Buitelewe

Die lekkerste braaispeserye

Om 'n stuk vleis suksesvol te braai, behels meer as net kole en vleis. Jy kort goeie geselskap, 'n nat ding vir die keel - en die regte geursel op die vleis, anders proe dit maar bra laf.

Kom ons vergeet vir 'n oomblik van al die souse en marinades waarmee sommige mense hulle vleis doodgooi. Want goeie vleis het dit nie nodig nie. Al wat eintlik nodig is, is 'n bietjie sout - en een of twee ander geure.

Deur die jare het sout egter begin plek maak vir "braaisout" en 'n magdom ander speserye waarop jy as braaier kan staatmaak. Daar is deesdae meer keuses as ooit tevore. Maar hoe proe hulle? Om daai vraag te beantwoord en jou sommer baie moeite te spaar, het drie van die redaksie om 'n tafel gaan sit met 'n stuk wildswors en 12 soute, braaisoute en braaispeserye.

(Evan Naude)
(Evan Naude)

SOUT VAN DIE AARDE

Cerebos-sout

Agtergrond: Dis die sout waarmee ons almal grootgeword het. Trouens, volgens oorlewering is dít hoekom Dingaan vir Piet Retief hulle vermoor het - die ou vuilgoed het gehoor die Trekkers het 'n baie lekker ding wat hulle saans oor die tjops gooi en toe wou hy dit vir homself kry.

Evan: Ek eet nie eintlik sout op kos nie, maar as ek sout proe raak ek lus vir tequila.

Charles: Dit lig die natuurlike geur van die kos beter uit. Dit oordonder niks nie. Die sout komplimenteer vleis se natuurlike geur.

Jaco: Ek het amper heimwee gekry toe ek die wildswors met nét goeie ou sout geproe het.

Hulle sê: "See how it runs."

Ons sê: Hy loop mooi.

(Evan Naude)

AGENT ORANJE

Marina-braaisout

Agtergrond: Hulle noem dit "die oorspronklike braaisout". As jy twyfel - hulle webwerf is www.salt.co.za. Wie anders kan dít sê?

Evan: Jô, maar dis souterig. Dit proe eintlik soos 'n arm man se Aromat.

Charles: Dit proe net so kunsmatig soos wat die oranje bottel lyk... Die kristalle is nogal groot. Hoe gaan dit op jou wors bly en nie afval nie? (Die korrels is régtig groot. - Jaco)

Jaco: Die voordeel hiervan is dat jy die oranje bottel op die oop see as 'n noodboei kan gebruik. Die sterk smaak (wat nie al te natuurlik proe nie) sal waarskynlik ook die haaie afskrik.

Hulle sê: "An exciting flavour for braais and a family favourite in the kitchen."

Ons sê: As jy nie bang is vir sout nie.

(Evan Naude)

DIé TANNIE IS TOPS

Ina Paarman Braai & Grill

Agtergrond: Tannie Ina het die laaste dekade of wat bekendheid verwerf vir haar speserye. Nie net proe die meeste baie lekker nie, maar is hulle ook bekend daarvoor dat hulle nie vol nare kunsmatige geursels en chemikalieë is nie. Tannie Ina se sout was vir ons die lekkerste van almal.

Evan: Jy proe al die goed wat jy op die etiket se prentjie sien. Dit wil nogal gedoen wees.

Charles: Ek het hierdie spesery altyd in die huis. Dis lekker gebalanseerd en 'n staatmaker.

Jaco: 'n Mens proe die geur van songedroogde tamaties. Dit smaak na kwaliteit, nie chemies nie, en dis hoekom tannie Ina steeds een van my gunsteling-tannies is.

Hulle sê: "Nie net vir braaivleis nie, maar ook vir knoffelbrood."

Ons sê: Hierdie is ons gunsteling, veral as jy jouself as 'n bietjie van 'n fynproewer beskou.

(Evan Naude)

DIE NUWE GESLAG

Cerebos Braai Salt

Agtergrond: Selfs die tradisionaliste van Cerebos het op die braaisout bandwagon gespring. Piet Retief sou nie beïndruk gewees het nie.

