Buitelewe

Platpens in die modder

Ermanno Radice van Magaliesburg het aan Wegry vertel hoe hy en 'n vriend sy bakkie uit die modder moes grawe.

"Hierdie glipsie het gebeur terwyl ons op 'n toer deur KwaZulu-Natal, Swaziland en Mosambiek was. Ons het saam met die Handelinge 4x4-groep gery, met tien 4x4's op die toer.

"Op pad na Mosambiek het ons 'n aand by die Maguga-dam in Swaziland oorgeslaap en die volgende oggend besluit om die dam se oewer in ons bakkie te gaan verken.

"Die grond was sanderig en hard, maar ewe skielik was daar 'n ondergrondse moddersloot voor ons wat niemand kon sien nie. En daar sit die bakkie tot op sy pensplaat vas!

"Ek moet darem noem die groep waarmee ons saam toer is altyd reg om te help as daar moeilikheid is, maar daar was 'n probleem: Ons was 'n hele ent van die kamp af en daar waar ons vasgeval het, was geen selfoonsein nie. Dus was ons op onsself aangewese.

"Ek en my ou vriend Gerhardt Niewoudt moes toe maar grawe tot ons die bakkie uiteindelik kon loskry. Dit het omtrent 'n halfuur se lékker grouwerk gekos. En ek is dankbaar vir die agterste diff-lock - dit het ook baie gehelp!"

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM