Buitelewe

Só ry jy modder

Dit klink dalk na pret om in die modder te speel, maar dit kan jou voertuig se onderdele beskadig en op die lang termyn roes veroorsaak. Volg hierdie stappe om jou veilig aan die ander kant van die modderpoel te kry.

1. Evalueer die hindernis

  • Kyk die kat uit die boom. Inspekteer die hindernis en kyk watter soort modder dit is. Dit kan 'n harde, growwe oppervlak hê wat veilig lyk, maar waarin jy gaan vassit sodra jou bande die boonste laag deurgedring het. Sagte modder het weer soms 'n harde basis 'n entjie dieper.
  • Trap in (j)ou spore. Probeer in die spore van die voertuig voor jou bly. Die wiele het moontlik reeds die modder kompak gemaak.
  • Water is beter as modder. As die hindernis 'n water- én 'n modderkant het, is die water dalk 'n beter keuse. Die grondoppervlak is moontlik op daardie plek te hard om die water te absorbeer, wat goeie vastrapplek vir jou ryding behoort te bied.

2. Maak seker oor jou bande

Smal, harde bande vaar gewoonlik beter as breë bande waarvan die banddruk verminder is. Modder het gewoonlik 'n stewiger basis onder, en jou bande moet deur die modder sny om vastrapplek op die basis te kry. As jy egter mooi kyk en sien die hindernis het 'n kors en 'n diep poel modder onder die kors, verlaag jou banddruk om die kontakdruk te verminder en jou voertuig oor die modder te laat "dryf".

3. Kies die regte rat

Die tweede rat in laestrek is gewoonlik die beste. Moenie jou agterste ewenaarslot aanskakel nie, want dit mag dit moeiliker maak om te stuur as die oppervlak glibberig is.

As jy dink jy gaan dalk vassit, maak 'n tou aan die voertuig vas voordat jy deur die hindernis ry. Dit kan dalk voorkom dat jy later in die modder moet rondkruip om 'n tou vas te maak.

4. Kry momentum

In die meeste gevalle het jy momentum nodig om deur modder te ry. Behou die hele tyd momentum, maar ry stadig - jy kan gly en beheer verloor of omslaan as jy jaag. As jy nie eers deur die hindernis geloop het nie, kan jy 'n gat of rots in die modder tref en so jou ryding of sy bande beskadig.

Moenie die stuurwiel te styf vashou en die ryding in 'n rigting in forseer nie. Voel die terugvoer van die wiele op jou stuurwiel en volg die weg van die minste weerstand.

Jou wiele moet tol om jou deur die hindernis te kry, maar ook nie te veel nie, want dan het jy nie genoeg vastrapplek nie. Veral modderbande het 'n vinnige tol-aksie nodig sodat die modder uit die groewe gegooi kan word. As die wiele te vinnig begin tol, verminder jou krag sodat die wiele weer vastrapplek kan kry. Jy kan ook die stuurwiel baie liggies van links na regs beweeg om die greep van die knoppe en groewe op die band se rand en sywande te benut. Dit werk die beste met 'n aggressiewe bandpatroon soos dié van modderbande.

5. As hy nie roer nie

As jy vassit, probeer terugry in jou eie spore. Dit help dalk ook om jou ryding rustig vorentoe en agtertoe te laat beweeg. As dit nie werk nie, moenie jouself verder begrawe nie. Begin eerder met die herwinning.

Gebruik sandlere (as jy het), takke, gras of hout om 'n bietjie vastrapplek onder die wiele te kry. Jy kan ook jouself probeer uitgrawe, maar as jy goed vasgeval het, gebruik 'n kinetiese tou of 'n wen-as.

Diep modder "suig" soms jou ryding vas, daarom help dit ook om hom met 'n hooglig-domkrag op te tel. Maar bogenoemde dinge het 'n element van gevaar, daarom is dit raadsaam om modder eerder met 'n ompad te vermy, waar moontlik.

6. Spoel weer af

Modder kan in seëls, remdromme en ewenaarslotte beland, en daarom moet jou ryding agterna sou gou as moontlik skoongemaak word. Sommige soorte modder het 'n hoë sout- en suurinhoud, wat jou bakwerf kan vlek en roes kan veroorsaak.

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM