Ek en my lewensmaat, Steph Perrin, het laasjaar bykans die ganse Februarie in die wildtuin deurgebring.
Ons het in Satara gekamp en was een oggend douvoordag op pad uit toe ons 'n trop leeus knap buite die kamphek aantref.
Hulle het gedoen wat leeus die beste doen: slaap. Omtrent tien voertuie het reeds rondom die katte saamgedrom.
Ons besluit toe om met 'n wuif verby te hou in die hoop om iets meer opwindends te sien. Ons het suid gemik op die Satara-Tshokwane-pad en slegs 'n paar kilometer verder op die brug oor die Nwanedzirivier stilgehou.
Ons stop altyd op brûe, net ingeval 'n mens dalk 'n paar diere gewaar wat kom water drink. Dié oggend was daar slegs 'n alleenloper waterbok in die rivier.
Die bok het sommer ín die water gelê, iets wat ek nogal vreemd gevind het ondanks die feit dat ons hulle wáterbokke noem.
Die bok het 'n mooi weerkaatsing in die water gegooi en ek het my kamera uitgehaal om dit af te neem.
Net toe ek die lens op die afgedraaide ruit laat rus, het 'n massiewe stert uit die water verrys! Dis tóé dat alles sin maak. 'n Groot krokodil het die waterbok beetgehad. Dit was - selfs vir hóm - nie 'n maklike prooi om onder te kry nie en dit het gelyk asof die twee toutrek.

Die krokodil het sy tande net bo die bok se voorbeen ingesink, maar dit het gelyk asof hy nie 'n stewig genoeg greep het om die bok diepwaters toe te sleep nie.
Die krokodil het met 'n groot gespartel probeer om die bok om te rol en ons het gedink dis dan nou sy einde.

Dit was 'n nare ding om te aanskou; Steph kon dit byna nie verduur nie. Die water het 'n oomblik weer kalm geraak, en toe vlieg die waterbok op!
Die adrenalien het hom seker aangespoor om nog 'n laaste keer te probeer ontsnap ten spyte van die krokodil wat steeds aan sy ribbes hang. Die krokodil het skietgegee - waarskynlik om sy greep te verstewig - en dít was die waterbok se kans.

Die stomme dier het op drie bene kant toe gestrompel, die wal uitgesukkel en in die bosse verdwyn. Die krokodil het hom probeer agternasit, maar sonder enige sukses.
Die insident het skaars tien minute geduur, maar dit was 'n spanningsvolle tien minute!
En niemand anders het daarvan geweet nie. Selfs die motors wat in daardie tyd oor die brug gekom het, het niksvermoedend aangery.
Ons het die natuur in haar volle koelbloedigheid aanskou. Ná die tyd het ek en Steph 'n rukkie sprakeloos in ons motor bly sit, worstelend met ons gemengde emosies.
Dit was 'n genade dat die waterbok kon wegkom, maar dit sou waarskynlik steeds aan sy wonde beswyk ná 'n uitgerekte lyding.
Die verswakte bok sou ook nie nou 'n kans staan teen ander roofdiere soos hiënas of leeus nie. Ons het darem 'n tikkie simpatie met die krok gehad wat nou sy maaltyd kwyt was.

Vic Ives en Steph Perrin, Australië
Instagram: @nomads_weare
Ons het van Augustus 2019 tot in April 2020 deur Afrika gereis voordat Covid-19 ons gedwing het om terug te keer na Australië. Ons was aanvanklik skepties oor ons besluit om 'n lang tyd in die Kruger te vertoef siende só 'n gewilde reservaat dalk te bedrywig sou raak na ons sin. Maar die Kruger se vredigheid het ons aangenaam verras en die landskappe - veral in die noorde - het ons baie beïndruk.
WAT HET JY AL MET JOU EIE Oë GESIEN?
Stuur jou vertelling en reeks foto's van iets ongewoons wat jy in die natuur gesien het na toast@weg.co.za.



















