Buitelewe

Raak só 'n kamp-kampioen

Waar kamp ek?

Voor jy net op die eerste beste plek kamp opslaan en see toe hol met jou visstok, hou die volgende in gedagte.

Bly hoog.

Vermy laagliggende plekke waar stormwater kan versamel of afloop. Onthou, selfs in die Kalahari is daar donderstorms.

Kyk boontoe.

As jy onder 'n boom staan, maak seker daar is nie los takke wat kan afwaai en op jou tent val nie. Lae takke kan jou tent skeur, en selfs ligte takkies wat in die wind wieg, kan jou nagrus versteur.

Pasop vir lugbomme.

Vermy bome wat vrugte en bessies dra of waarin voëlsslaap. Dis net lekker om onder 'n boom te kamp totdat die eerste advokado op jou kop land of 'n voël in jou Grand cru tjorts. Wees versigtig vir bome met voëlent.

Gebruik daai kompas-app.

Maak seker dat jy weet waar die son opkom en sak voor jy jou tent opslaan. Só kan jy besluit wanneer jou kampplek gaan son en koelte kry.

Windskuiling.

Wanneer die wind waai en ander beskutting min is, parkeer jou kar wind-op van jou tentjie sodat dit die ergste van die wind uit die pad kan skouer. Pak ook jou ammokiste onder jou kar om die wind te keer.

Maak dinge makliker:

Badkamermandjie.

Daar is nie altyd hakies of 'n bankie in 'n stort om jou badkamersakkie, skoon klere en handdoek droog en skoon te hou nie. Koop vir jou 'n plastiekmandjie by Plastics for Africa waarin jy al jou stortgoed kan sit.

Skoppie stof uit.

Die meeste tente se grondseiltjie keer dat jy ingetrapte gras en grond by die tent se bek kan uitvee. Onthou 'n handborsel en skoppie, en maak die twee met 'n tou aan mekaar vas.

Bly op die mat.

'n Stuk skadunet van ongeveer 4 x 3 m vat nie baie plek in jou kar nie. Slaan jou tentjie bo-op dit op sodat jy 'n skoon oppervlak reg rondom jou blyplek het. Dis goed vir jou gemoedstoestand as jou voete nie die heeltyd vuil word nie.

Dra 'n natte.

As dit baie warm word, draai 'n nat sarong om jou kop of nek of lyf - dit koel jou af. Gee vir jou kinders 'n spuitbottel vol water sodat hulle die grootmense se sarongs gedurig kan natspuit.

Moeite maak jou lewe korter.

Moenie vir 'n naweekkamp daai groot tent van jou saamsleep wat 'n halfuur vat om op te slaan nie. Koop 'n paar opskiettentjies (pop-ups) by 'n plek soos Makro. Kry ook vir jou 'n selfopblaasmatras - dan gaan dit jou skaars vyf minute vat om jou hele kamp op te slaan.

Stilte, asseblief.

Pak 'n stel oorpluisies sodat jy nie na die bure se middernagtelike gesaag van balke hoef te luister nie. Of na die gedoef-doef van die sokkiejol in die gemeenskapsaal oorkant die pad nie.

Slaap laat.

As jy tot agtuur wil slaap, maak seker jy slaan jou tent só op dat hy soggens vir 'n paar uur in die skaduwee gaan wees.

Lok bye weg.

As bye op jou kinders se koeldrank kom sit en hulle bangmaak, sit 'n glasie koeldrank so 'n entjie van die kampplek af sodat die bye eerder daar kan gaan keel natmaak.

Nog 'n noedel.

Sny 'n swembadnoedel in kort stukke en druk dit oor jou tentpenkoppe sodat niemand hulle tone stamp nie.

Outomatiese wasmasjien.

As jy toer, neem 'n emmer saam waarvan die deksel dig kan toemaak en gooi jou vuil wasgoed daarin. Vul dit kwartpad met water en 'n bietjie Omo, sit die deksel op en sorg dat dit goed geseël is. Terwyl jy ry, word jou wasgoed gewas deur die geskud van die voertuig! Spoel dit net by jou bestemming uit en hang dit op.

Maak 'n snaarstywe wasgoeddraad.

Knoop die een punt van jou wasgoedlyn aan 'n boom vas en maak 'n lus aan die ander punt. Maak die lus aan 'n ander boom vas met 'n sperratstrop (ratchet strap) wat aan homself vas is. Katrol jou wasgoedlyn só styf dat jy middel-C op hom kan speel.

Goedkoop lig is ook goeie lig.

Jy hoef nie 'n peperduur lig by 'n buitelewewinkel te koop nie. Koop sommer een van daai werkligte wat motorwerktuigkundiges gebruik en hang hom in 'n boom of oor 'n tentpaal.

Gebruik die opskiet-asblik.

As jy een van daai opslaan-vullishouers het, kan jy dit gebruik as 'n noodwindskerm vir jou gasstoof. Jy sit die hele gasbottel - met plaat en al - binne-in die vullisblik.

Het jy nog 'n paar lekker wenke vir groentjie-kampeerders? Stuur jou wenke na digitaal@weg.co.za!

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM