Of jy nou van 'n ‘gewone' aansitterbattery, 'n diepsiklusbattery of 'n hoësiklusbattery praat, al drie batterye word op presies dieselfde manier herlaai. Hierdie is die ideale manier om dit te doen:
Stadium 1.
In die eerste stadium het die battery 'n konstante stroom nodig vir 5 tot 8 uur. In hierdie tyd bereik die battery sowat 70% van sy totale lading. Die ander 30% word bereik in die volgende 10 ure ‘optop'-stadium.
Die spanning, of invoer-Volts, kan gedurende fase een tot 15,5V opgaan en die slimlaaier monitor dié stadium noukeurig om op die regte tyd oor te skakel na die tweede stadium.
Stadium 2.
Die tweede stadium skop af wanneer die battery 'n vooraf voorafbepaalde spanning soos 14,4V bereik, waarna dit 'n konstante spanning moet kry vir sowat vyf uur. In hierdie tyd neem die stroom geleidelik af soos die battery begin voller raak. Dit is uiters belangrik dat die spanning nie 14,4V oorskry nie want dit kan sulfaatvorming en gevaarlike gasse tot gevolg hê.
Stadium 3.
Die battery is nou vol en die laaier gaan oor na 'n swewende stadium (hy maak bietjies-bietjies vol wanneer die battery vanself lading verloor) waar die spanning effens verlaag en die stroom baie laag is.
Van die slimmer laaiers het hier 'n sogenaamde prikkelfase wat sulfaat wat in die verlede op die plate aangepak het, kan teëwerk.
As jy 'n slimlaaier het, word die proses outomaties gedoen.















