Buitelewe

’n Daktent duisend

Marleen Marais van Jacobsdal vertel haar broer, Bennie Badenhorst, is baie vaardig en het sy eie kampwaentjie gebou. Toe besluit sy as hy kan, kan sy ook.

"Ek het 'n klomp uitgawes van WegSleep onder oë geneem en gekyk hoe ontwerp die mense tente vir hulle boswaens - en toe my eie plan opgetrek om vir ons Jurgens LT670 'n daktent te maak.

"Eers het ek net die raamwerk op die waentjie se deksel laat vassit met die plank vir die bed se matras bo-op dit, en toe die tent om dit gebou en hom aan die raamwerk vasgemaak.

"Ek het net 'n gewone Elna-borduurmasjien (een wat kan stik) gebruik om die tent te maak en ek is bly om te sê hy was opgewasse vir die taak. Ek het gewone tentseil gebruik en op party plekke het my Elna getok-tok-tok. Ek het 'n dik naald ingespan en van daardie dik gare wat 'n mens vir stoelkussings gebruik.

"Ek het eers die sypanele gemaak, toe die dak en uiteindelik die vloer wat aan die sypanele vas is. Die vensters is van skadunet.

"Ek is iemand wat nie skrik vir naaldwerk nie en het self my trourok gemaak, maar hierdie was die eerste keer dat ek van naaldwerk spierpyne gekry het.

"Vir die tentpale het ek aluminiumpyp gekoop en vir die hoeke elmboogpasstukke gebruik. Die bostukke het ek by 'n kampwinkel gekoop. Ek het dit self gemeet en self gesny. Al die pale pas in die wa, behalwe die twee kombuispale wat te lank is. Vir hulle het ek uitskuifpype gemaak.

"Wanneer ons ry, het ek 'n seil wat oor die tent pas en dan plak ek hom onder vas met Velcro en trek hom met vier bande vas.

"Ek is 'n onderwyseres by die Hoër Landbouskool en het hoofsaaklik smiddae aan die tent gewerk. Dit het my uiteindelik sowat twee weke geneem om hom klaar te maak en hy het minder as R10 000 gekos.

"Ek is baie in my skik. Mense kom vra Selfgemaakte kampwoning waar ek hom gekoop het en dan sê ek 'n mens kan dié tent nêrens koop nie. Ek en my man, Gerhard, en my kinders, Esna en Sulé, kamp met hom. Ons sleep hom met my Toyota Corrola 1.6 en ons kamp meestal hier in Jacobsdal se omgewing. Ons probeer om een keer per maand by plekke soos Riverside, Orania en die Sandgat by Vanderkloof uit te kom."

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM