Ys-vrieskaste word tipies in drie groepe verdeel op grond van die grootte daarvan: Kompak, middelslag en groot.
'n Kompakte yskassie (gewoonlik 12-25 l) is klein genoeg dat jy hom tussen die voorste twee sitplekke kan staanmaak. Jy't nie 'n ingewikkelde dubbelbattery- stelsel nodig nie en prop hom sommer by die 12 V-sigaretaanstekersok in. Die nadeel van so 'n yskassie is dat hy waarskynlik nie kan vries nie. Hy's slegs geskik vir water, koeldrank en vrugte. Verwag om rondom R1 500 vir een te betaal.
Middelslag-ys-vrieskaste (25-65 l) het dikwels twee kompartemente: een vir bevrore proviand en 'n tweede wat slegs koel hou. Sommige van hulle werk uitstekend, maar omdat die twee kompartemente inmekaarvloei, is dit soms moeilik om die temperature in die ys- en vriesgedeelte afsonderlik te reguleer. Hierdie tipe ys-vrieskaste kos gemiddeld rondom R7 000.
'n Groot ys-vrieskas (65 l en meer) se kompartemente is gewoonlik fisiek geskei met afsonderlike temperatuurverstellings. Hier kan jy een hokkie gebruik om braaivleis bevrore te hou en die ander is vir groente, eiers en drankies wat nie moet vries nie. Groot ys-vrieskaste het beslis 'n dubbelbatterystelsel nodig. Verwag om minstens R10 000 te betaal vir hierdie menere.

Hoe werk 'n ys-vrieskas?
Vlugtige ammoniagas borrel uit 'n uitsitklep tot in 'n pyp wat die verdamper genoem word en teen die binnewand van jou ys-vrieskas kronkel.
Die ammonia binne dié verdamper is yskoud, en volgens die tweede wet van termodinamika - wat lui dat hitte vrylik na koue vloei en nooit andersom nie - vloei hitte uit jou proviand tot in die verdamper. Die ammoniagas word mettertyd warmer en 'n kompressorpomp trek dit uit die ys-vrieskas en druk die effens verhitte ammonia saam tot 'n vloeistof. Die warmer vloeistof kronkel met 'n tweede pyp, die kondensator, aan die buitekant van die ys-vrieskas waar die hitte na die koeler buitelug vloei (weer eens danksy die tweede wet van termodinamika). Hier is dikwels 'n waaier wat die verhitte lug wegswiep sodat koeler buitelug kan inbeweeg.
Die effens afgekoelde ammoniavloeistof keer terug na die uitsitklep wat dit toelaat om wéér 'n gas te word. Die skielike uitset
ting van die vloeistof laat die gas se temperatuur tot onder die vriespunt daal. Dit is 'n verdampingsproses wat wetenskaplikes nog nie heeltemal verstaan nie, maar dit werk. Tegnies gesproke maak 'n ys- vrieskas dus nie iets koud nie - die wette van termodinamika sê dis onmoontlik - maar hy verwyder wel die hitte uit jou braaivleis en bier totdat dit die temperatuur van die gas in die verdamperpyp ewenaar... 'n slim manier om natuurwette te omseil.
Isoleer is die beste geweer

Groot ys-vrieskaste het dikwels beter isolering en 'n sterker verkoelingstelsel as hulle kleinboeties. Hulle is uiteraard ook duurder, maar vir jou geld kry jy nie net beter verkoeling nie, maar ook meer pakplek.
Metaal is 'n beter geleier as plastiek, en daarom sal 'n ys-vrieskas met 'n metaaldop warmer raak as een met 'n plastiekdop. Metaal, veral vlekvrye staal, is egter duursamer as plastiek en sal langer hou.
Terloops, ons het slegte nuus vir kampeerders wat van aluminiumglasies hou. Aluminium hou nié jou drankie langer koel soos jy nog altyd geglo het nie. Die rede hoekom daai metaalglas so lekker koud in jou hand voel, is omdat hitte letterlik uit jou lyf stroom tot binne-in jou drankie. Daai tweede wet van termodinamika tel nie áltyd in ons guns nie.
Hande bo die kombers!
'n Oortreksel werk goed om die vlekvrye staal van jou National Luna spiekeries te hou, en keer ook dat die son jou Dometic se plastiek verweer. Maar die vraag is: Hou dit jou ys-vrieskas koel?
Kruip jy onder 'n kombers as jy warm kry?
Heelparty oortreksels pas nie styf genoeg óm die romp van 'n ys-vrieskas nie, met die gevolg dat hitte wat uit die verkoelingstelsel vloei, onder die materiaal beland, ondanks die luggate in die oortreksel.
Dan is sommige yskaskomberse boonop met weerkaatsmateriaal aan die binnekant uitgevoer - amper asof hulle juis die yskas wil warm maak, nes 'n knoffelbrood in foelie! As jy mooi daaroor nadink, moet die weerkaatsende laag eintlik aan die buitekant van die oortreksel wees om die son se hitte weg van die ys-vrieskas te weerkaats. Ons het ook al pikswart oortreksels gesien, wat 'n mens laat kopkrap.
Vir die heel beste resultate moet jy 'n ys-vrieskas bloot weg van direkte sonlig hou en seker maak die kondensator kry genoeg vars lug. As jy nie omgee dat jou Engel krapmerkies kry nie, of as jou Mobicool altyd in die skaduwee staan, is daar geen rede om 'n oortreksel te gebruik nie.

Wat de deksel?
'n Deksel wat aan sy agterkant oopskarnier, werk lekker vir kleiner yskaste wat tussen sitplekke staan sodat jy én jou reismaat toegang het tot die inhoud.
Middelslag- en groot ys-vrieskaste werk beter as die deksel na die kant toe oopskarnier. Groot ys-vrieskaste se deksels wat in die lengte oopskarnier, kap gewoonlik teen die luik van jou bakkie se kappie of die plafon van jou sportnuts. Dit keer natuurlik ook dat die deksel heeltemal oopmaak en dit is moeiliker om 'n lang varkrib of 2 l-bottel uit te haal.
Hou die deksel toegeknip wanneer jy reis, want selfs al is hy slegs op 'n skrefie oop, kan warm lug insypel - en dan moet die kompressor harder werk om die regte temperatuur te handhaaf.
Hou die deksel toegeknip wanneer jy reis, want selfs al is hy slegs op 'n skrefie oop, kan warm lug insypel.
Pak hom vol
Beplan jou spyskaart voor jy vertrek en pak die kos in die volgorde wat jy dit gaan eet - met ander woorde aand 5 se steaks lê heel onder terwyl aand 1 se hoendersosaties heel bo moet lê.
Moenie jou reismaat 'n skrobbering gee as die deksel té lank oopstaan nie. Met die oopmaakslag waai 'n klomp koue lug uit, ja, maar daarna lê dit rustig en gaan nêrens heen nie - dalk onthou jy jou skeinat-onnie wat verduidelik het dat koue lug daal en warm lug styg? As enigiemand egter onnodig in die ys-vrieskas rondkrap, gaan julle beslis koue lug verloor.
As jou ys-vrieskas mandjies het, moet jy hulle nie uithaal om plek te maak vir 'n ekstra pak boerewors nie omdat die mandjies lugsirkulasie bevorder.
Drankies in blikkies raak vinniger koud as in glasbottels omdat die hitte daarin vinniger deur die verkoelingstelsel weggevoer kan word.
Moenie leemtes los nadat jy iets uitgehaal en gebruik het nie; laai eerder nog 'n bottel water in pleks daarvan dat jy krag mors om lug koud te hou.

Maak vas

Moet nooit 'n ys-vrieskas los agter in jou bakkie of sportnuts vervoer nie, want hy gáán rondgly en beskadig word. En terwyl jy by Van Zylspas afry, wil jy beslis nie hê 'n swaargelaaide ys-vrieskas moet jou van agter af bestorm nie.
Juis om dié rede het sommige ys-vrieskaste voetstukke wat jy dan aan 'n vloer of glyraam vasbout. Dít is die beste manier om 'n ys-vrieskas te vervoer.
Ander ys-vrieskaste het spesiale lussies waardeur jy stroppe kan ryg, terwyl ander verlang dat jy stroppe aan die handvatsels moet vasbind. Laasgenoemde is nie wenslik nie, want die geskud op 'n slegte grondpad of 'n stamperige 4x4-roete gaan die handvatsels mettertyd die gees laat gee.
As jou ys-vrieskas op 'n glyraam in- en uitskuif, moet jy die kragkoord liefs na die bokant van die ys-vrieskas laat loop waar die glyraam dit nie kan vasknyp nie.
Probeer om jou ys-vrieskas so ver as moontlik van 'n venster af te monteer, selfs al is dit dan in die middel van jou sportnuts se laairuim of jou bakkie se kappie. En moenie dat enigiets die ys-vrieskas se luggate versper nie. As die kondensatorpyp nie van sy hitte ontslae kan raak nie, gaan jou proviand nie koud raak nie.
Vleispaleis

Vries braaivleis by die huis voordat jy dit in jou ys-vrieskas pak. Dit verlig die druk op die kompressor. Vakuumverpakte steaks moet óók gevries word. Moenie glo as iemand jou probeer wysmaak dit sal niks oorkom in 'n ammunisiekis nie. Bakterieë in vakuumverpakking kap onverpoos aan met slegs die bietjie suurstof in die spierweefsel.
Jy kan vleis uit die vrieshokkie na die yskashokkie oorplaas om dit stadig te laat ontdooi as jy beplan om dit eers die volgende aand te braai.
Vleis wat jy by 'n supermark koop, het dikwels 'n bloederige waterigheid in die verpakking. Gooi die afdryfsel weg en droog jou steaks met kombuispapier of servette af voor jy dit vries. Daai afdryfsel is 'n gunstige aanteelplek vir bakterieë.
As jy vars vleis in jou ys-vrieskas pak, moet jy die temperatuur so laag as moontlik stel - hoe kouer, hoe beter. As vleis stadig vries, vorm daar groot yskristalle in die weefsel wat die vleis slap en waterig maak wanneer jy dit later ontdooi. Draai eerder die termostaat af tot sy minimumtemperatuur tot die vleis kliphard gevries is, en draai die temperatuur terug na -18 ºC om krag te bespaar (terwyl die ensieme en bakterieë steeds sluimerend gehou word).
Ná jou vakansie moet jy jou ys-vrieskas deeglik skoonmaak en sy deksel vir 'n paar uur laat oopstaan sodat hy behoorlik kan uitdroog. Daarna kan jy hom bêre tot 'n volgende keer.
'n Bietjie geskiedenis

1824: Die Britse wetenskaplike Michael Faraday prakseer die heel eerste ammonia- verkoelde yskas.
1940: Yskaste raak gewild in huishoudings.
1960: Electrolux, 'n Sweedse maatskappy wat spesialiseer in elektriese toestelle, roep sy dogtermaatskappy Dometic in die lewe. Dometic ontwikkel Electrolux se kampyskaste verder (die soort wat jy in eertydse woonwaens kry), asook ander elektriese kampkatoeters. Dometic bou later ys-vrieskaste vir die Waeco- en ARB-handelsmerk.
1962: Die eerste ys-vrieskas soos ons hom vandag ken, word vervaardig deur die Sawafuji-maatskappy in Japan. Hy word bemark onder die Engel-handelsmerk en danksy sy lang geskiedenis kan jy Engel se ys-vrieskaste (en onderdele daarvoor) reg oor die wêreld aanskaf.
1989: Die Europese Instituut vir Bevriesing - in Frans Institut International du Froid - bevind -18 ºC is die ideale temperatuur waarteen vleis bevrore moet bly. Die rapper Vanilla Ice sing in dieselfde jaar die treffer "Ice Ice Baby".
2002: Suid-Afrika se eie National Luna is die eerste ys-vrieskasvervaardiger ter wêreld wat met onafhanklik verstelbare dubbelklimaatsones vorendag kom. Nou kan jy vleis teen -18 ºC hou en bier teen 4 ºC - alles in dieselfde ys-vrieskas.
2012: SnoMaster, 'n ander trots Suid-Afrikaanse maatskappy, brei uit na Australië en ander oorsese lande.

















