Buitelewe

Tentkamp vir groentjies

Ervare kampeerders is al vertroud hiermee, maar as jy ons tydskrif vir die eerste keer onder oë het, is hier waardevolle raad vir jou. Ons het almal foute gemaak aan die begin, maar hier vertel ons jou daarvan sodat jy nie jou kop hoef te stamp nie.

Die regte dak oor jou kop

Moenie alles glo wat jy sien nie. As ses van julle gaan kamp, is 'n sesmantent te klein. Tentvervaardigers verwys letterlik na die getal mense wat langs mekaar ingeryg kan word.

As jy dus jou skool se gewigstootkampioen was en jou wederhelfte het die prys by die kerkbasaar gewen vir die lidmaat wat die meeste boereworsrolletjies kan eet, moet julle liefs nie 'n tweemantent aanskaf nie.

Deel eerder die vervaardiger se syfer deur twee om te sien watter grootte tent julle nodig het. Koop dus 'n agtmantent vir 'n gesin van vier. So is daar meer ruimte om darem 'n bietjie te kan rondbeweeg wanneer jy aantrek of in die nag moet opstaan om 'n draai te loop.

Ry & Sleep sê

Slaan jou tent by die huis op voor jy die eerste keer met hom gaan kamp, veral as dit 'n ingewikkelde storie is. Só weet jy wat om te verwag wanneer jy by die kampterrein aankom.

Kry jou lê

Die regte bed speel 'n enorme rol om 'n goeie nagrus te verseker.

Jy mag dalk in die versoeking gelei word om 'n dun sponsmatras of selfs 'n jogamat op die proef te stel, maar uit ondervinding kan ons jou die versekering gee dit is nié 'n goeie plan nie. Belê eerder in 'n kampbed of opblaasmatras van 'n hoë gehalte.

Onthou, hoe nader jy aan die grond is, hoe nader is jy aan die nag se koue. Probeer dus om 'n bietjie afstand tussen jou en die tentvloer te bewerkstellig.

Jy moet ook seker maak jy is voldoende toegerus vir die seisoen. Jy moet jou liggaam isoleer om die hitte binne te hou - trek dus lae klere aan óf skaf vir jou 'n ordentlike slaapsak aan.

Moet ook nie lê en rondrol wanneer jy 'n draai moet loop nie. Gaan doen dit eerder en kry klaar, want jou liggaam verbrand energie om die urine in jou blaas warm te hou.

Ry & Sleep sê

Pak 'n waterpas in om seker te maak jy slaap op 'n gelyk oppervlak. As dit nie kan nie, slaap met jou kop bo jou voete. Dit sorg vir beter bloedvloei.

Laat daar lig wees

Sommige kampplekke is snags genoeg verlig sodat jy nie in die donker oor jou voete val nie. Maar ander het nie, en hiervoor moet jy voorsiening tref. Maak seker jy het minstens twee herlaaibare kampligte of flitse wat jy in die middel van die nag kan gebruik wanneer die natuur roep. Een is vir die binnekant van die tent en die ander om vir jou die pad na die ablusieblok te verlig.

Ry & Sleep sê

Jy kan 'n hakie gebruik om jou lantern of koplampie uit die tent se dak te hang. Só skep jy 'n bietjie lig vir almal, eerder as een ou wat een straal oor en weer skyn.

Elke ding op sy plek

As iets nie op die tentvloer hoef te wees nie, moenie dit daar sit nie.

Gebruik die sysakkies vir noodsaaklike dinge soos 'n warm kledingstuk of jou foon, beursie, sleutels en flits.

Verstaan jy nou hoekom jou tent groot genoeg moet wees? Jy wil regtig nie oor mense klim en klouter as jy die ablusiegeriewe in die middel van die nag moet besoek nie.

As jou tent 'n klein stoepie voor die deur het, kan jy goed soos jou skoene vir die nag daar los. Dit help ook om die vloer binne skoon te hou. Onthou ook om seker te maak ten minste die gaasvensters is toegerits wanneer jy vanaand in die bed klim. Dit is niemand se idee van pret om in die middel van die nag deur 'n lastige muskiet wakker gemaak te word nie.

Ry & Sleep sê

Raak ontslae van jou vullis en bêre die oorskiet van vanaand se braaivleis in houers wat dig seël. Los dit dan onder die gazebo of selfs in die kar. Jy wil nie in die nag hoor hoe een of ander dier spook om by jou tjoppie vir môreoggend uit te kom nie.

Moenie van die dag vergeet nie

Enige kampeerder sal vir jou sê hoe belangrik dit is om die regte staanplek of kampkol te kry wanneer julle gaan uitspan. Kyk dus mooi waar jy jou tent gaan staanmaak.

As jy naby aan enige soort water is, maak seker jy is nie in die pad van waar die water loop wanneer dit hard reën nie.

Nog iets om in ag te neem is waar die koelte in die middel van die dag gaan val. Sommige van ons hou tog daarvan om weg te glip vir 'n middagslapie. Die son kan egter daardie slaapsessie erg onderbreek as jy nie in die koelte is nie.

'n Seiltent laat minder lig deur as een van nylon, maar is ook aansienlik warmer binne as hy in die son staan en bak. Jy kan dit ook oorweeg om 'n gazebo oor jou tent op te slaan of skadunet bo-oor te span as daar nie 'n koelteboom naby is nie.

Ry & Sleep sê

As jy sukkel om kop of stert uit te maak van waar die son wanneer gaan wees, is 'n kompas die antwoord. Só kan jy sien waar die son in die oggend gaan opkom (ahem… dis in die ooste) en so kan jy bepaal hoe die koelte in die middag gaan val.

Kyle Kock

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM