'n Voertuigsnorkel wat baie stof insuig lei gou tot 'n vuil lugfilter. Kyk dié blink plan om dit skoon te hou wat Wessel Cronje van Florida aan Weg Ry & Sleep gestuur het.
"Ek het 'n snorkel gekoop om die stof in my ryding se lugfilter te verminder. My vrou het toe vir my 'n sakkie van gaasmateriaal gemaak en dit volgemaak met "opstopwol" wat in klere gebruik word.
"Ek maak die sakkie aan die snorkel se inlaatstuk vas met kabelstroppe sodat dit nie in die pyp ingesuig word nie. Om nog meer stof op te vang, spuit ek 'n bietjie aanspuitolie op die sakkie sodat die stof daaraan kan vasklou.
"Selfs al ry ek nie baie grondpad nie, gebruik ek steeds die sakkie op die teerpaaie in die verkeer. Ná sowat drie maande op die teerpad is die sakkie ook vuil en moet dan net in die was gegooi word.
"Die enjin se lugfilter bly op dié manier silwerskoon."















