Buitelewe

Die ABC van beligting: Sluiterspoed

Die lig waaraan jou kamera se sensor blootgestel word om 'n foto te neem word "beligting" genoem en dit word bepaal deur drie hooffaktore:

1. Lensopening. Die grootte van die opening in die lens wat die lig deurlaat.

2. Sluiterspoed. Die tyd wat dié opening oop is en die sensor blootgestel word aan lig.

3. ISO. Hoe sensitief die kamera se sensor vir lig is.

Dié drie faktore werk saam: As jy byvoorbeeld die een hoër stel, sal die ander twee beïnvloed word. In hierdie artikel kyk ons na sluiterspoed.

(Kliek gerus op lensopening en ISO hierbo vir artikels wat meer daaroor vertel).

GEREEED... SKIET! Hoe vinniger die spoed van die tuimeltrein, hoe vinniger moet jou sluiterspoed wees om die beweging te vries. Hierdie skoot is teen 1/2 000 sek. geskiet.

Wat is sluiterspoed?

Dit laat lig deur na die kamera se sensor. Die hoeveelheid tyd wat dit oopbly, word in breukdele van 'n sekonde (of soms sekondes, selfs minute) gemeet.

Wat beteken dit in die praktyk?

Wanneer jy met die sluiterspoed werk, beïnvloed dit die beweging van die voorwerp in jou foto. Gebruik 'n baie vinnige sluiterspoed om die beweging van 'n voël vas te vang wanneer hy verbyvlieg.

Of gebruik 'n stadige sluiterspoed om vloeiende water soos mis of watte te laat lyk.

PROBEER DíT

1. Vries die aksie!

'n Vinnige sluiterspoed stel jou in staat om letterlik tyd te "vries" of vas te vang. Dis vir wanneer jy 'n voël afneem wat deur die lug duik of vir Boetie wat lyn toe hol in sy eerste rubywedstryd.

Tydsberekening is baie belangrik, want net 'n breukdeel van 'n sekonde maak 'n groot verskil. Dink maar aan iemand wat 'n gholfbal slaan − daar is 'n baie kort tydjie wat die bal en die stok in dieselfde raampie verskyn.

Om die beste moontlike aksiefoto te neem, maak gebruik van jou kamera se "Burst"-modus (bl. 29) en neem soveel foto's na mekaar as wat jy kan (hou net die kamera so stil as moontlik!).

2. Hou stil daai kamera!

Wanneer jy die kamera in jou hand vashou en foto's neem teen 'n sluiterspoed stadiger as 1/60 van 'n sekonde, is daar ‘n groot kans dat die kamera gaan "skud". Sorg dat jou sluiterspoed nie minder is as die grootte van jou zoemlens nie. Wag, laat ons verduidelik:

As jy byvoorbeeld met 'n 500 mm-lens foto's neem, moenie onder 1/500 van 'n sekonde foto's neem nie.

Hou jou kamera só stil:

  • Gebruik 'n drie- of enkelpoot.
  • Staan met jou voete 'n skouerbreedte uitmekaar, leun teen 'n muur of rus jou kamera op 'n plat oppervlak.
  • Gebruik 'n kontroleerder of 'n kabelontspanner wat die sluiter beheer sonder dat jy aan jou kamera hoef te raak.
  • Gebruik 'n wyer lensopening ('n klein f-stop) of neem teen 'n hoër ISO (ontspan, ons kom nou hierby).

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM