Greg Ewing beskryf homself as 'n branderplank-, reis- en avontuurfotograaf. Hy's die fotoredakteur van die branderplanktydskrif ZigZag en gebruik sy kamera om te verken. "Plaaslike mense aanvaar dikwels dat ek 'n ryk Amerikaner is," vertel hy. "Ek sê dan vir hulle ek is net soveel Afrikaan as hulle: Ek én my ouers is hier gebore."
Greg is inderdaad 'n boorling van Oos-Londen en het later 'n groot deel van sy kinderjare in Kaapstad deurgebring. "Fotografie is nie so romanties as wat mense dink nie," sê hy. "Jy moet hard werk en spaar vir jou toerusting. Maar aan die ander kant kon ek al na heelwat lande in Afrika reis. Ek kan nie genoeg van hierdie vasteland kry nie. Elke land en kultuur is dalk verskillend, maar alles voel verbonde aan mekaar."
Greg is ook die stigter en 'n lid van Ocean Collective, 'n aanlyngalery wat kontemporêre surf-kuns verkoop. As hy nie reis is nie, bly hy in Durban saam met sy vrou en twee dogters.

Sonsondergang op die rotse in Réunion-eiland
'n Visserman sit op die rotse by La Pointe des Châteaux, 'n punt aan die weskus van Réunion. Greg was daar naby op die dorpie Saint-Leu en het dié sonsondergang gesien toe hy by sy hotel uitstap. "Gelukkig het ek al my toerusting by my gehad - ek het net oor die pad gehardloop en gesoek na 'n skoot wat die lig die beste benut," sê hy. "Dis hoekom ek so lief is vir reisfotografie: Geleenthede kom uit diebloute - jy moet dus altyd reg wees."
HOE? Canon EOS-1D Mk. IV; 600 mm-lens; sluiterspoed 1/1 600ste van 'n sekonde; lensopening f5.6; ISO 200.

Markdag in Marrakesj, Marokko.
'n Vrou loop deur 'n mark naby Jemaa el-Fnaa - 'n bedrywige plein in die hartjie van Marokko se vierde grootste stad.
"Die markte in Marrakesj oorweldig 'n mens se sintuie," sê Greg. "Ek was baie opgewonde om alles af te neem, net om agter te kom dit is nogal 'n uitdaging om al die elemente te balanseer: helder kleure, lig wat instroom en die skare mense. Ek moes stadiger te werk gaan, my voorwerp kies, alles anders ignoreer en op my komposisie en beligting konsentreer."
HOE? Canon EOS-1D Mk. II; 70-200 mmlens; sluiterspoed 1/400ste van 'n sekonde; lensopening f2.8; IS

Portret van'n visserman in Agadir, Marokko.
Greg was 'n paar jaar gelede deel van die span wat The Africa Project, 'n dokumentêre film oor branderplankry, verfilm het. Terwyl hy op soek was na branders naby die kusdorp Agadir in Marokko, het Greg hierdie visserman gesien: "Hy het verby ons motor geloop, 'n paar trekke aan sy sigaret gegee en ons het blad geskud. Ek het gevra of ek 'n foto van hom mag neem. Mense tree partykeer vreemd op as 'n mens dit vra, of hulle wil geld hê, maar hierdie ou was rustig. Dit is waarskynlik my gunstelingreisportret."
HOE? Canon EOS-1D Mk. II; 70-200 mmlens; sluiterspoed 1/200ste van 'n sekonde; lensopening f5.6; ISO 100.

Tyd vir branders vang in Dakar, Senegal.
Branderplankryers en 'n plaaslike gids stapel hulle planke op 'n taxi in die buitewyke van Dakar. Greg het hierdie foto geneem tydens 'n branderplank-opdrag in Wes-Afrika. "Dakar was te sien in The Endless Summer, daai klassieke fliek uit die jare sestig. Dis waarskynlik waar ek die idee gekry het. Ek het 'n opvolgreis soontoe aan my redakteur voorgestel en hy het saamgestem!"
HOE? Canon 40D, 17-40 mm-lens; sluiterspoed 1/320ste van 'n sekonde; lensopening f8; ISO 200.
* Gaan na gregewingphoto.com en oceancollective.co.za om nog van Greg se foto's te sien.
















