Buitelewe

Gasspietkop

Die meeste kampgasstowe en gasyskaste het een: Dit is 'n ronde affêre, net-net kleiner as jou handpalm. Dit lyk amper soos twee pierinkies met die bak kante na mekaar - met 'n gaspyp aan weerskante. En dié pype verbind jou gasbottel met die gastoestel.

'n Reëlaar pas gewoonlik direk op die gasbottel, maar jy kry ook een wat 'n ent weg sit. Gasreëlaars word lankal nie meer in Suid-Afrika gemaak nie. Dié wat jy vandag op die winkelrak sien - daar is omtrent agt handelsmerke - kom van Europa of China. Elkeen van dié ingevoerde reëlaars moet deur die owerheid goedgekeur word voordat dit hier verkoop mag word.

Elkeen van dié ingevoerde reëlaars moet deur die owerheid goedgekeur word voordat dit hier verkoop mag word.

Kobus Voigt is die eienaar van Novida Testing Services in Pretoria, en hy is die man wat sê watter reëlaars op peil is en watter verby moet hou. Kobus het die groen lig van die Suid-Afrikaanse Nasionale Akkreditasiestelsel (Sanas) vir die toets van gasreëlaars en is die enigste een in die land wat 'n gasreëlaar 'n regmerkie mag gee.

Hy het voorheen by die SABS gewerk, maar spits hom sedert 2004 onder meer toe op die toets van reëlaars. Ons het by Kobus aangeklop om te sien hoe hulle die toets slaag.

Eerste dinge eerste

Kobus sê die reëlaars waarmee kampeerders te doene kry, staan bekend as 'n 2,8 kPa-laedrukreëlaar. Wanneer dit by gas kom, praat jy nie van bar nie, maar wel kPa (kilo-Pascal) - die internasionale standaardeenheid vir druk.

Nie alle reëlaars word dieselfde geskape nie. In Amerika kry jy byvoorbeeld toestelle van 3,7 kPa en 5 kPa. Kobus sê dit is omdat ons en die Amerikaners nie dieselfde gas gebruik nie.

Hulle gebruik óf butaan- óf propaangas, terwyl ons LP-gas (dit is vloeibarepetroleumgas) brand - 'n kombinasie van die twee. Die ideaal sou 'n eweredige 50-50-mengsel wees, maar in Suid-Afrika is die verhouding nader aan 70% propaan en 30% butaan.

Die druk in jou gasbottel kan wissel van 100 kPa tot 700 kPa (of dan 1 bar tot 7 bar). Vergelyk dit met 'n motorband wat jy gemiddeld 2 bar pomp, en jy besef die gas in jou gasbottel is onder kwaai druk. Die reëlaar moet 'n konstante gastoevoer van 2,8 kPa lewer terwyl die gasbottel leër word.

Die ideaal sou 'n eweredige 50-50-mengsel wees, maar in Suid-Afrika is die verhouding nader aan 70% propaan en 30% butaan.

Dis 'n baie lae druk - dis minder as die druk wanneer jy al daai kersies op jou verjaardagkoek uitblaas. 'n Reëlaar is ook ontwerp om in 'n bepaalde tyd 'n spesifieke hoeveelheid gas deur te laat, byvoorbeeld 1 kg gas teen 2,8 kPa per uur.

Hoe werk hy?

Die een kant van die reëlaar is verbind met die gasbottel en die ander kant aan die gastoestel. Die gas wat die reëlaar weens die druk in die bottel binnestroom, druk teen 'n diafragma in die reëlaar.

Agter die diafragma sit 'n veer wat terugdruk om 2,8 kPa gas deur te laat en die toevoer na die reëlaar proporsioneel af te sny met 'n klep wat 'n kantelbalkie genoem word. Hoe slapper die veer, hoe minder is die druk aan die uitlaatkant; hoe stywer die veer, hoe hoër die druk. Party reëlaars het in die middel 'n verstelskroef wat jy kan draai om die veer te stel, maar dit is nie 'n goeie idee nie.

As jy peuter met die reëlaar en iets loop skeef aan jou stoof se kant, gaan die versekeringsouens kan vinger wys en weier om uit te betaal.

Wat's fout?

'n Mens kan sien as daar moontlik fout is met die reëlaar - die vlam sal nie na wens brand nie. As jou gasstofie se vlam flou en geel brand, is dit dalk omdat die druk te laag is. Die druk is moontlik weer te hoog wanneer die vlam 'n ent weg van die brander brand.

Kry jy verskillende soorte?

In wese kry jy net twee soorte reëlaars wat op 'n kampgasbottel pas: Die eerste staan bekend as 'n bulneusreëlaar en pas op gasbottels van 9 kg en groter, met 'n 5/8"-BSP-linksom-skroefdraad.

Die ander een word 'n swaaireëlaar genoem en lyk meer soos 'n winkelhaak. Dié reëlaar, vir gasbottels kleiner as 9 kg, het 'n 3/8"-BSPregsom-skroefdraad. Kobus sê hy kry nie baie dikwels te doen met reëlaars wat 'n tekortkoming het nie, maar soms kry jy dat die skroefdraad te klein is - of 'n reëlaar se einddruk te laag.

Hoe werk die toets?

Die volledige toets neem om en by vier weke en 'n reëlaar moet aan spesifieke standaarde voldoen. Dit sluit in enigiets van die materiaal waarvan dit gemaak is regdeur tot of daar gas lek aldan nie.

Dít moet 'n reëlaar hê

Reëlaars wat in Suid-Afrika verkoop word, moet aan die volgende vereistes voldoen:

  • Die draaimoer moet van metaal wees vir 'n ordentlike, stewige hegting.
  • Nie-metaaldele wat met die gas in aanraking kom, mag nie poreus wees nie, en dit moet 'n sekere hardheidsvlak hê.
  • Die reëlaar moet aan die veerkant van die diafragma 'n gaatjie hê.
  • 'n Gaspyp van 8 mm moet op die uitlaatpypie pas. Aan die ander kant moet skroefdraad wees.
  • Op elke reëlaar moet sekere inligting staan. Dit sluit in die handelsnaam; die rigting van die gasvloei (met byvoorbeeld 'n pyltjie); die uitlaatdruk (2,8 kPa); die gasvloei, uitgedruk in kg/h of g/h; die maand en jaar wanneer dit vervaardig is; en die spesifieke model.
  • Saam met die reëlaar moet jy 'n inligtingsblad bykry wat onder meer die volgende detail uitlig: Die reëlaar is slegs bedoel vir LP-gas; as die veerdruk vooraf verstel is, mag jy nie daaraan peuter nie; die agent of vervaardiger se adres; en hoe die reëlaar aan die gasbottel en -pyp verbind moet word.

Wees op die uitkyk vir dié gevaartekens

1. Wat vir 'n ding is dit?

Ekstra toebehore wat aangeskroef word, is onwettig.

2. Ou bok

Bottels wat voor 1969 vervaardig is, was van 'n swakker - ongetemperde - staal.

3. Plakkerskamp

Onwettige etikette op die bottel kan misleidend wees.

4. Die stampe en stote

Duike kan 'n teken wees dat die bottel geval het en nou dalk 'n swak plek het.

5. Vuur en vlam

Skroeimerke is 'n teken dat die bottel dalk aan oormatige hitte blootgestel is.

6. Sss...

'n Klep wat lek, beteken waarskynlik iemand het daarmee gepeuter.

7. Die rooi gevaar

Sigbare verwering soos roes beteken jou bottel se dae is getel.

8. Kyk 'n bars hou

Snye en/of krake beteken jy kyk na 'n tydbom.

9. Hande tuis, Sparky!

Tekens van herstelwerk aan die bottel - soos merke van 'n hoekslyper - beteken

daar's dalk 'n swak plek.

10. Mank voet

'n Voetring wat beskadig is, kan die bottel dalk laat skeef staan. (Dit het miskien op 'n harde oppervlak geval en 'n kneusplek gekry.)

'n Lys van skete

Gasbottels wat 10 jaar of ouer is, word gewoonlik aan die mark onttrek, maar as jy mooi na 'n gasbottel kyk, kan jy hom tot twee keer so lank gebruik. Nie almal is gaskenners nie, en wanneer jy jou silinder laat hervul, is die betrokke persoon veronderstel om volgens die LPGSASA se regulasies na die dinge hierbo op te let. (Indien enige van die probleme voorkom, mag die bottel nie hervul word nie.)

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM