Buitelewe

Pamperlang jou potjie

Ons is almal vinnig by om te skep, maar heelwat skugterder wanneer dit tyd is om met die skottelgoed te help, veral as jy trommeldik geëet is aan die potjie wat oom Sarel gemaak het.

Die potjie wat ons vir dié artikel gebruik het, was in só 'n slegte toestand dat ons eerder die deksel teruggesit en besluit het om daarvan te vergeet. Schalk het ook sy gehawende steakpan beskikbaar gestel vir die artikel. 'n Laag roes het op die pan gevorm, en ondanks sy pogings om dit skoon te kry was daar steeds oranje vlekke.

As jy mooi daarna omsien en dit nie verniel nie - soos om koue water in warm kookware te gooi of dit gereeld te laat val - behoort jou gietysterprodukte vir jou leeftyd én selfs dié van jou kinders te hou. Hier is 'n manier om dit te onderhou. As jou metode van ons s'n verskil, laat weet ons gerus.

Opknapping en oonddroging (seasoning)

Jy benodig

• 3 l witasyn

• staalwol

• maasskuurder

• swaardiensskuurder

• koeksoda

• skottelgoedseep

• 'n oond waarin die potjie pas

• vlassaad- of druiwepitolie

• kombuispapier of twee sponsies

• rubberhandskoene

• sproeibottel

Só maak jy

Stap 1: Laat hom week

Dit hang hoofsaaklik van die toestand van die toerusting af. Vir Schalk se Beka-steakpan het ons 'n oplossing van die helfte water en helfte asyn gebruik en die pan deeglik daarmee gespuit voordat ons dit vir 'n halfuur in die wasbak laat week het.

Die Falkirk-nr. 3-potjie, 'n handelsmerk wat nie meer in Suid-Afrika beskikbaar is nie, het 'n uur lank in die oplossing geweek. Jy weet dit werk wanneer jy fyn borrels op die oppervlak sien en klein stukkies roes in die water begin dryf en dit verkleur.

Stap 2: Die eerste skrop

Die hardnekkiger roes en vuil kolle gaan 'n bietjie meer moeite verg, en daarvoor het jy staalwol en spierkrag nodig. Die pan was die makliker een van die twee om te skrop omdat hy nie heeltemal onder water was nie en 'n mens jou vordering beter kan dophou. Dit het sowat 10 minute gevat om werklike resultate te begin sien.

Wat die potjie betref, het ons hom uit die water gehaal en toe begin skrop. Dit was 'n operasie en 'n half, maar namate die roes en vuiligheid begin ingee het, het die oppervlak van die pot al hoe gladder geraak.

Spoel die besigheid met koue water af wanneer jy klaar is.

Stap 3: 'n Chemie-les

Maak seker die binneoppervlak van die pot en pan is nog nat ná die kouewaterstort en sprinkel dan lekker baie koeksoda oor. Ons gaan nie voorgee ons verstaan die chemie nie, maar in ons navorsing het ons gesien koeksoda is wat die meeste mense kies om gietyster diep skoon te maak.

Jy behoort dadelik te sien hoe borrels op die oppervlak van die gietyster vorm. Moenie verwag dat dit soos Eno gaan opborrel nie; dis eerder 'n baie klein geborrel wat jy van naby moet bekyk. Los die pan net so vir nog 30 minute. Gooi dan water en nog 'n bietjie koeksoda by sodat die onderste sentimeter of twee bedek is.

Die potjie was in die boonste twee derdes erg verkleur en ons het dit volgetap met water en koeksoda en dit vir altesame 'n uur laat staan.

Stap 4: Die tweede en laaste skrop

Gebruik nou die staalwol se fyner tekstuur om die kookware vir nog 10-15 minute te skrop. Sodoende raak jy van die laaste bietjie vuiligheid en roes ontslae. Trouens, jy sal sien hoe die water bruin word. Spoel die pot of pan uit en skrop weer tot daardie skuim witter word. Dit het in ons geval 'n verdere twee sessies geverg.

Nou is dit tyd vir die laaste stukkie skoonmaak, en hiervoor gebruik jy gewone skottelgoedseep, water en 'n skuurder. Moenie nou lui raak nie en moet ook nie die skuurder te hard teen die pot of pan se oppervlak druk nie - jy wil nie déúr die gietyster skrop nie. Maak net seker jy jou hom stewig vas en spoel die besigheid uit wanneer jy klaar is.

Stap 5: Maak hom droog

Druk jou gietysterpot met kombuispapier droog, maar wees versigtig dat jy nie te hard vryf nie. Jy wil nie hê klein stukkies papier moet loskom en aan die gietyster vasklou nie. Jy wil die pot klam hê, maar die water moenie drup nie. Nou plaas jy die pot of pan op 'n hoë vlam op jou gasstoof of kampstofie.

Jy behoort te sien hoe die gietyster effens droog word en selfs dalk 'n bietjie verkleur (dit het met ons s'n gebeur). Verhit jou oond tot sy maksimumtemperatuur (of so na aan 250 ºC as wat jy kan kom).

Stap 6: Oonddroging

Hierdie deel is nogal pret - 'n mens voel amper of jy weer in die kunsklas is. Gooi 'n eetlepel olie in die pot of pan en kantel dit dan in alle rigtings sodat die hele oppervlak - binne én buite - bedek is. Ons het vlassaadolie vir die steakpan gebruik en druiwepitolie vir die potjie, maar kon nie 'n werklike verskil in die resultaat sien nie. Gebruik ook 'n sponsie om die olie aan te wend. Wanneer die storie goed bedek is, gebruik kombuispapier om die olie af te vee.

As jou gietyster verkleur het met die droogmaakslag, sal jy nou sien hoe dit terugverander na die oorspronklike swart. Herhaal die proses om jou pot of pan gereed te kry vir die oond. Maak seker daar is nie oortollige olie nie en gebruik die kombuispapier om hom vir 'n laaste keer uit te vee. Daar is beslis 'n lagie olie, selfs al lyk dit nie so nie.

Stap 7: Raak warm

Sit die gietysterkookware onderstebo in die warm oond en los dit vir 'n uur. As jou oond nie hoër as 200 ºC kan gaan nie, kan jy dit vir nog 15 minute inlos. Maak seker daar is 'n drupbak onder om te keer dat enige oortollige olie op die oond se element beland. Hierdie stap laat die olie aan die gietyster bind om 'n beskermende laag te vorm.

Sit die oond af wanneer die proses klaar is en los die pot binne om saam met die oond af te koel. Jou eerste laag is nou suksesvol aangewend en jy sal die verskil sommer dadelik sien en voel. Dit staan jou egter vry om die proses te herhaal vir 'n tweede of selfs derde keer.

Pas hom nou mooi op

Voor
Voor

Elke keer wat jy met 'n soort vet kook, dra dit by tot nog 'n laag op jou pot. Die Engelse noem dit "seasoning". En dit is nie 'n slegte ding nie. Jy moet die pot net skoon hou - in die meeste gevalle is 'n spons en warm water voldoende. Maak seker die pot is ordentlik droog en bedek dit dan weer met 'n dun laag olie wanneer jy dit wegpak. Só hou jy roes weg.

Ná
Ná
Kyle Kock

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM