Buitelewe

Kies só die regte slaapsak

Elke kampeerder wat sy sout werd is, besit 'n slaapsak, maar hoe kies jy die regte een vir jou behoeftes? Hier deel ons 'n paar vrae wat jy moet vra voor jy koop.

Slaapsakke kry jy in vele vorms en groottes en diktes, maar dis sy vermoë om jou warm te hou - dus waarmee hy gevul is - wat eintlik saak maak.

'n Slaapsak vol dons gaan byvoorbeeld veel beter wees wanneer die kwik daal as een wat met kunsdons of hollow fibre gevul is. Donsvere is ook meer kompak en jy kan 'n donsslaapsak kleiner opvou as een met 'n sintetiese vulsel.

Maar 'n donsslaapsak gaan jou beursie laat kreun, en boonop is party mense allergies vir donsvere. Wat jy behoort te koop, hang af van jou behoeftes.

Waar gaan jy kamp en hoe gaan jy kamp? As jy jou Gypsey in Desember by Mosselbaai gaan staanmaak, het jy immers nie 'n slaapsak nodig wat vir pooltoestande bedoel is nie.

'n Slaapsak is nie 'n goedkoop item nie, maar as jy die eerste keer reg kies, gaan jy waarskynlik net een keer in jou lewe slaapsak koop.

Vra dié vrae voor jy koop:

1. Die meeste vervaardigers gee 'n aanduiding op die slaapsak van die minimum temperatuur waarin die slaapsak jou gemaklik warm hou. As daar dus 0-10 ºC op die sak staan, moenie dink jy gaan snoesig slaap as die temperatuur tot by vriespunt daal nie - dit is die punt waar jou tande só begin klap dat jy waarskynlik 'n stopsel gaan verloor. Vir temperature onder vriespunt moet jy eerder kyk na iets met ‘n kappie wat jou kop ook toemaak.

2. Kyk na die gehalte van die ritssluier; 'n goeie slaapsak het gewoonlik 'n YKK-ritssluier. (YKK staan vir "Yoshida Kogyo Kabushikikaisha" - ons kan dit ook nie uitspreek nie, maar dié Japannese ouens maak meer as die helfte van die wêreld se ritssluiters.)

3. Hoe groot is die een wat in die sak gaan slaap, en is hy woelig? Die een slaapsak is dalk groot genoeg vir jou laaitie in graad ses (al is hy woelig) maar Oom Jors wat geneig is om in sy slaap te skop of rond te rol gaan meer ruimte aan die onderkant van die slaapsak nodig hê.

4. Hoeveel pakplek het jy?

5. Gaan jy jou slaapsak in die boendoes op die grond of bo-op 'n kampbedjie ooprol?

Wat is dit?

• Kunsdons of hollow fibre is 'n sintetiese materiaal wat vervaardigers as slaapsakvulsel gebruik. Dit het nie dieselfde isoleringsvermoë as donsvere nie, maar is heelwat goedkoper en ook die maklike keuse vir mense met allergieë.

• Donsveervulsel is duurder as hollow fibre, maar dit hou jou warm in selfs die koudste weersomstandighede. As 'n reël is dit ook ligter en kompakter.

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM