Het jy hare op die tande?
Wanneer hy nie sy brood en botter as eiendomsagent verdien nie, pak Dries Dreyer van Theresapark in Pretoria sy tas en gaan verken die res van Suider-Afrika.
"Ons was deel van 'n toergroep wat in Botswana met Hunter's Road langs tot bo by Kasane gery het. Die ouens was nogal skepties oor my Hyundai ix35 en die Skipper Ranger wat ek gesleep het. Maar my sleepkombinasie het die pyp gerook en ons het dit tot in die Chobe-reservaat gemaak.
Daar het ons met 'n aluminiumbootjie tot by die Sedudu-eiland gevaar - en dít is waar ek dié foto geneem het. Die fyn detail - soos die hare langs die tand - is vir my treffend en sorg vir 'n interessante foto."
Hoewel dit 'n kleurfoto is, lyk Dries se foto basies swart-en-wit, en omdat daar nie kleur is nie, maak die geheelbeeld merendeels staat op detail en komposisie.
Die olifant is só naby afgeneem dit voel omtrent of hy sy tand in jou oog druk. 'n Mens verwag so iets van fotograwe met lang lense, maar Dries wys hier jy kan ook met beskeie toerusting 'n treffende foto neem.
Met die eerste oogopslag lyk dit bloot na 'n foto van 'n olifanttand. Die tand is wel die fokuspunt, maar danksy die res van die detail is daar van hoek tot kant dinge wat jou oog tref.
Die diagonale lyn van links onder na regs bo sny die foto in twee. Dit sorg outomaties vir diepte - 'n slim komposisie-element wat deur die fokuspunt strek. Dis ook op hierdie lyn waar 'n mens die hare sien.
Ook die plooie in die vel sorg vir 'n verdere vlak op die foto. Wanneer 'n mens nóg nader kyk, sien jy die klein spikkeltjies op die olifant se vel. Dit is iets wat jy gewoonlik waarskynlik nie sou oplet nie, maar danksy Dries se foto kan 'n mens opnuut weer die mooi van die natuur waardeer.

Tyd vir asemskep
Hy werk as 'n foto-safarigids digby die Krugerwildtuin en is deurgaans op soek na iets besonders om af te neem, sê Stefan Kruger van Witrivier.
"Ek het 'n versoek van gaste gekry om seekoeie te gaan soek sodat hulle dié grootmenere vroegoggend kan afneem. Die gedagte was om hulle te kry wanneer hulle van onder die water af opkom en dan uitasem - sodat 'n mens daardie bol sproei in die lae lig kan sien.
Ons het dié twee seekoeie in die Mbalidam raakgeloop en solank begin regstaan om die knoppie te druk. Natuurlik maak 'n mens al jou verstellings vóór die tyd sodat jy nie die foto mis nie. Hierdie was die beste raampie uit die sowat 15 wat ek geneem het."
Stefan se beligting hier is presies die teenoorgestelde as dié van Elma se (onder). Met al die donker in die agtergrond sal 'n ligmeter op 'n algemene verstelling die foto eerder ligter wil maak en sodoende die foto oorbelig.
Soos Stefan verduidelik, het hy self die verstellings vooraf gemaak sodat hy die toneel kan afneem soos 'n mens dit met die oog sien. As die foto té lig was, sou die hele sproeiwolkie daarmee heen gewees het, wat tans die anker van die foto is.

Korreltjie klein...
Wanneer hulle weggaan, is haar kamera altyd om haar nek, sê Elma Gough van Pretoria.
"Ons het in April 2018 by Dube naby Brits gekamp, 'n plek met 'n magdom dierelewe. Dít is waar ek hierdie grysloerie afgeneem het. Ek raak nie aan my kamera se verstellings nie en gebruik die Outo-modus, en daarom is dit 'n geval van mik-en-druk en hoop op die beste...
Ek verander my foto's ook nie ná die tyd op die rekenaar nie, behalwe dalk om dit kleiner te sny. As 'n mens op dié foto inzoem, kan jy 'n saadkorrel in die grysloerie se bek sien."
Net soos Dries se foto het dié een van Elma net twee kleure: swart en blou. Uit 'n artistieke oogpunt sou die foto nie naastenby soveel trefkrag gehad het as dit nie 'n silhoeët was nie.
Omdat Elma nie met die kameraverstellings peuter nie, flous hierdie ligomstandighede die ligmeter wat nie besef die groter ruimte op die foto is in der waarheid ligter nie. Die ligmeter kompenseer verkeerdelik hiervoor en die foto is dan, as getroue beeld van wat voor die lens is, té donker.
Maar met die kamera se fout verander die foto van bloot 'n grysloerie in die boom na 'n kunswerk met lyne, vorms en komposie. Elma gebruik die derdelynkomposisie, en al die negatiewe ruimte - die blou regs en onder die voël - balanseer netjies met die swart op die foto.
En as 'n mens nader staan, sien jy inderdaad 'n saadkorrel in sy bek, net daardie laaste bietjie detail.
Stuur jou foto vir ons... en ons plaas dit dalk hier.
Ons soek nie die tradisionele "kompetisiewenners" nie; net doodgewone foto's wat vir jou mooi is. Van 'n foto wat jy dadelik as jou nuwe tuisbladfoto op Facebook gebruik regdeur tot kinders wat in die swembad plas. Of dit met 'n gróót kamera of jou selfoon geneem is, dit maak nie saak nie.
DRIES DREYER wen 'n Camp Cover- kamerasak ter waarde van R520 met sy foto - veels geluk! Stuur jou foto's na leon.botha@media24.com

