Evan: Paprika, seldery... kamana. Na hierdie proe gaan ons nie meer smaaksintuie oorhê nie. Dit sal wel lekker op 'n hoendervelletjie wees.

Charles: Dis lekker soos 'n Fizzer-sweetie - jy weet dis ongesond, maar jy kan nie ophou nie. Die smaak mag egter lekker kos oorheers.

Jaco: Dit proe soos 'n nuwe geur Aromat.

Hulle sê: "Shake on steak, rock on ribs, blast on boerewors, hit on a hamburger for flame grilled great taste!" Die etiket lig jou ook in dat daar 89,1% sout in dié braaisout is. Net sodat jy ook weet.

Ons sê: Die geur is nogal oorheersend, met ander woorde, dit kan goed werk vir hoender en vark. Maar jy sal dit nie op 'n puik stuk steak wil gooi nie.

(Evan Naude)

NUWE GESLAG II

Cerebos Flame Grilled Barbecue Seasoning

Agtergrond: Nóg 'n nuwe produk van Cerebos. Ons hoop net hulle hou nooit op om regte sout te maak nie.

Evan: Dis merkbaar soeter as die ander Cerebos Baai Salt. Dit proe trouens soos barbecue-sout - want barbecue is mos nie regtig braai nie.

Charles: Die eerste indruk is dat dit minder souterig is as verwag. Die soutsmaak kom eers agterna. Terloops, die etiket sê daar is gluten in, so prof. Tim Noakes sal nie hiermee braai nie.

Jaco: Wat opmerklik is, is die swart vlokkies in die geurmiddel. Ek wonder wat dit is, want peper is dit beslis nie.

Hulle sê: "Gives vim to veggies, stick to steaks, a boost to boerewors and a pep to potatoes."

Ons sê: Hy het amper 'n identiteitskrisis - dié geurmiddel weet nie wat hy wil wees nie. As hulle soveel moeite met die sout gedoen het as met die produkbeskrywing, sou dit 'n wenner gewees het.

(Evan Naude)

ROOI GEVAAR

Robertsons Barbeque Spice

Agtergrond: Robertsons is sinoniem met speserye, nog lank voordat die sjef Reuben Riffel, wat nou 'n Robertsons-ambassadeur is, 'n vonkel in sy pa se oog was. Baie van ons het grootgeword met Naas Botha op losskakel, twee jaar se diensplig en Robertsons se Steak and Chops-spesery. Hoe gaan dié een proe?

Evan: 'n Mens sal versigtig met hom moet wees...

Charles: Ek hou van die brand... (Hy trek dan los met 'n hoesbui.) Sjoe, jy moet dalk eerder vir jou gaste vra of hulle van sterk speserye hou voordat jy dié een op die vleis gooi.

Jaco: Die etiket agterop sê dit word in La Lucia, naby Durban, gemaak. Jy kan die Indiese voorliefde vir branderigheid proe. Hel, maar die rissies is skerp.

Hulle sê: Nie veel nie.

Ons sê: Want die rissies doen die praatwerk.

(Evan Naude)

WAT HET ONS HIER?

Spur Meat Spice

Agtergrond: Hulle is bekend vir hulle familierestaurante, maar het onlangs uitgebrei na die maak van souse en speserye onder dieselfde handelsmerk. Hierdie sout is ons naaswenner.

Evan: Die peper is nogal opmerklik.

Charles: Dis 'n verbasend aangename kombinasie van smake.

Jaco: Dit het 'n komplekse geur. Die peper is merkbaar, maar nie oordonderend nie.

Hulle sê: "Ideal to enhance the taste of meat." Dis boonop ook "Low Fat"... en die lys bestanddele is langer as Eben Etzebeth.

Ons sê: Vir die Spur is dit nogal 'n komplekse, aangename smaak. Niks oordonder te veel nie. Ons was aangenaam verras.

UITBUNDIG

Shake Me! Braai Salt

Agtergrond: Dit het nogal 'n uitbundige verpakking - met 'n lys bestanddele wat geure soos paprika, swart peper, koljander en knoffel insluit. Dis 'n goeie teken.

