Buitelewe

Koel én veilig

Getty Images
Getty Images

FOTO'S: JAMES GARAGHTY

WAT BETEKEN AL DIE GROOT WOORDE?

Het 'n mens regtig gepolariseerde lense nodig?

Wel, jy hoef nie die ekstra geld daarvoor te betaal nie en soms is die prys tot 30% meer, maar dit bied beslis meer beskerming as gewone lense.

Gepolariseerde lense keer meer UV-lig en beskerm jou oë teen agteruitgang en die ontwikkeling van katarakte. Dit verminder ook druk op jou oë, wat tot hoofpyne kan lei. Die belangrikste is dat dié lense fel lig uitskakel. Dis veral doeltreffend as jy op of naby water is: Jy kan in die dieptes aftuur om rotse te omseil en jy kan ook sien waar die forel hou as jy vlieghengel.

Hier is die feite: Dis nie net 'n deklaag nie. Daar is baie maniere om 'n gepolariseerde lens te maak, maar byna almal het 'n gepolariseerede laag ín die glas wat soos 'n vensterblinding werk om lig te keer.

Nie almal is dieselfde gehalte nie. Die gehalte, doeltreffendheid en gepolariseerde laag wissel van lens tot lens.

Die beste lense word gemaak van glas met 'n gepolariseerde laag in die middel. In die meeste gevalle is dit ook die helderste, distorsielose en krapbestande lense - én die duurste. Glas is ook swaarder as plastiek en ander stowwe.

1.Oakley Radar EV Advaneer (Ernstiger sake)

As jy op soek is na 'n donkerbril vir harde oefening in die buitelug, is hierdie veerligte een met tegniese swart Prizm-lense die regte nommer vir jou. Dié lense word gemaak van skitterwerende glas, wat kontras en detail mooi uitlig: Dis ook aangepas dat die lens nie opwasem nie: Lugkanale herlei warm lug en jy kan dus mooi sien, al swoeg jy op jou fiets.

Die groot lense bedek 'n groter deel rondom die oog, en die neuskussinkies en armpies is bedek met 'n materiaal wat sorg dat die bril nie rondskuif nie. Hy gaan dus bly sit al hol jy teen bergpaaie uit.

R3 290 by Sunglass Hut

2.Maui Jim Makoa (Lenskoning)

Nie alle gepolariseerde lense is dieselfde gehalte nie. Hoe beter die gehalte van die gepolariseerde laag en die lensmateriaal, hoe beter die algehele oogbeskerming, en veral die UV-beskerming. Maui Jim-donkerbrille is duur, maar die lense is topklas.

Hierdie een is 'n neutrale grys kleur op die "SuperThin"-glas, wat 20% dunner en ligter is as standaardglas. Dit kan nie maklik gekrap word nie en die lense bly helder in direkte sonlig. Die bril lyk goed en sit gemaklik… en dít maak die prys minder eina.

R3 320 by mauijim.com

3. Sunski Foxtails ('n Sjiek buiteperd)

Dié is 'n redelik onbekende Amerikaanse vervaardiger, maar hy begin nou met goeie rede meer veld wen. Dis 'n sjiek donkerbril van goeie gehalte - die raam sowel as die gepolariseerde lense. Dié Foxtail lyk ewe goed by 'n pool party as op 'n staptog. Jy wil tog nie afsteek by jou byderwetse vriende nie, of hoe?

Die vlieënier-ontwerp bied goeie beskerming vir jou oë, en die "SuperLight"-harsraam word van herwonne plastiek gemaak. En die prys is ook nie te sleg nie.

R999 by Cape Union Mart

4. Arnette Maboneng (Vir die metaalwerker)

Dié staaldonkerbril het 'n reghoekige raam en is nommerpas vir iemand met 'n ovaal gesig. Hy sit nie so stewig op die gesig soos ander donkerbrille nie; moet dus nie daarmee gaan draf of fietsry nie.

Net soos die Persols is hierdie outjie beter geskik vir langpad ry of 'n glasie klink by 'n uitkykpunt. Die gepolariseerde grys lense sluit lig doeltreffend uit.

R1 590 by Sunglass Hut

5. goodr The OGs (Buite die boks)

Hierdie maatskappy neem homself nie te ernstig op nie... Kyk maar net na die name van die rame: Hierdie een is Tales From The Cyro-Crypt, en Stop and Smell the Rosé is 'n ander voorbeeld.

Dis prettige rame, maar die oogbeskerming is g'n grap nie: Die lense het 'n UV-bestralingsgradering van 400, wat beteken dit keer 100% van die son se UVA- en UVB-strale.

Die OGs se rame is retro, en word gemaak van liggewig materiaal met 'n glytrae afwerking. Die lense het lae wat die bril teen skrape en soutwater beskerm.

Dis dalk ontwerp vir veldloop, maar werk vir enige soort buitelugpret.

Vanaf R1 550 (met afleweringskoste); trailrunnerstore.com

6.Ray-Ban Wayfarer II (Klassieke elegansie)

Hier is nog een wat gekies is oor styl eerder as doeltreffendheid. Die Wayfarer met sy trapesoïdale lense sal by byna enige gesigsvorm pas. Die gepolariseerde lense het 'n effense groen tint, wat kontras en skerp lig goed uitsny. Dié een is wel aan die duur kant, maar jy betaal vir 'n ikoniese naam en tydlose styl.

R2 790 by Sunglass Hut

7. Oakley Frogskins (Retro vir almal)

Hierdie moderne weergawe van 'n klassieke donkerbril kan jy oral heen dra. Hy is liggewig en duursaam danksy 'n kombinasie van staal, nylon en plastiek - iets wat Oakley "O Matter" noem. Die arms is ook bedek met 'n stof wat sorg dat die bril nie sal afval wanneer jy Duiwelspiek uitswoeg nie.

Daarby is die swart gepolariseerde lense perfek vir helder lig. Dit laat net 11% ligoordrag toe en sluit skerp lig uit terwyl dit kontras en kleurversadiging verbeter.

R2 790 by Luxottica; 021 486 6100

8. K-Way Polarised (Sakpas)

Jy kan nog steeds jou oë beskerm sonder om 'n plaas se prys te betaal. Hierdie bril is liggewig en die polikarbonaatraam sit gemaklik - en die gepolariseerde lense doen wat hulle moet.

Maar wees versigtig: Die lense krap maklik.

R299 (uitverkopingprys) by Cape Union Mart

9. Persol 714 Steve McQueen (Vir die 18de putjie)

'n Persol-donkerbril gaan nie jou voorgee verbeter nie, maar jy gaan wel ekstra-koel lyk op die gholfbaan.

Hierdie oulike nommer vou twee keer op en pas in 'n piepklein sakkie (die armpies en neusbrug vou ook). Die lense word gemaak van dún kristalglas waarin 'n gepolariseerde laag vasgelê word.

Die blou tint versag die felheid van die lig. Die bril het ook buigsame armpies by die slape as deel van die Maflecto-stelsel - dit verlaag druk wat tot 'n kopseer kan lei as jy die bril vir 'n lang tyd dra.

Hy's duur, maar hy kan 'n leeftyd hou as jy hom mooi oppas.

R4 688 by persol.com/southafrica

Arthur Jones

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM