Buitelewe

Sleep só sonder liksens

Die Moremi is gemik op kampeerders met 'n kode B-rybewys, maar ook op paartjies. Jy kry dus 'n dubbelbed-op-wiele mét geriewe soos 'n ys-vrieskas en ingeboude tweeplaatgasstoof.

Jan Venter, eienaar van Custom Canopies and Trailers, wat ook die Lion's Den-reeks bou, slaan met dié sleepding twee vlieë met een klap: Die Lite-model is 'n klein boswoonwa, terwyl die XLT-model 'n Lite is wat as 't ware middeldeur gesny is met 'n daktent bo-op.

Nag, ou grote

Die Moremi kry 'n staalonderstel, met die hele romp wat van aluminium gebou word. Die Lite se deur sit in die stert en 'n tweetrapleer staan opgevou teen die romp. Jy moet dit eers platslaan voor jy die deur soos 'n vlerk na bo lig, amper soos 'n Lamborghini se deure.

Volgende lig jy die dak. Ook hier word die unieke opswaaidakke van die Lion's Den-modelle ingespan. Die dak lig tot hy amper haaks is met die romp, waarna 'n aluminiumraam links in die opening opslaan om die tent netjies te span. Weerskante van die deur voor jou is drie kassies elk, en verder vorentoe lê die matras van kant tot kant.

Die koppenent is op die verste punt aan die disselboom se kant, en aan elke kant is 'n smal skuifvenster van 23 x 12 cm. Die glyraam met die ys-vrieskas, tweeplaatgasstoof en laaie vir die messegoed gly by die neus uit die linkerpaneel. Bo die wiel slaan 'n smal rak plat wat as werkblad dien. In die regterpaneel is 'n tweede glyraam met plek vir tot vier ammunisiekiste, en 'n raam wat by die stert weg van die romp af swaai, vorm die storthokkie.

Platter op die aarde

Wat vorm en uitleg betref, is die XLT byna 'n kloon van die Lite se onderkant, maar hy's 30 cm korter, 15 cm smaller en 1,2 m laer. In dié wa slaap jy bo-op die wa en nie binne- in nie. Hy kry dieselfde opswaaidak, maar jy klim nou aan die linkerkant met 'n leer op die bed.

Hiernaas pas 'n vierkantige tent wat jy in 'n binnevertrek kan omskep. Net soos by die Lite, trek die glyraam met die ys-vrieskas en stoof links uit, met die werkblad wat ook plat bo die wiel uitslaan. Die XLT se tweede glyraam word uit die stert getrek pleks van die regterpaneel, en hier is 'n laai met plek vir vier ammokiste.

Die ekstras

XLT

Volledige kombuis op 'n glyraam R7 500, tweeplaatgasstoof R3 500, glyraam vir vier ammokiste R4 500, battery R3 500, 35 l-SnoMaster-ys-vrieskas R8 500, en tent R8 500.

Lite

Dieselfde pryse vir die ys-vrieskas en tweeplaatgasstoof, plus induksiestoof R4 200, gasbraai R7 000, 270°-stoeptent R14 500, storthokkie R3 500, sonpaneel R2 800, en battery met laaistelsel R5 500. Inloopremme op albei kos R10 000 ekstra.

Bo-op of binne-in?

Die Moremi is in twee modelle beskibaar: Die Lite is 'n klein boswoonwa en jy slaap binne-in. Die XLT is omtrent 'n Lite wat middeldeur gesny is, en jy slaap bo-op in sy daktent. Albei modelle het 'n brutovoertuigmassa (BVM) van 750 kg. Dit beteken jy kan die Moremi sleep met 'n rybewys vir 'n gewone motor.

VAN DIE MEDEDINGERS: Klein woonwaens vir 2 met oopslaandak en BVM van 750 kg

MOREMI LITE

  • R109 900
  • BVM 750 kg

Aloe Peri Peri

  • R172 344
  • BVM 750 kg
  • Inloopremme is standaard en die kombuis is agter langs die deur.

Jaguar Zazu-2

  • R185 000
  • BVM 750 kg
  • Die bed slaan uit die regterpaneel.

Gypsey Lite Impi

  • R175 213
  • BVM 750 kg
  • Inloopremme is ook standaard, en dit is een van die min padwoonwaens wat jy kan kies.

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM