorwerp in fokus is en die agtergrond nie. Nou kan jy saampraat!

2. Wanneer dit nie regtig saak maak nie (f8-f10)

Wanneer jy dié f-stoppe gebruik, sal daar nie veel diepte in jou foto wees nie.

Maar dalk kort jou foto nie diepte nie.

Wanneer jy iets afneem en daar is geen afstand tussen die voorwerp en die agtergrond nie (soos Ouma teen die sitkamermuur), hoef jy net op een van die twee te fokus.

3 Wanneer jy 'n landskapsfoto neem (f11-f22)

Gebruik die kleinste moontlike lensopening wanneer jy byvoorbeeld op Bloubergstrand in die Kaap staan en Tafelberg wil afneem, maar wil hê alles van die strandsand en die water tot die kabelkarstasie moet duidelik wees.

Onthou die driepoot, want jy gaan dalk 'n stadiger sluiterspoed moet gebruik. Wanneer alles in die foto in fokus is, is die velddiepte "wyd".

WENWENKE

  • Wanneer jy vooraf deur jou kamera se beeldsoeker of op die skerm kyk, sal jy nie die klein verandering in die velddiepte kan raaksien nie. Jy kan die effek van die "nou" of "wye" velddiepte eers later sien op die skermpie nadat jy die foto geneem het.
  • Fokus altyd op die belangrikste deel van jou voorwerp. Wanneer jy byvoorbeeld 'n persoon afneem, sal dit gewoonlik hulle oë wees.
  • Verskillende lense het verskillende lensopenings en verskillende inkremente wat f-stoppe betref. Hoe wyer die maksimumlensopening (soos byvoorbeeld f1.4), hoe duurder die lens.
  • Die meeste intreevlak-zoemlense het 'n maksimumlensopening van f3.5-f5.6. (f3.5 as jy uitzoem, f5.6 as jy heeltemal ingezoem is).

MIK WYD. As jy graag die tekstuur van die Namibsand onder jou voete én die berg in die verte in fokus wil hê, gebruik 'n lens-opening van tussen f11 en f22.

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM