Buitelewe

Kaptein, span die seile!

Die mensdom slaan al eeue lank tent op, en die beginsels om met pale en seile 'n dak oor jou kop te prakseer het min verander. Woonwatente word steeds van seil gemaak, maar die seil vandag is nie meer dieselfde as twintig jaar gelede nie.

Hedendaagse tentseile kan feitlik 'n leeftyd hou, maar dan moet jy mooi na hulle kyk - jou tent se lewensduur hang af van hoe jy dit oppas. As jy 'n paar goeie gewoontes aanleer, kan jy jou tent se leeftyd verleng.

Dubbeldoor. Slaan jou tent bo-op 'n grondseil op, al het dit 'n PVC-vloer. Op díe manier kry jy nie modder aan die tentvloer wat dan teen jou tent kan smeer wanneer jy afslaan nie.

Plan B. As jy nie 'n ekstra seil het nie, slaan die tent af op 'n skoon oppervlak soos plaveisel of gras. Probeer ook om nie op die seilgedeelte te trap terwyl jy dit opvou nie.

Vergeet van hoëdruk. Moenie hoëdruktoestelle gebruik om die tent skoon te spuit nie - dis nie goed vir die materiaal nie.

Koel vs. kol. Voëls sit in bome, en tente onder bome kry blertse. Bome self, soos doringbome, kan ook boomgom op die tent mors.

Hy't ook 'n siel. Hou oop vlamme, gekonsentreerde seep en goed soos insekdoders en deodorante weg van tente.

Kook anderkant. Moenie naby of teen die tent kosmaak nie. Die oliespatsels van die kos sal die seil vlek.

Maak eerder droog. Moenie 'n nat tent opvou en bêre nie - laat hom eers heeltemal droog word. As jy in die reën opslaan, slaan die tent weer by die huis op sodat hy kan droog word.

Hoes van roes. Moenie tentpenne saam met die tent opvou nie. Dit kan die seil beskadig of roesvlekke veroorsaak.

Lig hom vir lug. Moenie jou tent op 'n betonvloer bêre nie, want die tent kan steeds vog so trek. Bêre hom eerder op 'n droë rak, weg van die vloer af.

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM