foto's Kyle Kock
Ons weet al hoe om 'n tent te onderhou - ons het immers 'n jaar gelede op hierdie blaaie daaroor gesels. Ons het jou onder meer vertel waar jy jou tent moet opslaan, wat jy nié in hom moet sit nie en hoe om hom skoon te maak en veilig te bêre.
Dit is al die dinge wat jy kan beheer.
Maar ongeag die voorsorg wat ons tref, is daar tog die wet wat na ene Murphy genoem is... en dié wet, weet ons almal, bepaal dat as iets verkeerd kan gaan, dan sal dit.
Soms vang 'n doringboom se tak jou tent en maak 'n 10 cm lange skeur teen die voorkant af, reg langs die deur. Of jou oorentoesiastiese tiener wat pas gehoor het daar is Wi-Fi langs die oord se swembad, trap een van jou tentpale in sy peetjie in.
Of dalk gee die ritssluiter moeilikheid omdat dit geroes het en iemand vergeet het om die tent by die huis oop te gooi nadat julle in die reën gestaan het.
Ons het by die kenners van Christys Tent and Canvas in Dieprivier, Kaapstad, gaan aanklop om 'n klompie wenke wat jou kan help om dié klein probleme self uit te stryk.
1. Sien die binnekant van buite

Jy stap effens te naby aan jou tent verby terwyl jy op pad is om hout te kap en die byl vang die seil en skeur 'n gat in jou kamphuis. Ontspan, daar is nie rede tot paniek nie. Ja, jy het effens drooggemaak, maar jy hoef nou nie te sit en bid die reën bly weg nie.
Afhangend van die soort tent en sy grootte is die oplossing dalk heel eenvoudig. In die meeste gevalle sal jy dit sommer kan regsien met die nylonplakstrook wat jy in 'n Oztrail-tentherstelpak kry. Dit is by Takealot.com beskikbaar teen R100.
As jy behendig is met 'n naald en gare, kan jy dit selfs blywender regmaak met die naald, gare en seëlgom wat ook in die herstelpak is. Onthou net dat die oppervlak skoon en droog moet wees voor jy dit regmaak.
As jy egter net die plakstrook gebruik vir 'n tussentydse oplosssing, moet jy na die probleem laat omsien wanneer jy tuis kom. Die meeste van die tyd kan jy net die skeurplek laat regmaak, maar as dit groot skade is, gaan jy 'n hele paneel moet vervang.
By 'n plek soos Christys kan dit enigiets tussen een en vier uur duur, en as daar boonop 'n venster vervang moet word, gaan jy selfs langer moet wag.
2. Buig die paaltjie…

As jy jou tent ordentlik en sorgvuldig wegbêre wanneer jy nie kamp nie, behoort jou pale betreklik veilig te wees, veral as jy jou paalsak gebruik om die tent op te rol. Dit sorg dat die pale 'n opgestopte laag om hulle het vir ekstra beskerming.
Maar die meeste pale wat byvoorbeeld vir koepeltente gebruik word, word van een of ander plastieksamestelling vervaardig en kan metteryd bros raak en buig of selfs morsaf breek.
By Christys word drie verskillende soorte materiaal gebruik om jou gebuigde tentpale weer reguit te kry: koolstofvesel, plastiek en hout met 'n buitelaag van koolstofvesel. Met dié verskeidenheid kan hulle óf 'n hele tentpaal óf net 'n enkele swak skakel regsien. Dit hang van jou behoeftes af.
In die kampterrein kan jy 'n gebreekte paal as noodmaatreël sommer tjop-tjop met 'n rolletjie boereband (duct tape) regmaak. Draai 'n klompie lae oor die plek waar die paal gekloof is en jy behoort jou kampnaweek in vrede te kan geniet. Moet egter nie die band té dik omrol nie, want die paal moet steeds in die passtuk pas.
Coghlans vervaardig plaasvervangertentpale wat teen R120 per stel beskikbaar is by Camp & Climb. Hierdie stel sluit vier 65 cm-veselglaspale in met 'n deursnee van 9,5 mm.
Met sommige tente kry jy 'n metaalbuisie by wat jy oor die paal kan skuif vir 'n kitsoplossing, maar dis gewoonlik net een.
Jy kan ook die rekband in die pale vervang - dié is in verskillende diktes beskikbaar en jy ryg dit met 'n stukkie staaldraad deur die tentpale.
Of gaan klop by die beroepsmense aan: As hulle nie te besig is nie, kan hulle jou binne 'n halfuur help.

3. 'n Ander soort waterbed
Ongelukkig is daar heelwat faktore wat jou tent se waterdigtheid kan belemmer, waaronder langdurige blootstelling aan die son se UV-strale of wanneer jy die tent was met 'n skoonmaakmiddel wat skadelik is vir die samestelling van die materiaal waarmee die tent gemaak is.
As die tent binne nat is wanneer jy soggens wakker word, is dit raadsaam om eers te kyk of daar genoeg ventilasie is.
Dalk is jy net die slagoffer van ernstige kondensasie. As dít nie die probleem is nie, moet jy die tent se nate nagaan. Hou jou oë oop vir los stikwerk of 'n naat wat effens losgetrek het. As dit wel die geval is, kan jy 'n laag seëlmiddel oorverf om die situasie tydelik op te los.
Onthou net dat die oppervlak kurkdroog moet wees voor jy dit doen.
Indien die naat heeltemal losgetrek het, gaan jy die tentherstelpak moet nader trek om dit weer vas te werk. Hierna moet jy die naat ook met 'n seëlmiddel behandel.
By Christys neem hulle jou tent buitentoe waar hulle die waterdigte laag eweredig in die son kan opverf. Jy kan dit egter ook self doen. NuSeal kos in die omgewing van R400 vir 'n 5 l-blik.

4. O gits, die ritssluiter
Die ritssluiter het nie veel verander sedert hy meer as 'n eeu gelede gepatenteer is nie.
Dié nuttige katoetertjie se taamlik basiese samestelling beteken enige probleme wat jy dalk mag kry, het waarskynlik 'n eenvoudige oplossing.
As die glystuk vassit en jy het klaar seker gemaak daar is nie 'n stukkie materiaal wat vasgeknyp word nie, is jou volgende stap om die tandjies te smeer. Hiervoor kan jy die olyfolie in jou kombuiskrat, 'n koekie seep, 'n kers of 'n bietjie petroleumjellie (soos Vaseline) gebruik.
Maak ook seker geen van die tandjies staan skeef nie. Jy kan 'n skerpbektangetjie gebruik om hulle terug in lyn te kry.
'n Ander moontlike probleem is dat die glystuk se mondjie effens oopgebuig het. Jy kan dit ook met 'n tangetjie regsien.
As jy al dié dinge probeer het maar jou tent se ritssluiter wil stééds nie behoorlik werk nie, is dit tyd om hom te vervang. Jy kan dit binne 'n dag by 'n plek soos Christys laat doen. Hulle ritssluiters word deur een van die wêreld se grootste vervaardigers, YKK, voorsien.
Weg Ry & Sleep sê
Teoreties kan jy alles self regmaak wat moontlik met jou tent verkeerd kan loop. Soms moet jy net kreatief dink, veral as jy in die kampterrein 'n noodgeval het. Maar wanneer jy terug is by die huis, is die beste raad om dit vinnig en ordentlik te laat doen deur iemand wat weet wat hulle doen. Op hierdie manier beskerm jy jou belegging. Jy sal nie spyt wees nie.
Pak dié goed in
'n Herstelpak vir tentpale
Dit is veral nuttig as jou tent nie sy eie klein metaalbuisie het vir noodgevalle nie. Maak seker jou herstelpak sluit 'n stuk rekband in.
'n Rol boereband
Jy kan dit gebruik om basies enigiets vas te maak. Boereband was 'n staatmaker in MacGyver se gereedskapkis en hy is ewe tuis tussen jou kamptoerusting.
'n Herstelpak vir jou tent
Dit sluit gewoonlik 'n klompie nuttige stukkies in, soos gare, naalde en plakstukke. Jy gaan egter sukkel om bypassende plakstukke te kry as jou tent neon-oranje is - hulle is gewoonlik kakiekleur, groen of blou.
Ekstra tenttoue
'n Mens weet nooit wanneer jy dit gaan nodig kry nie, maar hulle kom altyd handig te pas. Dalk waai die wind sterker as wat jy verwag en jy het eksta beskerming vir jou tent nodig... dan gaan jy bly wees jy het dit.
Ekstra tentpenne
Tentpenne buig of verdwyn wanneer jy dit die minste verwag. Hou 'n noodstel byderhand in 'n aparte sak.
Tange
Die skerpbektang is die beste vir fyn takies, maar hou ook 'n gewone een byderhand.
Seëlmiddel
Jy kan dit in 'n spuitblik koop en maklik saamneem wanneer jy gaan kamp. As jy onseker is hoe waterdig jou tent is, spuit 'n bietjie aan die binnekant, al met die nate langs, nadat jy opgeslaan het. Doen dit terwyl die weer in jou guns tel. Dit gaan jou min help as jy dit doen nadat dit begin reën het en jou tent lek.
Die geheim is om dit op 'n droë en skoon oppervlak te spuit.
Ditjies en datjies
Maak 'n Ziploc-sakkie vol met items wat jy weet jy een of ander tyd gaan nodig kry, soos glystukkies vir jou tenttoue, die haakstukke wat jou tent aan die paal vashou, eindstukke vir jou pale en buisies vir waar die pale in mekaar steek. Van dié items kos so min as R2 by Christys en jy kan jou hele sak vir minder as R100 volmaak