Evan: Ek sal hulle woord moet aanvaar dat daar paprika in is, want ek proe dit not te hel.

Charles: Dit proe eers amper soos Aromat, maar eindig met 'n vae pepersmaak.

Jaco: Ek proe amper niks van bogenoemde nie. Dis basies 'n duur sout.

Hulle sê: "Geen MSG, preserveer- of kleurmiddels nie."

Ons sê: Hulle sê "Shake me!", maar vir ons is dit alles behalwe aardskuddend.

(Evan Naude)

DIE LEGENDE

Aromat Original Seasoning

Agtergrond: Dis die oorspronklike, gloei-in-die-donker, MSG-belaaide wapen van chemiese oorlogvoering. Almal hou daarvan om daarmee te spot - maar dis half 'n spot met respek. Ons voel dit verdien 'n eervolle vermelding.

Evan: Speserye is veronderstel om soos Ina Paarman se goed te lyk waar jy die bestanddele kan sien. In Aromat, wel, jy wil seker nie weet wat daarin is nie.

Charles: Dit lyk kunsmatig, veral daai radio-aktiewe geel. Jy weet nie wat daarin is nie. Maar verrassend genoeg is dit regtig lekker. As ek net een soort spesery in my ammokis mag hê, sal dit waarskynlik Aromat wees.

Jaco: Ek kan nie glo ek sê dit nie, maar dit het 'n verbasend komplekse smaak in vergelyking met baie mededingers. Dis regtig 'n aangename verrassing, al was ek 'n bietjie skepties teenoor Aromat.

Hulle sê: "Aromat Seasoning." Niks meer nie.

Ons sê: Hulle hoef na al die jare regtig nie so beskeie te wees nie.

(Evan Naude)

VOOR-OP-DIE-WA

Robertsons Traditional Braai Mix

Agtergrond: Enige braaispesery wat daarop roem om Traditional te wees, moet baie seker van homself wees. Want wat is die tradisionele braaispesery nou eintlik?

Evan: Die spesery moes begin het met die nasmaak, want dis aanvanklik maar soet en flou.

Charles: Braaispeserye moenie soet wees nie. (Braaiers ook nie. - Jaco)

Jaco: Dis eers baie soet, dan kom die interessante speserysmaak deur, voordat dit eindig met 'n warm affêre. Amper soos 'n stoute meisie op 'n CSV-kamp.

Hulle sê: "Masterblends for braai" en "Traditional Braai Mix". Dis gróót stellings daai...

Ons sê: Hulle is dalk 'n bietjie voor op die wa.

(Evan Naude)

KNOFFEL SWAARGEWIG

Jimmy's Braai Salt (500g)

Agtergrond: Almal ken Jimmy's se braaisouse en marinades. Fynproewerskos is dit nou nie juis nie, maar hulle is gewild onder baie mense. Hoe gaan hulle braaisout proe?

Evan: Jislaaik, hierdie braaisout se houer is so groot soos 'n bottel drain cleaner...

Charles: Die gate bo-op is so groot soos sluise! En as ek dit so proe, sou ek dit eerder Jimmy's Salt & Garlic genoem het.

Jaco: Vergeet wat die lys bestanddele sê: Al wat bly is die sout- en knoffelsmaak.

Hulle sê: "The original, most versatile."

Ons sê: As jy nie bang is vir knoffel of sout nie.

GEEN HANDELSMERK

Pick 'n Pay Barbeque Spice

Agtergrond: In 'n oomblik van impulsiewe swakheid het ons hierdie geen-naam-produk in die mandjie gegooi. Hoe sou dit proe?

Evan: Dit proe of hier heeltemal te veel kunsmatige geursel in is.

Charles: Dit ruik soos koffie en stof.

Jaco: Dit ruik soos chocolate milkshake, maar proe verbasend souterig.

Hulle sê: Een van sy bestanddele is "nature identical flavourant (smoke)".

Ons sê: Ons kan die "rookgeur" ruik. En tog, close, but no cigar.

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM