
Gerhard Genis van Pretoria gee raad oor hoe om weer nuwe lewe in ou en gebruikte goed te blaas.
Witwarm rooibos
Sit jou gebruikte teesakkies in die son om uit te droog. Wanneer hulle kurkdroog is, vat jy vier op 'n slag en sit dit saam met 'n kwartkoppie lampolie of paraffien in 'n banksakkie. Gebruik hulle as vuuraanstekers met jou volgende kamp- of braaivleisvuur.
Iemand vir blits-tennis?
Neem een dubbelblad koerantpapier (in totaal is dit vier A4-bladsy-groottes) en maak dit nat. Rol dit in 'n bondeltjie omtrent so groot soos 'n tennisbal en sit dit in die son om uit te droog. Doen dieselfde met 'n paar dubbelblaaie.
Week elkeen dan vir 'n rukkie in lampolie of paraffien en laat dit weer droog word. Plaas dan die balle in 'n plastieksak en knoop dit toe. Hulle brand lank!
'n Mini-skottel vir 'n kitsbraai
Lus vir 'n "boerie" langs die pad? Kry vir jou een van daai potjiekos-driehoekies en 'n Volla se naafdop. Nadat jy die wieldop se binnekant goed skoongewas het, kan jy 'n string wors binne-in sit en die spulletjie op die driehoekie plaas.
Sit nou so drie of vier koerantbolletjies (soos hierbo) onder die naafdop en steek dit aan. Binne 'n japtrap is jou wors sappig gaar en gereed vir die rolletjie en Miesies Balls se perskeblatjang.
En hier is raad om jou ketelbraai te beskerm
Ewige jeug
Jou ketelbraai sal langer hou as jy nie die brikette direk op die onderste rooster sit nie, maar eerder bo-op die rooster in oondbakke van swaardiens-foelie. Ek was albei roosters ook onmiddellik nadat ek dit gebruik het met warm water en opwasseep.
Wanneer alles droog is, spuit ek dit met "Spray 'n Cook." Ek gebruik ook nie draadborsels om hulle skoon te skrop nie. 'n Vriend wat twee jaar gelede sy braai op dieselfde dag as ek gekoop het, was verbaas om te sien hoe goed myne nog lyk.















