Foto's: Dirk Kok
Ek en my vrou, Marietjie, het groot planne oor waar ons oral wil gaan kamp. En vir al dié reise, na plekke soos die suide van Namibië en die Kaokoveld, het ons besef ons gaan 'n veldwoonwa nodig hê. Ons wil basies net 'n bed en kombuis hê en was nie bereid om 'n plaas se prys te betaal vir een nie. Daarom het ek toe maar besluit om self een te bou.
Ek het die asse, die wiele en die haak gaan koop en die res self gebou. Ek het die onderstel met 50 x 75 mm-reghoekpyp gebou en vir die raam van die woonwa 19 x 19 mm vierkantpyp gebruik. Ek het die mure en deure met aluminiumplate gemaak en die vensters is Perspex in staalrame. Aan die binnekant het ek spaanderbord op die vloer en teen die mure gesit.
Net mooi drie dae nadat ek begin bou het, het ek gesien daar's 'n maatskappy in Kaapstad wat basies dieselfde ding bou, maar van veselglas. As ek daardie advertensie drie dae vroeër gesien het, sou ek nie my wa gebou het nie en eerder in die Kaap een gaan haal het. Dit was nogal 'n taak en 'n half...

Ek is 'n elektrisiën van beroep en het al die elektriese werk self gedoen. Ek het vier driepuntkragproppe agter die linkerwiel aangebring. Ek het die wa ook nie van 'n plan af gebou nie. Ek het maar net begin en die ding so uit my kop uit klaargemaak. Aan die binnekant is daar net ons bed en 'n paar rakke aan die voetenent. Die bed is eintlik maar net 'n matras wat ons in 'n groot seilsak toerits. Dit werk goed, want ons maak die bed op voor ons vertrek, rits hom toe en daar gaan ons. Die wa het 'n deur aan elke kant; dus is daar 'n deur vir my en een vir my vrou om in die bed te klim - ons hoef nie oor mekaar te klim nie. Agter in die wa is die kombuis, waar ons 'n ys-vrieskas, tweeplaatstoof en pakplek het. Dit was 15 maande vandat ek begin het totdat ek hom die eerste keer op die pad gevat het. Hy het my uiteindelik hier digby die R33 000 gekos.
Die wa staan 1,8 m hoog en 1,85 m breed, en saam met die haak is hy 4 m lank. Hy weeg maar 400 kg en as hy gelaai is, is hy maar 200 kg swaarder. Dus sleep my Toyota Hilux 3.0 KZTE hom heel gemaklik.
Ek en my vrou het hom nou op 'n toetsrit gevat na Forever Phalaborwa Safari Park. Daar is 'n paar dinge wat ek gaan moet verander, maar niks te erg nie. Ons kan dit uitsorteer soos ons aangaan.
Ons is baie tevrede. Ons is oor die Sabiepas met hom en hy het hom goed gedra en lekker gehardloop."















