Die meeste D-SLR-kameras het 'n wieletjie aan die bokant met verskillende ikone. Nes die stuurkajuit van 'n vliegtuig is dit híér waar die vlieëry gebeur.
Indien jou kamera nié dié wieletjie het nie, sal jy dalk die ikone êrens anders kry - as knoppies of in die "Menu"- funksie. Lees jou kamerahandleiding.
Die wieletjie
SCN "Scene"
Die meeste kameras het verskillende "Scene"-modusse waaruit jy kan kies: "Sunset", "Fireworks", "Candlelight", "Toy Camera", "Antique" ensovoorts. Elke verstelling is anders en daar is sommige wat beter werk as ander, maar die enigste manier om dít uit te vind, is om te eksperimenteer.
"Night"
Dié modus is vir 'n aandjie uit. Dit maak gebruik van "slow sync flash". Dís hoe dit werk: Jou kamera neem 'n foto met die flits sodat die voorwerpe voor belig word, maar dit hou ook die sluiter oop om van die toneel se natuurlike lig vas te vang. As jy self jou kamera vashou, kan daar 'n blur in die foto wees as gevolg van die
beweging in die toneel, maar as jy 'n driepoot gebruik, sal dié voorwerpe reg belig word én jy sal die liggies van die Nelson Mandelabrug doer agter kan sien.
"Video"
Met dié modus gebruik jy gewoonlik die sluiterknoppie om die video-opname te begin en te stop, hoewel daar 'n paar kameras is wat 'n spesifieke knoppie het om 'n video op te neem.
"Macro"
Gebruik dié modus as jy wil hê jou fotoalbum van die Namakwalandse blomme moet die res van die familie groen van jaloesie maak. Dié modus laat weet jou kamera dat jy op iets baie naby aan die lens gaan fokus en maak die nodige verstellings aan die beligtingmeterfunksie en flits om die regte beligting te verseker.
Die "Macro"-modus is gewoonlik net beskikbaar op 'n kompakte mik-en-drukkamera.
Hoe na jy aan jou voorwerp kan kom met jou D-SLR-kamera hang af van die sort lens wat jy gebruik.
"Landscape"
Met die "Landscape"-modus is jy verseker van die skerpste moontlike foto − of jy nou die stad afneem of 'n veld vol kosmosblomme. Jou kamera sal 'n nou lensopening kies om 'n maksimumvelddiepte te verseker, die "Infinity"-verstelling sal gekies word om te fokus en die beligtingmeterfunksie sal moontlik na multi-area verstel word sodat jy die beste beligting vir 'n toneel met ligte en donker dele kan kry.
Wees versigtig wanneer jy die "Landscape"- modus gebruik. Omdat dié modus outomaties 'n smal lensopening kies, is die gevolg dat die sluiterspoed baie stadig is en wanneer jy jou kamera met die hand vashou, kan dit moontlik kameraskudding veroorsaak. Daarom moet jy jou kamera ondersteun wanneer jy dié modus gebruik.
Gebruik 'n driepoot as jy een het of balanseer jou kamera op 'n plat oppervlak.
Met betrekking tot fokus, kies die kamera die "Infinity"-verstelling, wat beteken dat hierdie modus goed werk wanneer jy byvoorbeeld deur glas 'n foto wil neem (soos byvoorbeeld deur 'n vliegtuig se venster), deur 'n heining of enige ander situasie waar fokus moontlik problematies kan wees.
Gebruik dus die "Landscape"-modus as jy vinnig iets wil afneem en die outomatiese fokus sukkel.
"Portrait"

'n Goeie portret is waar die voorwerp in fokus is en byna geen afleiding in die agtergrond nie.
Wanneer jy die "Portrait"-modus kies, kies jou kamera outomaties 'n wye lensopening sodat die voorwerpe in die agtergrond uit fokus is en nie die hoofvoorwerp oordonder nie. Die beligtingsmeterfunksie sal ook moontlik verander word na die middelpuntmeterfunksie om te verseker dat die voorwerp reg belig word.
WENK: Die "Portrait"-modus werk goed vir diere. Dit trek jou aandag na hulle gesig terwyl die voor- en agtergrond ge-blur is.
"Action"
Hierdie modus kan ook bekend staan as "Sport"-modus en sê vir die kamera om die vinnigste moontlike sluiterspoed te gebruik.
Dit maak ook die nodige verstellings dat jou kamera outomaties vinnig ná mekaar 'n klomp foto's kan neem. Dit vermeerder jou kanse op 'n skerp foto van die rugbywedstryd of jou woelige peuter.















